Jeremia 10:1-10

Jeremia 10:1-10 AFR20

Hoor die woorde wat die HERE oor julle uitgespreek het, huis van Israel! So sê die HERE: “Moenie die gebruike van die nasies aanleer nie; vir tekens aan die hemelruim moet julle nie bevrees wees omdat die nasies daarvoor bevrees is nie. Ja, die gebruike van die volke, dit is nietig; want hulle kap 'n boom in die bos af – die handewerk van 'n ambagsman met 'n byl. Met silwer en goud versier hulle dit, met spykers en hamers maak hulle dit stewig, sodat dit nie wankel nie. Die beelde is soos 'n palmboom van pletwerk. Hulle kan nie praat nie, hulle moet gedurig gedra word; want hulle kan nie 'n voet versit nie. Moenie vir hulle bang wees nie, want hulle kan nie skade aanrig nie; en om goed te doen bestaan ook nie by hulle nie.” Nie een is soos U nie, HERE. U is groot, en u Naam is groot in krag. Wie sou nie vir U ontsag hê nie, Koning van die nasies? Ja, vir U is dit van pas, want onder al die wyses van die nasies en in al hulle koninkryke, is daar niemand soos U nie. In een opsig is hulle dom en dwaas: Die vermaning deur nietige afgode kom van 'n stuk hout! Die silwerbeslag word uit Tarsis gebring, die goud uit Ufas. Dit is die werk van 'n ambagsman; dit kom uit die hande van 'n goudsmid. Pers en purperrooi is die afgode se klere; dit is alles die werk van vaardige vakmanne. Maar die HERE is waarlik God, Hy is die lewende God en ewige Koning. Vir sy grimmigheid bewe die aarde, en nasies kan sy verontwaardiging nie deurstaan nie.