Jeremia 18:1-12

Jeremia 18:1-12 AFR20

Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe 'n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak. Toe het die woord van die HERE tot my gekom: “Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die HERE. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel. Een keer dreig Ek om 'n nasie en 'n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan. Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen. 'n Ander keer sê Ek oor 'n nasie en 'n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen. Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die HERE: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ’ Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ”