JEREMIA 18:1-12

JEREMIA 18:1-12 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na die ateljee van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe na die ateljee van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerskyf te werk. Maar die pot wat hy besig was om te maak was nie reg volgens sy smaak nie. Hy het toe die klei weer inmekaargedruk totdat dit ’n bol was. Daarna het hy weer begin om ’n nuwe pot te vorm wat was soos hy dit wou hê. Die Here het toe vir my ’n boodskap gegee wat met die klei te doen gehad het. Hy het gevra: “Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei gemaak het nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker is om daarmee te maak net wat hy wil, so is julle in my hande. As Ek in ’n stadium sê dat Ek ’n sekere nasie of ’n regering van ’n land omver sal gooi, sal afbreek en vernietig, kan Ek dit doen. Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarmee hulle besig is, sal Ek hulle nie inmekaardruk soos Ek eers wou nie. Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal opbou en groot en sterk sal maak, dan kan Ek dit doen. As die nasie egter verkeerde goed begin doen en nie aan My gehoorsaam is nie, sal Ek sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek eers beplan het dit moet nie. Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en Jerusalem, die Here sê: Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou in die verkeerde koers waarop julle nou is nie. Hou op om verkeerd te doen en doen wat reg is. Dit geld vir een en almal van julle.” Maar hulle het geantwoord: “Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil. Ons sal ons eie kop volg en doen wat ons wil, al is dit kastig sleg.”

JEREMIA 18:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om 'n stuk werk op die skywe te maak. En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk — soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker — maar hy het daaruit weer 'n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Sal Ek nie soos hierdie pottebakker met julle kan maak nie, o huis van Israel? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, o huis van Israel! In een oomblik sal Ek spreek oor 'n nasie en oor 'n koninkryk om dit uit te ruk en om te gooi en te vernietig; maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen. En in 'n ander oomblik sal Ek spreek oor 'n nasie en oor 'n koninkryk om dit te bou en te plant; maar as hulle doen wat verkeerd is in my oë deur na my stem nie te luister nie, dan sal Ek berou hê oor die goeie waarmee Ek gesê het dat Ek aan hulle goed sal doen. Sê dan nou tog aan die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem dit: So spreek die HERE: Kyk, Ek maak onheil gereed teen julle, en Ek dink 'n plan uit teen julle; bekeer julle tog, elkeen van sy verkeerde weg, en maak julle weë en julle handelinge goed. Maar hulle sê: Dit is tevergeefs; want ons sal na ons gedagtes wandel, en ons sal elkeen volgens die verhardheid van sy bose hart handel.

JEREMIA 18:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Maak gereed en gaan af na die pottebakker se huis; daar sal Ek jou my woorde laat hoor.” Ek het toe afgegaan na die pottebakker se huis; hy was juis besig om iets op die pottebakkerswiel te maak. Maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het onder die hand van die pottebakker misluk. Hy het toe 'n ander houer gemaak, soos die pottebakker dit goed gedink het om te maak. Toe het die woord van die HERE tot my gekom: “Is Ek nie in staat om soos hierdie pottebakker met julle te maak nie, huis van Israel?” is die uitspraak van die HERE. “Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, huis van Israel. Een keer dreig Ek om 'n nasie en 'n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan. Maar as daardie nasie teen wie Ek die bedreiging uitgespreek het, hom bekeer van sy boosheid, sal Ek jammer wees oor die onheil wat Ek beplan het om hom aan te doen. 'n Ander keer sê Ek oor 'n nasie en 'n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen. Sê dan nou tog vir die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem, ‘So sê die HERE: “Kyk, Ek maak onheil gereed vir julle, en beraam planne teen julle. Draai tog terug, elkeen van sy verkeerde pad, en laat julle doen en late goed wees.” ’ Maar hulle sal sê, ‘Tevergeefs! Want ons eie planne wil ons volg, en elkeen van ons wil volgens die verstoktheid van sy eie bose hart optree.’ ”

JEREMIA 18:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het en gesê het: Staan op en gaan af na die pottebakker se huis, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor. Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en kyk, hy het 'n werk aan die wiele gedoen. En die voorwerp wat hy van klei gemaak het, was in die hand van die pottebakker ontsier; daarom het hy dit weer 'n ander voorwerp gemaak soos dit goed was in die oë van die pottebakker om dit te maak. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: O huis van Israel, kan Ek nie met julle doen soos hierdie pottebakker nie? spreek die HERE. Kyk, soos klei in die hand van die pottebakker is, so is julle in my hand, o huis van Israel! In watter oomblik sal Ek spreek oor 'n nasie en oor 'n koninkryk, om dit uit te ruk en af te breek en om dit te vernietig; As daardie nasie teen wie Ek gespreek het, bekeer van hulle boosheid, sal Ek berou hê oor die kwaad wat Ek gedink het om hulle aan te doen. En in watter oomblik sal Ek spreek oor 'n nasie en oor 'n koninkryk, om dit te bou en te plant; As dit doen wat verkeerd is in my oë en nie na my stem luister nie, dan sal ek berou hê oor die goeie waarmee ek gesê het dat ek hulle sal bevoordeel. Gaan dan nou na, spreek met die manne van Juda en met die inwoners van Jerusalem en sê: So spreek die HERE; Kyk, Ek beraam onheil teen julle en beraam 'n plan teen julle; bekeer tog elkeen van sy verkeerde weg en maak julle weë en julle handelinge goed. En hulle sê: Daar is geen hoop nie, maar ons sal volgens ons eie planne wandel, en elkeen sal die versinsels van sy bose hart doen.

JEREMIA 18:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Gaan na die werkplek van die pottebakker. Daar sal Ek met jou praat.” Ek het toe na die werkplek van die pottebakker gegaan en hom gekry waar hy besig was om op die pottebakkerswiel te werk. Maar die pot waarmee hy besig was, was nie ’n sukses nie. Hy het toe die klei inmekaargedruk en weer begin om ’n nuwe pot te vorm soos hy dit wou hê. Die HERE het toe vir my ’n boodskap gegee. Hy het gevra: “O Israel, kan Ek nie met julle net so maak soos die pottebakker met die klei maak nie? Kyk, soos die klei in die hande van die pottebakker, so is julle in my hande. Dit kan wees dat Ek in ’n stadium sê Ek sal ’n sekere nasie of ’n regering omverwerp, afbreek en vernietig. Maar as hulle ophou om die verkeerde dinge te doen waarvan Ek gepraat het, sal Ek hulle nie verwoes soos Ek aanvanklik wou nie. Aan die ander kant, as Ek sê dat Ek ’n sekere nasie of regering sal vestig, opbou, groot en sterk maak, maar die nasie begin verkeerde dinge doen en My nie gehoorsaam nie, sal Ek nie dan sorg dat dit nie met hulle goed gaan soos Ek van voorneme was nie? “Jeremia, gaan sê vir die mense van Juda en die inwoners van Jerusalem dat die HERE sê: ‘Ek is besig om planne te maak om julle te straf. Moenie langer aanhou op die verkeerde koers wat julle ingeslaan het nie. Julle almal moet ophou om verkeerd te doen en begin doen wat reg is.’ Maar die mense het geantwoord: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons sal aanhou lewe soos ons wil en ons eie oordeel volg, al is dit verkeerd.’”