RIGTERS 6:25-32

RIGTERS 6:25-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daardie nag het die HERE vir Gideon gesê: “Gaan vat jou pa se tweede beste bul, die een wat sewe jaar oud is. Breek jou pa se altaar vir Baäl af. Kap die gewyde paal vir Asjera daar langsaan af. Kom bou dan ’n stewige altaar vir die HERE jou God hier by hierdie skans bo-op die heuwel. Offer die bul op die altaar as ’n brandoffer. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het.” Gideon het tien mans uit sy werkers gevat en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Hy het dit gedurende die nag gedoen omdat hy te bang was vir sy eie huisgesin en vir die stad se mense om dit gedurende die dag te doen. Toe die mense van die stad vroeg die volgende môre opstaan, sien hulle dat Baäl se altaar afgebreek is en die gewyde paal daar langsaan afgekap is. Die tweede bul was ’n brandoffer op die nuutgeboude altaar. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het oral gevra en na die persoon gesoek. Hulle het uitgevind dat dit Gideon, die seun van Joas, was wat dit gedoen het. “Laat jou seun uitkom,” het die stad se mense van Joas geëis. “Hy moet tereggestel word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die Asjerapaal daar langsaan afgekap.” Joas het vir die skare wat om hom saam gebondel het, geantwoord: “Moet julle nou Baäl se saak verdedig? Moet julle sy saak red? Die persoon wat dink hy moet vir Baäl instaan, moet sommer vanoggend nog tereggestel word. As Baäl ’n god is, kan hy mos vir sy eie saak veg. Dis tog sý altaar wat afgebreek is.” Van daardie dag af het hulle Gideon “Jerubbaäl” genoem. Dit beteken: “Laat Baäl self sy saak behartig.” Dit is Gideon wat Baäl se altaar afgebreek het.

RIGTERS 6:25-32 Bybel vir almal (ABA)

Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Jy moet jou pa se bul vat, die bul wat sewe jaar oud is, en dan moet jy die Baäl-altaar van jou pa afbreek en die gewyde paal afkap wat daarby is. Jy moet vir My, jou God die Here, 'n altaar bou op die hoogste plek in hierdie stad. Jy moet die klippe van die altaar netjies opmekaar pak. Jy moet die hout van die gewyde paal wat jy afgekap het, gebruik om vuur te maak, en dan moet jy die bul op die altaar offer.” Gideon het tien van sy slawe geneem en hy het gedoen wat die Here vir hom gesê het. Hy was bang vir sy pa se familie en vir die mense van die stad, daarom het hy dit in die nag gedoen, nie in die dag nie. Die mense van die stad het die volgende oggend vroeg opgestaan. En wat het hulle gesien? Iemand het die Baäl-altaar afgebreek en die gewyde paal afgekap en 'n nuwe altaar gebou en die bul ge-offer. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Hulle het gesoek en vir almal gevra, en iemand het gesê: “Joas se seun Gideon het dit gedoen.” Toe sê die mense van die stad vir Joas: “Jy moet jou seun bring. Hy moet sterf omdat hy die Baäl-altaar afgebreek het en die gewyde paal afgekap het wat daarby was.” Joas sê toe vir almal wat daar by hom staan: “Wil julle vir Baäl beskerm? Wil julle hom red? Die persoon wat vir Baäl wil beskerm, sal môre sterf. As Baäl 'n god is, dan moet hy homself beskerm teen die man wat sy altaar afgebreek het.” Joas het daardie dag gesê Gideon se naam is nou Jerub-Baäl, want Baäl moet homself beskerm teen Gideon wat sy altaar afgebreek het.

RIGTERS 6:25-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En in dieselfde nag het die HERE vir hom gesê: Neem die bul van jou vader, naamlik die tweede bul van sewe jaar, en breek die altaar van Baäl af wat aan jou vader behoort, en kap die heilige boomstam af wat daar langsaan staan. En bou vir die HERE jou God 'n altaar op die top van hierdie vesting deur opstapeling, en neem die tweede bul en bring dit as 'n brandoffer met die hout van die heilige boomstam wat jy moet afkap. Toe het Gídeon tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die HERE aan hom gesê het; maar omdat hy te bang was vir sy familie en vir die manne van die stad, om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, lê die altaar van Baäl daar omgegooi en die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap en die tweede bul geoffer op die altaar wat daar gebou was! Toe sê hulle, die een vir die ander: Wie het hierdie ding gedoen? En onderwyl hulle ondersoek en uitvra, sê hulle: Gídeon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen! Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, hy moet sterwe, omdat hy die altaar van Baäl omgegooi het, en omdat hy die heilige boomstam wat daar langsaan gestaan het, afgekap het. Maar Joas sê vir almal wat by hom staan: Wil júlle vir Baäl veg? Of wil julle hom help? Die wat vir hom veg, sal vanmôre nog gedood word. As hy 'n god is, laat hy vir homself veg, omdat hy sy altaar omgegooi het. Daarom het hy hom op dié dag Jerúbbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom veg, omdat hy sy altaar omgegooi het.

RIGTERS 6:25-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat 'n groot bul, die sewe jaar oud bul van jou pa, sy tweede bul, breek jou pa se altaar vir Baäl af en kap die gewyde paal daar langsaan af. Bou dan 'n netjiese altaar vir die Here jou God bo-op daardie versterkte plek en vat die bul en offer dit as brandoffer. Jy moet die hout gebruik van die gewyde paal wat jy afgekap het.” Gideon het tien van sy slawe gevat en gedoen wat die Here hom beveel het. Hy het dit in die nag gedoen: hy was bang vir sy pa se familie en vir die stad se mense om dit oordag te doen. Toe die stad se mense die volgende môre opstaan, was Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap en was die bul 'n brandoffer op die altaar wat gebou is. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het dit gedoen?” Hulle het oral navraag gedoen, en daar is gesê: “Dit is Gideon seun van Joas! Hy het dit gedoen!” Toe sê die stad se mense vir Joas: “Bring jou seun uit jou huis uit! Hy moet doodgemaak word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die gewyde paal daar langsaan afgekap.” Maar Joas het vir almal wat daar by hom gestaan het, gesê: “Wil julle Baäl se saak behartig? Wil julle hom red? Wie Baäl se saak behartig, moet vanmôre nog doodgemaak word. As hy 'n god is, kan hy sy eie saak behartig. Dis sý altaar wat afgebreek is.” Daardie dag het hulle vir Gideon genoem Jerubbaäl , “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy saak teen Gideon behartig, want dis hý wat Baäl se altaar afgebreek het.”

RIGTERS 6:25-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nog in daardie selfde nag het die HERE vir hom gesê: “Neem die bul wat aan jou vader behoort, die tweede bul, wat sewe jaar oud is. Sloop die altaar van Baäl wat aan jou vader behoort. Die asjera wat langsaan is, moet jy afkap. Bou dan vir die HERE jou God 'n altaar op die hoogste punt van hierdie vesting – netjies gestapel. Neem daarna die tweede bul en offer hom as •brandoffer met die hout van die asjera wat jy gaan afkap.” Gideon het tien manne van sy dienaars geneem en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Maar aangesien hy te bang was vir sy familie en die manne van die dorp om dit oordag te doen, het hy dit in die nag gedoen. Toe die manne van die dorp vroeg die oggend opstaan – kyk, die altaar van Baäl is afgebreek, die asjera wat langsaan was, is afgekap, en die tweede bul is as brandoffer gebring op die nuutgeboude altaar! Hulle vra toe vir mekaar: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het ondersoek ingestel en navraag gedoen. Daar is toe gesê: “Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen.” Toe sê die mense van die dorp vir Joas: “Bring jou seun uit, want hy moet sterf omdat hy die altaar van Baäl afgebreek en omdat hy die asjera langsaan afgekap het.” Maar Joas sê vir almal wat om hom saamgedrom het: “Wil julle vir Baäl die stryd voer? Of moet julle hom red? Wie ook al vir hom die stryd voer, sal vanoggend nog sterf! As hy 'n god is, laat hy vir homself die stryd voer wanneer iemand sy altaar omgegooi het.” Op daardie dag het hulle vir Gideon die naam Jerubbaäl gegee, met die woorde: “Laat Baäl teen hom die stryd voer, want hy het sy altaar afgebreek.”

RIGTERS 6:25-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En dit het gebeur in dieselfde nag dat die HERE vir hom gesê het: Neem jou vader se jong bul, die tweede bul van sewe jaar oud, en gooi die altaar van Baäl af wat jou vader het, en kap die bos af wat daardeur: En bou 'n altaar vir die HERE jou God op die top van hierdie rots, op die geordende plek, en neem die tweede bul en bring 'n brandoffer saam met die hout van die bos wat jy moet afkap. Gideon het toe tien man van sy dienaars geneem en gedoen soos die HERE aan hom gesê het; en omdat hy die huis van sy vader en die manne van die stad gevrees het, dat hy dit bedags nie kon doen nie, het hy dit gedoen en dit in die nag. En toe die manne van die stad die môre vroeg opstaan, kyk, was die altaar van Baäl omgegooi, en die bos wat daarby was, is afgekap, en die tweede bul is geoffer op die altaar wat gebou is. En hulle sê vir mekaar: Wie het hierdie ding gedoen? En toe hulle navraag doen en vra, sê hulle: Gideon, die seun van Joas, het hierdie ding gedoen. Toe sê die manne van die stad vir Joas: Bring jou seun uit, dat hy kan sterwe, want hy het die altaar van Baäl omgegooi en hy het besit die bos wat daarby was. En Joas sê vir almal wat teen hom staan: Sal julle vir Baäl pleit? sal julle hom red? wie vir hom wil pleit, laat hom gedood word solank dit nog môre word; as hy 'n god is, laat hy vir homself pleit, want iemand het sy altaar neergewerp. Daarom het hy hom op dié dag Jerubbaäl genoem en gesê: Laat Baäl teen hom pleit, want hy het sy altaar afgebreek.

RIGTERS 6:25-32 Die Boodskap (DB)

Daardie nag het die Here vir Gideon gesê: “Vat jou pa se bul in die kraal, die een wat sewe jaar oud is. Breek dan die altaar af wat hy vir Baäl gebou het en kap die paal wat hy vir die godin Asjera opgerig het, wat langs die altaar staan, ook af. Bou dan ’n behoorlike altaar vir die Here jou God op hierdie heuwel. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het om vuur te maak en offer die bul as ’n brandoffer aan My.” Gideon het tien van die mense wat vir hom gewerk het, gevat en gedoen wat die Here gesê het. Omdat hy bang was vir die reaksie van sy eie familie en van die mense van die dorp, het hy dit in die donker gedoen. Toe die dorpsmense die volgende oggend wakker word, het hulle agtergekom dat die Baälaltaar en die Asjerapaal wat langsaan gestaan het, afgebreek is. In die plek daarvan was daar ’n splinternuwe altaar met die oorblyfsels van ’n brandoffer daarop. Almal het gewonder: “Wie het dit gedoen?” Nadat hulle oral navraag gedoen het, het hulle ontdek dat dit Joas se seun Gideon was. Hulle skreeu toe vir Joas: “Bring jou seun daar uit die huis uit! Hy het Baäl se altaar afgebreek en Asjera se paal afgekap. Daarom moet hy doodgemaak word!” Toe sê Joas vir die oproeriges wat daar buite staan: “Wil julle nou skielik Baäl se saak vir hom behartig? Gaan julle hom verdedig? Weet net, wie ook al Baäl se saak probeer verdedig, sal teen môreoggend reeds dood wees. As Baäl ’n god is, laat hy homself verdedig. Dis tog sy altaar wat Gideon afgebreek het!” Hulle het Gideon toe Jerubbaäl genoem, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy probleem met Gideon oplos, want dit is mos Gideon wat sy altaar afgebreek het.”

RIGTERS 6:25-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daardie nag het die HERE vir Gideon gesê: “Gaan vat jou pa se tweede beste bul, die een wat sewe jaar oud is. Breek jou pa se altaar vir Baäl af. Kap die gewyde paal vir Asjera daar langsaan af. Kom bou dan ’n stewige altaar vir die HERE jou God hier by hierdie skans bo-op die heuwel. Offer die bul op die altaar as ’n brandoffer. Gebruik die hout van die Asjerapaal wat jy afgekap het.” Gideon het tien mans uit sy werkers gevat en gedoen wat die HERE vir hom gesê het. Hy het dit gedurende die nag gedoen omdat hy te bang was vir sy eie huisgesin en vir die stad se mense om dit gedurende die dag te doen. Toe die mense van die stad vroeg die volgende môre opstaan, sien hulle dat Baäl se altaar afgebreek is en die gewyde paal daar langsaan afgekap is. Die tweede bul was ’n brandoffer op die nuutgeboude altaar. Hulle het vir mekaar gevra: “Wie het hierdie ding gedoen?” Hulle het oral gevra en na die persoon gesoek. Hulle het uitgevind dat dit Gideon, die seun van Joas, was wat dit gedoen het. “Laat jou seun uitkom,” het die stad se mense van Joas geëis. “Hy moet tereggestel word, want hy het Baäl se altaar afgebreek en die Asjerapaal daar langsaan afgekap.” Joas het vir die skare wat om hom saam gebondel het, geantwoord: “Moet julle nou Baäl se saak verdedig? Moet julle sy saak red? Die persoon wat dink hy moet vir Baäl instaan, moet sommer vanoggend nog tereggestel word. As Baäl ’n god is, kan hy mos vir sy eie saak veg. Dis tog sý altaar wat afgebreek is.” Van daardie dag af het hulle Gideon “Jerubbaäl” genoem. Dit beteken: “Laat Baäl self sy saak behartig.” Dit is Gideon wat Baäl se altaar afgebreek het.