Rigters 8:18-35

Rigters 8:18-35 AFR20

Daarop het hy vir Sebag en Salmunna gevra: “Van waar was die manne wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle sê toe: “Hulle was soos u; elkeen met die voorkoms van 'n koningseun.” Toe sê Gideon: “Dit was my broers, seuns van my ma. So waar as die HERE leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.” Daarop sê hy vir Jeter, sy eersgeborene: “Staan op; maak hulle dood!” Die jong man het egter nie sy swaard getrek nie, want hy was bang – hy was immers nog maar 'n seun. Sebag en Salmunna sê toe: “Staan jý op en val ons aan, want iemand se krag wys of hy 'n man is. ” Gideon staan toe op en maak Sebag en Salmunna dood. Hy het die halfmaantjies gevat wat aan die nekke van hulle kamele was. Die manne van Israel het toe vir Gideon gesê: “Heers oor ons, u sowel as u seun en kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.” Maar Gideon het hulle geantwoord: “Dit is nie ek wat oor julle sal heers nie, en my seun sal ook nie oor julle heers nie. Die HERE alleen heers oor julle. ” Gideon het ook vir hulle gesê: “Ek wil aan julle 'n versoek rig: Gee elkeen vir my 'n ring uit sy buit.” Die Midianiete het goue ringe gehad, want hulle was Ismaeliete. “Ons gee dit graag!” sê hulle, en sprei 'n oorkleed oop. Elkeen het 'n ring uit sy buit daarop gegooi. Die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was eenduisend sewehonderd sikkel goud; dit was afgesien van die halfmaantjies, die oorbelle en die purperrooi kledingstukke wat die Midianitiese konings gedra het, en afgesien van die kettinkies wat aan hulle kamele se nekke was. Daarmee het Gideon 'n efod gemaak en dit in sy tuisdorp, in Ofra, opgestel. Die hele Israel is daar deur die efod tot afgodsdiens verlei; en dit het vir Gideon en sy huis 'n valstrik geword. So het die Midianiete die knie gebuig voor die Israeliete. Hulle kon nie weer hulle koppe oplig nie. Die land het veertig jaar lank rus gehad in Gideon se leeftyd. Jerubbaäl, seun van Joas, het in sy eie huis gaan woon. Gideon het sewentig seuns gehad wat hy verwek het, want hy het baie vroue gehad. Ook sy byvrou wat in Sigem was, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy het hom Abimeleg genoem. Gideon, seun van Joas, het op 'n hoë ouderdom gesterf. Hy is in die graf van Joas, sy vader, begrawe in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Maar net nadat Gideon dood is, het die Israeliete weer agter die Baäls aan gehoereer. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. Die Israeliete het nie meer gedink aan die HERE hulle God wat hulle gered het uit die hand van al hulle vyande rondom hulle nie. Hulle het ook nie trou bewys aan die huis van Jerubbaäl, dit is Gideon, vir al die goeie dinge wat hy aan Israel gedoen het nie.