RIGTERS 2:16-23

RIGTERS 2:16-23 NLV

Die HERE het egter leiers na vore laat kom om die volk te red van die mense wat hulle beroof het. Maar die volk was nie gehoorsaam aan hulle leiers nie. Hulle het agter ander gode aangegaan en hulle aanbid. Hulle het gou afgewyk van die koers wat hulle voorouers ingeslaan het, naamlik om die HERE se gebooie te volg. Hulle het nie dieselfde koers gevolg nie. Wanneer die HERE vir hulle ’n leier gegee het, was Hy saam met daardie leier en het Hy die volk gered van hulle vyande so lank as wat die leier geleef het. Die HERE was jammer vir sy volk wanneer hulle gekla het oor die mense wat hulle laat swaarkry en hulle onderdruk het. Sodra die leier egter sterf, het hulle maar weer teruggeval op die ou weë en het hulle net nog erger tekere gegaan as die mense voor hulle. Hulle het agter vreemde gode aangeloop om hulle te aanbid en voor hulle te buig. Hulle het nie van hulle verkeerde dade afgesien of hulle eiewilligheid gelos nie. Die HERE het dan weer woedend geword en vir Homself gesê: “Hierdie volk verbreek die verbond wat Ek met hulle voorouers gemaak het. Hulle luister nie na My nie. Daarom gaan Ek nie langer die nasies wat oorgebly het ná Josua se dood uitdryf nie. Ek gaan Israel met hierdie nasies toets om te kyk of hulle agter die HERE aangaan soos hulle voorouers, of nie.” Daarom het die HERE hierdie nasies net so gelos en hulle nie verdryf nie. Dit is hoekom Hy hulle destyds ook nie in Josua se mag oorgegee het nie.