Rigters 3:7-31

Rigters 3:7-31 AFR20

Die Israeliete het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hulle het die HERE hulle God vergeet en die Baäls en asjeras gedien. Toe het die toorn van die HERE teen Israel ontbrand, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van Kusan-Risatajim, die koning van Aram-Naharajim. Die Israeliete het Kusan-Risatajim agt jaar lank gedien. Toe het die Israeliete na die HERE om hulp geroep. Hy het 'n verlosser vir die Israeliete laat opstaan, wat hulle verlos het. Dit was Otniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb. Die Gees van die HERE het op hom gerus en hy het Israel gerig. Hy het uitgetrek om oorlog te voer, en die HERE het vir Kusan-Risatajim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan-Risatajim gekry het. Daarna het die land veertig jaar lank rus gehad. Toe het Otniël, seun van Kenas, gesterf. Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Die HERE het Eglon, die koning van Moab, teen Israel versterk, omdat hulle gedoen het wat verkeerd is in die oë van die HERE. Eglon het die Ammoniete en Amalekiete by hom byeengebring. Hy het gegaan, Israel verslaan en die Palmstad ingeneem. Daarna het die Israeliete Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank gedien. Die Israeliete het na die HERE om hulp geroep, en die HERE het vir hulle 'n verlosser laat opstaan. Dit was Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, 'n man wat linkshandig was. Die Israeliete het hom gestuur met belasting vir Eglon, die koning van Moab. Ehud het vir hom 'n swaard gemaak met twee snykante wat 'n gomed lank was. Hy het dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord. Hy gaan bied toe die belasting aan vir Eglon, die koning van Moab. Eglon was 'n baie vet man. Nadat hy die belasting nadergebring het, het hy die manskappe wat die belasting gedra het, laat gaan. Self het hy by die afgodsbeelde wat by Gilgal is, teruggedraai. “Ek het 'n geheime boodskap vir u, o koning,” het hy gesê. Eglon het gesê: “Stilte!” waarop almal wat hom bystaan, toe uitgegaan het. Maar Ehud het na hom toe ingegaan, waar hy in die koel bovertrek sit wat vir die koning alleen bedoel was. “Ek het 'n boodskap van God vir u,” het Ehud gesê. Toe Eglon van die troon af opstaan, steek Ehud sy linkerhand uit, vat die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy maag in, sodat selfs die hef agter die lem ingaan en die vet die lem omsluit; want hy het nie die swaard uit sy maag uitgetrek nie. Hy is toe by die geheime uitgang uit. Ehud het na die pilaargang uitgegaan, maar hy het eers die deure na die bovertrek agter hom toegemaak en gesluit. Hy was net uit, toe daag Eglon se dienaars op en sien: Kyk, die deure na die bovertrek is dan gesluit! Hulle sê toe: “Hy is seker maar besig om sy voete te bedek in die koel kamer.” Hulle het gewag totdat hulle verleë geraak het, maar kyk, niemand het die deure van die bovertrek oopgemaak nie. Hulle vat toe 'n sleutel en sluit oop. En daar lê hulle heer op die grond – morsdood! Ehud het ontvlug terwyl hulle bly talm het. Hy is by die afgodsbeelde oor die grens en het na Seïra ontvlug. Daar aangekom, het hy in die heuwelland van Efraim die •ramshoring laat blaas. Die Israeliete het toe saam met hom afgetrek uit die bergland, met hom aan die voorpunt. Hy het vir hulle gesê: “Volg my, want die HERE gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand. ” Hulle het toe afgetrek agter hom aan en die driwwe van die Jordaan na Moab beset. Niemand is toegelaat om deur te gaan nie. Hulle het Moab in dié tyd verslaan – ongeveer tienduisend man, almal stewige manne, almal bekwame manne – nie een het ontvlug nie. Op daardie dag moes Moab die knie buig voor die mag van Israel. Daarna het die land tagtig jaar lank rus gehad. Ná Ehud was dit Samgar, seun van Anat. Hy het die Filistyne verslaan, seshonderd man, met 'n osdrywerstok. Ook hy het Israel verlos.