Rigters 2:16-23

Rigters 2:16-23 AFR20

het die HERE rigters laat opstaan. Hulle het die volk dan verlos uit die hand van dié wat hulle geplunder het. Ook na hulle rigters het hulle nie geluister nie, want hulle het agter ander gode aan gehoereer en voor hulle in aanbidding gebuig. Hulle het gou afgewyk van die pad wat hulle voorouers gevolg het in gehoorsaamheid aan die HERE se gebooie. Hulle het nie so opgetree nie. Wanneer die HERE vir hulle rigters laat opstaan het, was die HERE met die rigter, en het Hy hulle verlos uit die hand van hulle vyande solank die rigter geleef het. Die HERE het hulle immers jammer gekry vanweë hulle gekreun oor dié wat hulle verdruk en onderdruk het. Maar wanneer die rigter sterf, het hulle nog meer ontaard as hulle ouers deur agter ander gode aan te loop, hulle te dien en voor hulle in aanbidding te buig. Hulle het nie enige van hulle dade en hardnekkige optrede laat vaar nie. Dan het die toorn van die HERE teen Israel ontbrand, en Hy het gesê: “Omdat hierdie nasie my verbond wat Ek hulle voorvaders opgelê het, oortree het, en nie na my stem geluister het nie, sal Ek ook nie voortgaan om enigiemand voor hulle te verdryf nie – nie enige van die nasies wat Josua laat oorbly het toe hy dood is nie – om Israel sodoende deur hulle te toets: Gaan hulle by die HERE se paaie hou deur daarop te loop soos hulle voorouers daarby gehou het, of nie?” Daarom het die HERE daardie nasies met rus gelaat deur hulle nie dadelik te verdryf nie. Hy het hulle ook nie in Josua se hand oorgegee nie.