Rigters 6:25-32

Rigters 6:25-32 AFR20

Nog in daardie selfde nag het die HERE vir hom gesê: “Neem die bul wat aan jou vader behoort, die tweede bul, wat sewe jaar oud is. Sloop die altaar van Baäl wat aan jou vader behoort. Die asjera wat langsaan is, moet jy afkap. Bou dan vir die HERE jou God 'n altaar op die hoogste punt van hierdie vesting – netjies gestapel. Neem daarna die tweede bul en offer hom as •brandoffer met die hout van die asjera wat jy gaan afkap.” Gideon het tien manne van sy dienaars geneem en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Maar aangesien hy te bang was vir sy familie en die manne van die dorp om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. Toe die manne van die dorp vroeg die oggend opstaan – kyk, die altaar van Baäl is afgebreek, die asjera wat langsaan was, is afgekap, en die tweede bul is as brandoffer gebring op die nuutgeboude altaar! Hulle vra toe vir mekaar: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het ondersoek ingestel en navraag gedoen. Daar is toe gesê: “Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen.” Toe sê die mense van die dorp vir Joas: “Bring jou seun uit, want hy moet sterf omdat hy die altaar van Baäl afgebreek en omdat hy die asjera langsaan afgekap het.” Maar Joas sê vir almal wat om hom saamgedrom het: “Wil julle vir Baäl die stryd voer? Of moet julle hom red? Wie ook al vir hom die stryd voer, sal vanoggend nog sterf! As hy 'n god is, laat hy vir homself die stryd voer wanneer iemand sy altaar omgegooi het.” Op daardie dag het hulle vir Gideon die naam Jerubbaäl gegee, met die woorde: “Laat Baäl teen hom die stryd voer, want hy het sy altaar afgebreek.”