RIGTERS 8:18-35

RIGTERS 8:18-35 Bybel vir almal (ABA)

Daarna het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Hoe het die mans gelyk wat julle in Tabor doodgemaak het?” Sebag en Salmunna sê toe: “Hulle het gelyk soos jy. Hulle het gelyk of hulle 'n koning se seuns is.” Gideon het gesê: “Hulle was my eie broers. So seker soos die Here lewe, as julle hulle nie doodgemaak het nie, dan sou ek julle nie doodgemaak het nie.” Hy sê toe vir sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood.” Maar die jongman het nie sy swaard uitgehaal nie. Hy was bang, want hy was nog jonk. Sebag en Salmunna het gesê: “Gideon, jy self moet ons doodmaak, want jy is 'n man en jy is sterk.” Gideon het toe vir Sebag en Salmunna doodgemaak, en hy het die goue kettings om hulle kamele se nekke vir homself gevat. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet nou oor ons regeer, jy en jou nageslag ná jou, want jy het ons gered van die Midianiete.” Maar Gideon het vir hulle gesê: “Ek sal nie oor julle regeer nie, en my seun sal ook nie oor julle regeer nie. Die Here sal oor julle regeer. Maar ek wil vir julle iets vra: Julle moet elkeen vir my 'n oor-ring gee van die goed wat julle van die vyande gevat het.” Die vyande was Ismaeliete en hulle het oor-ringe gedra. Die Israeliete het gesê: “Goed, ons sal gee wat jy vra.” Hulle het toe 'n bo-kleed oopgegooi en elkeen het daarop 'n oor-ring gegooi van die goed wat hulle van die vyand gevat het. Die goue oor-ringe wat Gideon gekry het, het 1 700 sikkels geweeg. Hy het ook die juwele en die mooi klere van die konings van Midian gekry, en die kettings wat om hulle kamele se nekke was. Gideon het die goud geneem en hy het 'n beeld daarvan laat maak, en hy het die beeld in sy stad Ofra neergesit. Al die Israeliete het ontrou geword aan die Here en die beeld begin aanbid. Gideon en sy familie het dit ook gedoen. Die Israeliete het gewen teen die Midianiete, en die Midianiete was nou nie meer so sterk dat hulle die Israeliete kon aanval nie. Daar was nog 40 jaar lank vrede in die land, totdat Gideon gesterf het. Gideon het in sy huis gaan woon. Hy was die pa van 70 seuns, want hy het baie vroue gehad. Hy het ook 'n seun gehad by sy byvrou in Sigem, en hy het die seun Abimelek genoem. Gideon was oud toe hy gesterf het. Hulle het hom begrawe in sy pa Joas se graf in Ofra waar die familie Abiëser gewoon het. Nadat Gideon gesterf het, het die Israeliete weer ontrou geword aan die Here en hulle het die Baäls gedien. Hulle het Baäl-Berit gekies om hulle god te wees. Ja, die Israeliete het nie hulle God die Here onthou nie, die God wat hulle gered het van hulle vyande wat rondom hulle gewoon het. Hulle het ook nie al die goeie dinge onthou wat Gideon vir hulle gedoen het nie, en hulle was nie goed vir sy familie nie.

RIGTERS 8:18-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hy het Seba en Sálmuna gevra: Wat vir manne was dit wat julle by Tabor gedood het? En hulle antwoord: Soos u, so was hulle: elkeen van gestalte koninklike seuns. Daarop sê hy: Dit was my broers, seuns van my moeder. So waar as die HERE leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodmaak nie. En hy sê aan Jeter, sy eersgeborene: Staan op, maak hulle dood! Maar die seun het sy swaard nie uitgetrek nie, omdat hy bang was; want hy was nog 'n seun. Toe sê Seba en Sálmuna: Staan u self op en val op ons aan, want soos die man is, is sy krag. Gídeon het toe opgestaan en Seba en Sálmuna gedood, en die maantjies wat aan die nekke van hulle kamele was, het hy geneem. Daarop sê die manne van Israel vir Gídeon: Heers oor ons, u sowel as u seun en u kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete. Maar Gídeon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers. Verder het Gídeon vir hulle gesê: Ek wil aan julle 'n versoek doen: Gee nou elkeen vir my die ring uit sy buit! Want hulle het goue ringe gedra, omdat hulle Ismaeliete was. Toe sê hulle: Ons wil dit graag gee; en hulle het 'n mantel uitgesprei en elkeen 'n ring van sy buit daarop gegooi. En die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was sewentienhonderd sikkels goud, behalwe die maantjies en die oorversiersels en purper klere wat die konings van Mídian gedra het, en behalwe die kettings wat aan die nekke van hulle kamele was. En Gídeon het daar 'n skouerkleed van gemaak en dit in sy stad, in Ofra, opgestel; en die hele Israel het dit daar agternagehoereer, en dit het vir Gídeon en sy huis 'n strik geword. So moes die Midianiete dan buig voor die kinders van Israel, en hulle het hul hoof nie meer opgetel nie; en die land het in Gídeon se dae veertig jaar lank gerus. En Jerúbbaäl, die seun van Joas, het in sy huis gaan woon. En Gídeon het sewentig seuns gehad wat uit sy lende voortgekom het, want hy het baie vroue gehad. En sy byvrou wat in Sigem was, het ook vir hom 'n seun gebaar, en hy het hom die naam Abiméleg gegee. En Gídeon, die seun van Joas, het gesterf in goeie ouderdom en is begrawe in die graf van sy vader Joas, in Ofra van die Abiësriete. Maar net toe Gídeon dood was, het die kinders van Israel weer die Baäls agternagehoereer en van Baäl-Berít vir hulle 'n god gemaak. En die kinders van Israel het nie gedink aan die HERE hulle God wat hulle uit die hand van al hul vyande rondom gered het nie. En hulle het geen guns bewys aan die huis van Jerúbbaäl, dit is Gídeon, vir al die goed wat hy aan Israel gedoen het nie.

RIGTERS 8:18-35 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het Gideon vir Sebag en Salmunna gevra: “Watter soort mense is deur julle vermoor op Tabor?” en hulle antwoord: “Hulle was almal soos u, elkeen het soos 'n koningskind gelyk.” Gideon sê toe: “Hulle was my eie broers. So seker as die Here leef, ek sou julle laat bly lewe het as julle hulle nie vermoor het nie.” Toe beveel Gideon sy oudste seun Jeter: “Kom, maak hulle dood!” Maar die seun het nie 'n vinger verroer nie, want hy was 'n blote kind en hy was bang. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Kom jy, bring jy ons om die lewe. 'n Man se krag lê in homself.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die maanversierings aan hulle kamele se nekke vir hom gevat. Die Israeliete het vir Gideon gesê: “Jy moet oor ons regeer: jy, jou seun en sy nageslag. Jy het ons gered uit die mag van Midian.” Maar hy sê vir hulle: “Ek kan nie oor julle regeer nie, ook nie my nageslag nie. Die Here regeer oor julle.” Gideon het verder vir hulle gesê: “Ek wil julle egter een ding vra: elkeen van julle moet vir my 'n oorring gee uit die buit wat julle by die Midianiete afgevat het; hulle dra mos goue oorringe.” Die Israeliete het geantwoord: “Dit doen ons graag.” Hulle het 'n doek oopgegooi en elkeen het 'n oorring uit sy buit daarop gegooi. Die gewig van die goue oorringe wat Gideon gevra het, was negentien en 'n half kilogram. Die maanversierings, oorbelle en pers klere van die Midianitiese konings was nie daarby gereken nie en ook nie die kettinkies rondom die kamele se nekke nie. Gideon het 'n efodbeeld van die goud gemaak en dit in sy stad Ofra gesit. Die hele Israel het daarheen gekom en op dié wyse ontrou geword aan die Here. Die beeld was vir Gideon en sy mense 'n valstrik. Die Midianiete was onderdanig aan Israel. Hulle het nie weer in opstand gekom nie, en daar was veertig jaar lank vrede in die land in die dae van Gideon. Jerubbaäl seun van Joas het na die oorlog teen Midian in sy huis gaan woon. Hy het sewentig seuns gehad, almal sy eie kinders, want hy het baie vrouens gehad. Ook sy byvrou uit Sigem het vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Sy naam was Abimelek. Gideon seun van Joas is op hoë ouderdom oorlede, en hy is in Ofra begrawe in die graf van sy pa Joas die Abiësriet. Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin vereer. Hulle het vir Baäl-Berit as god aanvaar en die Here hulle God vergeet deur wie hulle gered is uit die mag van hulle vyande rondom hulle. Hulle was ook nie lojaal teenoor die gesin van Jerubbaäl, dit is Gideon, nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.

RIGTERS 8:18-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarop het hy vir Sebag en Salmunna gevra: “Van waar was die manne wat julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle sê toe: “Hulle was soos u; elkeen met die voorkoms van 'n koningseun.” Toe sê Gideon: “Dit was my broers, seuns van my ma. So waar as die HERE leef, as julle hulle laat leef het, sou ek julle nie doodgemaak het nie.” Daarop sê hy vir Jeter, sy eersgeborene: “Staan op; maak hulle dood!” Die jong man het egter nie sy swaard getrek nie, want hy was bang – hy was immers nog maar 'n seun. Sebag en Salmunna sê toe: “Staan jý op en val ons aan, want iemand se krag wys of hy 'n man is. ” Gideon staan toe op en maak Sebag en Salmunna dood. Hy het die halfmaantjies gevat wat aan die nekke van hulle kamele was. Die manne van Israel het toe vir Gideon gesê: “Heers oor ons, u sowel as u seun en kleinseun, want u het ons verlos uit die hand van die Midianiete.” Maar Gideon het hulle geantwoord: “Dit is nie ek wat oor julle sal heers nie, en my seun sal ook nie oor julle heers nie. Die HERE alleen heers oor julle. ” Gideon het ook vir hulle gesê: “Ek wil aan julle 'n versoek rig: Gee elkeen vir my 'n ring uit sy buit.” Die Midianiete het goue ringe gehad, want hulle was Ismaeliete. “Ons gee dit graag!” sê hulle, en sprei 'n oorkleed oop. Elkeen het 'n ring uit sy buit daarop gegooi. Die gewig van die goue ringe wat hy gevra het, was eenduisend sewehonderd sikkel goud; dit was afgesien van die halfmaantjies, die oorbelle en die purperrooi kledingstukke wat die Midianitiese konings gedra het, en afgesien van die kettinkies wat aan hulle kamele se nekke was. Daarmee het Gideon 'n efod gemaak en dit in sy tuisdorp, in Ofra, opgestel. Die hele Israel is daar deur die efod tot afgodsdiens verlei; en dit het vir Gideon en sy huis 'n valstrik geword. So het die Midianiete die knie gebuig voor die Israeliete. Hulle kon nie weer hulle koppe oplig nie. Die land het veertig jaar lank rus gehad in Gideon se leeftyd. Jerubbaäl, seun van Joas, het in sy eie huis gaan woon. Gideon het sewentig seuns gehad wat hy verwek het, want hy het baie vroue gehad. Ook sy byvrou wat in Sigem was, het vir hom 'n seun in die wêreld gebring, en hy het hom Abimeleg genoem. Gideon, seun van Joas, het op 'n hoë ouderdom gesterf. Hy is in die graf van Joas, sy vader, begrawe in Ofra, wat aan die familie van Abiëser behoort. Maar net nadat Gideon dood is, het die Israeliete weer agter die Baäls aan gehoereer. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. Die Israeliete het nie meer gedink aan die HERE hulle God wat hulle gered het uit die hand van al hulle vyande rondom hulle nie. Hulle het ook nie trou bewys aan die huis van Jerubbaäl, dit is Gideon, vir al die goeie dinge wat hy aan Israel gedoen het nie.

RIGTERS 8:18-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê hy vir Seba en Salmunna: Watter manne was dit wat julle by Tabor gedood het? En hulle antwoord: Soos jy is, so was hulle; elkeen het soos die kinders van 'n koning gelyk. En hy sê: Hulle was my broers, die seuns van my moeder; so waar as die HERE leef, as julle hulle in die lewe gered het, sou ek julle nie doodmaak nie. En hy sê vir Jeter, sy eersgeborene: Staan op en maak hulle dood. Maar die jong man het nie sy swaard uitgetrek nie, want hy was bang, want hy was nog 'n jongmens. Toe sê Seba en Salmunna: Staan op en val op ons, want soos die mens is, so is sy krag. En Gideon het opgestaan en Seba en Salmunna gedood en die versierings wat op hulle kamele se nekke was, weggeneem. Toe sê die manne van Israel vir Gideon: Heers oor ons, jy sowel as jou seun en ook jou seun se seun, want jy het ons uit die hand van Mídian verlos. Toe sê Gideon vir hulle: Ek sal nie oor julle heers nie, en my seun sal nie oor julle heers nie; die HERE sal oor julle heers. Toe sê Gideon vir hulle: Ek wil van julle 'n versoek begeer dat julle vir my elkeen die oorringe van sy buit moet gee. (Want hulle het goue oorringe gehad, want hulle was Ismaeliete.) En hulle antwoord: Ons sal hulle gewillig gee. En hulle het 'n kleed uitgesprei en elkeen die ringe van sy buit daarin gegooi. En die gewig van die goue oorringe wat hy gevra het, was duisend sewe honderd sikkels goud; behalwe versierings en halsbande en purper klere wat aan die konings van Mídian was, en by die kettings wat om hulle kamele se nekke was. En Gídeon het daarvan 'n skouerkleed gemaak en dit in sy stad, in Ofra, gesit, en die hele Israel het daarheen gehoereer, wat 'n strik vir Gídeon en sy huis geword het. So is die Midianiete voor die kinders van Israel onderwerp, sodat hulle hul hoofde nie meer opgehef het nie. En die land was in stilte veertig jaar lank in die dae van Gídeon. En Jerubbaäl, die seun van Joas, het gegaan en in sy huis gaan woon. En Gideon het van sy liggaam sestig seuns gehad, want hy het baie vroue gehad. En sy byvrou wat in Sigem was, sy het ook vir hom 'n seun gebaar, wie se naam hy Abiméleg genoem het. En Gideon, die seun van Joas, het gesterwe in 'n goeie ouderdom en is begrawe in die graf van sy vader Joas, in Ofra van die Abiësriete. En net toe Gideon gesterf het, het die kinders van Israel omgedraai en agter die Baäls aan gehoereer en Baäl-Berit hulle god gemaak. En die kinders van Israel het nie aan die HERE hulle God gedink nie, wat hulle verlos het uit die hand van al hulle vyande van alle kante. Hulle het ook geen guns betoon aan die huis van Jerubbaäl, naamlik Gideon, volgens al die goedheid wat hy aan Israel bewys het nie.

RIGTERS 8:18-35 Die Boodskap (DB)

Toe vra Gideon vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mense gelyk wat julle in Tabor vermoor het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk, dit het gelyk of hulle van koninklike afkoms was.” Toe sê Gideon: “Hulle was my eie broers. So seker as wat die Here leef, as julle hulle nie vermoor het nie, sou ek julle ook laat leef het.” Gideon sê toe vir sy oudste seun, Jeter: “Kom maak hulle dood!” Maar hy het nie ’n vinger verroer om sy swaard uit te trek nie. Hy was te bang, want hy was nog ’n bloedjong kind. Toe sê Sebag en Salmunna vir Gideon: “Maak jy ons self dood. Moenie ’n kind vra om ’n man se werk te doen nie.” Gideon het toe hulle albei self doodgemaak. Hy het hulle kamele se versierings vir homself gevat. Daarna het die Israeliete vir Gideon gesê: “Jy en jou seun en die res van jou familie moet ons leiers wees, want jy het ons van die Midianiete verlos.” Maar Gideon het gesê: “Nie ek of my nageslag kan oor julle regeer nie, net die Here regeer oor julle! Maar ek het wel ’n ander versoek. Elkeen van julle moet vir my een van die goue oorringe gee wat ons by die Midianiete afgevat het.” Die Midianiete het graag goue oorringe gedra. “Dit sal ons vir jou doen,” het die volk gesê. Hulle het ’n doek op die grond oopgesprei en elkeen het ’n goue oorring daarop gegooi. Die goue oorringe wat Gideon bymekaargemaak het, het ongeveer twintig kilogram geweeg. Dit het nie eens die ornamente, oorbelle en pers koninklike klere ingesluit nie, en ook nie die kettings wat om die kamele se nekke was nie. Gideon het toe ’n afgodsbeeld van die goud gemaak en dit in sy tuisdorp, Ofra, gesit. Dit was nie lank nie of die Israeliete het hulle rug vir God gedraai en hierdie afgod begin aanbid. Hierdie beeld het Gideon en sy familie verlei om weg te dwaal van die Here af. Al die Midianiete is deur Israel verslaan. Hulle het nooit van hierdie neerlaag herstel nie. Hierna was daar tydens Gideon se leeftyd - so ongeveer 40 jaar lank - vrede in die land. Gideon seun van Joas is ná die oorlog terug huis toe. Hy het 70 seuns gehad, want hy het baie vroue gehad. Hy het ook ’n seun by sy byvrou in Sigem gehad. Sy naam was Abimelek. Gideon was al baie oud toe hy dood is. Hy is in sy pa, Joas die Abiësriet, se graf in Ofra begrawe. Na Gideon se dood het die Israeliete weer die Baäls begin dien. Hulle het Baäl-Berit hulle hoofgod gemaak. Hulle het heeltemal van die Here hulle God, wat hulle van hulle vyande verlos het, vergeet. Ten spyte van al die goeie dinge wat Jerubbaäl, dit is nou Gideon, vir Israel gedoen het, het hulle nie enige respek aan sy gesin bewys nie.

RIGTERS 8:18-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gideon vra toe vir Sebag en Salmunna: “Hoe het die mans gelyk vir wie julle by Tabor doodgemaak het?” Hulle het geantwoord: “Hulle het almal soos u gelyk. Almal het gelyk of hulle koningskinders is.” “Hulle was my eie bloedbroers,” het Gideon vir hulle gesê. “So waar as die HERE leef, ek sou julle laat bly leef het as julle hulle nie vermoor het nie.” Gideon het toe vir sy oudste seun Jeter geroep: “Kom hier, kom maak hulle dood!” Die seun wou egter nie sy swaard uittrek nie. Hy was bang omdat hy nog maar ’n seun was. Sebag en Salmunna spot toe vir Gideon: “Jy moet ons maar self doodmaak. Soos ’n man is, so is sy krag.” Gideon het opgestaan en vir Sebag en Salmunna doodgemaak. Hy het die kettinkies aan hulle kamele se nekke vir hom gevat. Die Israeliete het toe vir Gideon kom sê: “Jy en jou nageslag moet as konings oor ons regeer. Jy het ons van Midian bevry.” Maar hy het vir hulle gesê: “Nie ek of my seun sal oor julle regeer nie. Die HERE self is julle koning.” Gideon het egter gesê: “Daar is tog een ding wat ek van julle wil vra: Laat elkeen van julle asseblief vir my ’n oorring gee uit die buit wat hy gemaak het.” Die vyand het goue oorringe gedra, want hulle was Ismaeliete. “Ons gee dit met graagte vir jou,” het hulle geantwoord. Hulle het ’n mantel oopgegooi. Elkeen het uit sy buit ’n oorring daarin gegooi. Die goue oorringe wat Gideon gekry het, het negentien en ’n half kilogram geweeg. Dit het nie die halfmaantjies, hangertjies, klere van die Midianitiese konings en die kettinkies rondom die kamele se nekke ingesluit nie. Van die goud het Gideon ’n efodbeeld gemaak. Hy het dit opgesit in sy tuisdorp Ofra. Die hele Israel het afvallig geword, want hulle het die beeld daar kom aanbid. Dit het vir Gideon en sy mense ’n valstrik geword. So is die Midianiete aan Israel onderwerp. Hulle het nooit weer herstel nie. In Gideon se tyd was daar vir 40 jaar lank vrede in die land. Jerubbaäl, die seun van Joas, het ná die oorlog teen Midian teruggegaan na sy huis toe. Hy het 70 seuns by sy baie vroue gehad. Sy byvrou in Sigem het ook vir hom ’n seun gegee. Sy naam was Abimelek. Gideon, die seun van Joas, het ’n hoë ouderdom behaal. Hy is dood en in Ofra in die graf van sy pa, Joas die Abiësriet, begrawe. Gideon was skaars dood of die Israeliete het weer na die Baäls toe teruggegaan. Hulle het Baäl-Berit hulle god gemaak. Hulle het die HERE hulle God, wat hulle uit die mag van al hulle vyande rondom hulle gered het, net so gelos. Hulle het nie lojaal gebly aan die gesin van Jerubbaäl – dit is nou Gideon – nie, ten spyte van al die goeie dinge wat hy vir Israel gedoen het.