Rigters 20:1-11

Rigters 20:1-11 AFR20

Al die Israeliete het toe uitgetrek. Die volksvergadering het, van Dan tot Berseba en van die Gileadstreek af, soos een man saamgetrek voor die HERE in Mispa. Die steunpilare van die hele volk, van al die stamme van Israel, het hulle plekke ingeneem in die strydmag van die volk van God. Dit was vierhonderdduisend man te voet, gewapen met swaarde. Die Benjaminiete het intussen gehoor dat die Israeliete opgetrek het na Mispa. Die Israeliete sê toe: “Vertel ons hoe hierdie bose daad plaasgevind het.” Die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, antwoord toe: “In Gibea wat aan Benjamin behoort, het ek aangekom, ek en my byvrou, om te oornag. Die burgers van Gibea het toe teen my opgestaan en in die nag die huis omsingel, oor my teenwoordigheid. Dit was vir my wat hulle wou doodmaak; my byvrou het hulle verkrag, en sy het gesterf. Ek het my byvrou gevat, haar in stukke opgesny en haar rondgestuur deur die hele gebied van die erfdeel van Israel, want hulle het 'n skandelike daad en 'n gruweldaad gepleeg in Israel. Kyk, julle is almal Israeliete – hier moet julle praat en raadgee.” Die hele volk het soos een man opgestaan en gesê: “Niemand van ons sal na sy tent gaan, en niemand van ons sal na sy huis afdraai nie. Dit is wat ons dan nou aan Gibea gaan doen: teen hom optrek, volgens die lot. Ons sal van al die stamme van Israel tien man per honderd neem, honderd per duisend, en duisend per tienduisend, om padkos te gaan haal vir die manskappe, sodat daar by hulle terugkeer met Gibea in Benjamin afgereken kan word na die volle maat van die gruweldaad wat hulle in Israel gepleeg het.” Elke man van Israel is byeengebring by die stad, soos een man was hulle verenig.