RIGTERS 20:1-11
RIGTERS 20:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Al die Israeliete het toe uitgetrek. Die volksvergadering het, van Dan tot Berseba en van die Gileadstreek af, soos een man saamgetrek voor die HERE in Mispa. Die steunpilare van die hele volk, van al die stamme van Israel, het hulle plekke ingeneem in die strydmag van die volk van God. Dit was vierhonderdduisend man te voet, gewapen met swaarde. Die Benjaminiete het intussen gehoor dat die Israeliete opgetrek het na Mispa. Die Israeliete sê toe: “Vertel ons hoe hierdie bose daad plaasgevind het.” Die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, antwoord toe: “In Gibea wat aan Benjamin behoort, het ek aangekom, ek en my byvrou, om te oornag. Die burgers van Gibea het toe teen my opgestaan en in die nag die huis omsingel, oor my teenwoordigheid. Dit was vir my wat hulle wou doodmaak; my byvrou het hulle verkrag, en sy het gesterf. Ek het my byvrou gevat, haar in stukke opgesny en haar rondgestuur deur die hele gebied van die erfdeel van Israel, want hulle het 'n skandelike daad en 'n gruweldaad gepleeg in Israel. Kyk, julle is almal Israeliete – hier moet julle praat en raadgee.” Die hele volk het soos een man opgestaan en gesê: “Niemand van ons sal na sy tent gaan, en niemand van ons sal na sy huis afdraai nie. Dit is wat ons dan nou aan Gibea gaan doen: teen hom optrek, volgens die lot. Ons sal van al die stamme van Israel tien man per honderd neem, honderd per duisend, en duisend per tienduisend, om padkos te gaan haal vir die manskappe, sodat daar by hulle terugkeer met Gibea in Benjamin afgereken kan word na die volle maat van die gruweldaad wat hulle in Israel gepleeg het.” Elke man van Israel is byeengebring by die stad, soos een man was hulle verenig.
RIGTERS 20:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Al die Israeliete, van Dan tot by Berseba en uit die streek van Gilead, het in Mispa vir ’n groot vergadering voor die HERE bymekaargekom. Die leiers van die hele volk en van elke stam van Israel het vir die vergadering van die volk van God bymekaargekom. Daar was 400 000 gewapende soldate bymekaar. Die Benjaminiete het ook gehoor dat die ander Israeliete by Mispa saamgetrek het. Die Israeliete het begin praat oor hierdie lelike ding wat gebeur het. Die Leviet, die vermoorde vrou se man, vertel toe: “Ek en my vrou het in Gibea van Benjamin gekom om die nag daar oor te bly. Daardie nag het mense van Gibea die huis waarin ek was, omsingel. Hulle wou my doodmaak. Hulle het my byvrou verkrag totdat sy dood is. Ek het my byvrou se liggaam opgesny en dit deur die hele gebied van Israel rondgestuur. Die mense van Gibea het ’n afskuwelike en sinnelose ding in Israel gedoen. Die hele gemeenskap van Israel moet nou koppe bymekaarsit en besluit wat om hieraan te doen.” Die hele volk het saamgestaan en soos uit een mond verklaar: “Niemand mag teruggaan huis toe nie. Ons sal lootjies trek om te bepaal wie Gibea eerste moet aanval. Een tiende uit elke stam van Israel sal kos by die volk gaan haal vir die soldate. Al die ander sal wraak neem op Gibea in Benjamin vir die skandelike ding wat hulle in Israel gedoen het.” Al die Israeliete was dit eens en het bymekaargekom om Gibea aan te val.
RIGTERS 20:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het toe 'n volksvergadering gehou by die tempel in Mispa. Hulle het gekom uit al die plekke in die land, van Dan in die noorde tot Berseba in die suide, en uit die land Gilead. Al die leiers van die volk van God, van al die stamme van Israel, het na die volksvergadering gekom. Daar was 400 000 manne wat met swaarde kon oorlog maak. Die Benjamin-mense het gehoor die Israeliete het in Mispa bymekaargekom. Die Israeliete in die vergadering het gesê: “Julle moet praat. Hoe het hierdie slegte ding gebeur?” Die Leviet, die man van die vrou wat vermoor is, het toe geantwoord. Hy het gesê: “Ek en my byvrou het in Gibea gekom, 'n stad wat aan die Benjamin-stam behoort. Ons wou daar slaap. Maar die manne van Gibea het slegte dinge gedoen aan my. Hulle het in die nag rondom die huis kom staan. Hulle wou my vermoor, en hulle het my byvrou verkrag tot sy dood is. Ek het toe my byvrou se liggaam in stukke gesny en ek het die stukke deur die hele land Israel gestuur. Ek wou hê almal moet weet die manne van Gibea het 'n slegte ding gedoen, iets waaroor al die Israeliete hulle moet skaam. Nou moet julle almal besluit en sê wat ons moet doen.” Toe staan almal in die vergadering saam op en hulle sê: “Niemand van ons sal teruggaan huis toe nie. Ons weet wat ons sal doen, ons sal lootjies trek om uit te vind wie moet die mense van Gibea gaan straf. Ons sal een tiende van die manne van elke stam van Israel stuur om padkos te gaan haal, en wanneer hulle terugkom, sal ons die mense van Gibea in die land Benjamin straf oor die lelike ding wat hulle gedoen het in die land Israel.” Die manne van Israel het almal bymekaargekom om teen die stad Gibea oorlog te maak.
RIGTERS 20:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het al die kinders van Israel uitgetrek, en die vergadering het soos een man, van Dan tot Berséba, saam met die land Gílead, byeengekom by die HERE in Mispa; en die hoofde van die hele volk, van al die stamme van Israel, het in die vergadering van die volk van God gaan staan — vierhonderdduisend man te voet wat die swaard uittrek. En die kinders van Benjamin het gehoor dat die kinders van Israel opgetrek het na Mispa. Toe sê die kinders van Israel: Vertel julle hoe hierdie misdaad gepleeg is. Daarop antwoord die Levitiese man, die man van die vermoorde vrou, en sê: Ek het in Gíbea wat aan Benjamin behoort, gekom, ek en my byvrou, om te vernag. En die burgers van Gíbea het teen my opgestaan en in vyandskap teen my die huis omsingel in die nag; hulle het gemeen om my dood te maak, en my byvrou het hulle onteer, sodat sy gesterf het. Toe het ek my byvrou gegryp en haar in stukke verdeel en haar rondgestuur in die hele gebied van die erfdeel van Israel, omdat hulle 'n gruwel en 'n skanddaad in Israel begaan het. Hier is julle, kinders van Israel, nou almal: gee julle hier woord en raad! Toe staan die hele volk op soos een man en sê: Geeneen van ons sal na sy tent toe gaan en geeneen van ons wegdraai na sy huis toe nie; maar dit is nou die ding wat ons Gíbea sal aandoen: Op teen hom volgens die lot! Ons sal naamlik tien man neem uit elke honderd van al die stamme van Israel, en honderd uit duisend, en duisend uit tienduisend, om padkos vir die manskappe te gaan haal, om as hulle gekom het, met Gíbea-Benjamin te handel volgens die skanddaad wat hy in Israel begaan het. Toe versamel al die manne van Israel by die stad, soos een man saamverbonde.
RIGTERS 20:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het al die Israeliete, dié van Dan tot dié van Berseba en dié uit die Gileadstreek, soos een man as gemeente in Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here. Die leiers van die hele volk, van al die stamme van Israel, was daar in die vergadering van die volk van God. Daar was vier honderd duisend voetsoldate wat met die swaard kon veg. Die Benjaminiete het verneem dat die ander Israeliete na Mispa toe opgetrek het. Die Israeliete het vir hulle gevra: “Sê ons tog! Hoe het hierdie lae ding plaasgevind?” Toe antwoord die Leviet, die man van die vermoorde vrou: “Ek en my vrou het in Gibea gekom wat aan Benjamin behoort, om daar te oornag. Toe wou die mans van Gibea my kom aanrand, en hulle het my die heel nag omsingel in die huis waar ek was. Hulle wou my doodmaak, en hulle het my byvrou verrinneweer, sodat sy gesterf het. Toe het ek haar opgesny en rondgestuur deur die hele gebied wat aan Israel behoort, want die mense van Gibea het 'n afskuwelike en lae ding in Israel gedoen. En nou is julle almal hier, Israeliete! Ons moet praat en net hier 'n plan maak!” Die hele volk het eenparig verklaar: “Niemand mag na sy woonplek toe gaan nie, niemand mag teruggaan huis toe nie. Dit is wat ons met Gibea sal doen: ons sal lootjies trek oor Gibea, en uit elke honderd man uit die stamme van Israel sal ons tien man vat, uit elke duisend man honderd en uit elke tien duisend duisend om kos by die volk te gaan haal. Wanneer ons in Gibea by Benjamin kom, sal ons hom straf ooreenkomstig die lae ding wat hy in Israel gedoen het.” Al die Israeliete het saamgestem en hulle het by Gibea bymekaargekom.
RIGTERS 20:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het al die kinders van Israel uitgetrek, en die vergadering het as een man vergader, van Dan af tot Berséba, met die land Gílead, tot by die HERE in Mispa. En die owerstes van die hele volk, van al die stamme van Israel, het in die vergadering van die volk van God verskyn, vier honderd duisend voetgangers wat die swaard uittrek. (En die kinders van Benjamin het gehoor dat die kinders van Israel na Mispa opgetrek het.) Toe sê die kinders van Israel: Vertel ons, hoe was hierdie boosheid? En die Leviet, die man van die vrou wat gedood is, het geantwoord en gesê: Ek het in Gíbea gekom wat aan Benjamin behoort, ek en my byvrou, om te vernag. En die manne van Gíbea het teen my opgestaan en in die nag die huis rondom my omsingel en gedink om my dood te maak; en my byvrou het hulle gedwing dat sy dood is. En ek het my byvrou geneem en haar in stukke gekap en haar deur die hele land van die erfdeel van Israel gestuur, want hulle het skandelikheid en dwaasheid in Israel gepleeg. Kyk, julle is almal kinders van Israel; gee hier jou raad en raad. En die hele volk het opgestaan soos een man en gesê: Ons sal nie een van ons na sy tent toe gaan nie, en ons sal nie een van ons in sy huis ingaan nie. Maar nou sal dit die ding wees wat ons met Gíbea sal doen; ons sal deur die lot daarteen optrek; En ons sal tien man uit honderd uit al die stamme van Israel neem, en honderd van duisend en duisend uit tien duisend, om voedsel vir die volk te gaan haal, wat hulle kan doen as hulle by Gíbea in Benjamin kom, volgens al die dwaasheid wat hulle in Israel gedoen het. Toe het al die manne van Israel teen die stad vergader, saamgebind soos een man.
RIGTERS 20:1-11 Die Boodskap (DB)
Toe het al die Israeliete van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide sowel as van die gebied van Gibea in die ooste in ’n groot vergadering by Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here. Al die stamme se leiers was by hierdie vergadering van die volk van God teenwoordig. Daar was ook 400 000 soldate met swaarde gewapen. Die boodskap het vinnig by die Benjaminiete uitgekom dat die ander stamme by Mispa bymekaargekom het. Die volk wou weet hoe so ’n ongehoorde ding kon gebeur het. Die Leviet wie se byvrou vermoor is, het vertel: “Ek en my vrou het in Gibea in die gebied van Benjamin aangekom terwyl ons op reis was en besluit om daar te oornag. Die mans van Gibea het in die nag gekom en die huis omsingel waarin ek was. Hulle wou my aanrand. Om die waarheid te sê, hulle wou my doodmaak, maar op die ou end het hulle my byvrou verkrag tot sy dood is. Toe het ek haar liggaam in twaalf stukke opgesny en een stuk aan elke stam van Israel gestuur; hierdie mans het ’n afskuwelike ding onder ons volk gedoen. Nou is ons almal hier, en ons is almal Israeliete. Wat gaan ons hieraan doen?” Die volk het eenparig verklaar: “Nie een van ons, maak nie saak waar jy bly nie, gaan terug huis toe nie. Wat ons wel gaan doen, is om Gibea ’n les te leer. Ons sal lootjies trek om te sien wie dit gaan doen. Ons sal so te werk gaan: een tiende van die mans van elke stam sal gekies word om te sorg dat die soldate genoeg kos het, die res sal Gibea gaan straf vir die vieslike ding wat hulle in Israel gedoen het.” Die volk het saamgestem. Hulle het toe gereedgemaak om die dorp aan te val.