Rigters 16:1-21

Rigters 16:1-21 AFR20

Simson het na Gasa gegaan. Hy het daar 'n prostituut gesien en by haar ingegaan. Aan die mense van Gasa is berig: “Simson het hierheen gekom.” Hulle het die stad omsingel en hom die hele nag by die stadspoort ingewag. Hulle was die hele nag stil, en het gesê: “Teen dagbreek maak ons hom dood.” Simson het egter tot in die middel van die nag bly lê. Hy het in die middel van die nag opgestaan, die deure van die stadspoort en ook die twee kosyne beetgepak en dit saam met die sluitbalk uitgeruk. Hy het dit op sy skouers gesit en dit opgedra na die kruin van die berg wat teenoor Hebron lê. 'n Ruk daarna het hy verlief geraak op 'n vrou in die Sorekdal; haar naam was Delila. Die regeerders van die Filistyne het na haar toe opgegaan en vir haar gesê: “Praat hom om en vind uit waarin sy groot krag lê, en hoe ons hom kan oorweldig en vasbind om hom weerloos te laat. Elkeen van ons sal vir jou eenduisend eenhonderd sikkel silwer gee.” Delila sê toe vir Simson: “Vertel asseblief vir my waarin jou groot krag lê, en hoe jy vasgebind kan word om jou weerloos te laat.” Simson het haar geantwoord: “As hulle my vasbind met sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog is nie, sal ek swak word en soos enige ander mens wees.” Die regeerders van die Filistyne het sewe vars boogsnare wat nog nie uitgedroog was nie, vir haar gestuur. Sy het hom daarmee vasgebind. Terwyl dié wat wegkruip in die binnekamer op haar wag, sê sy vir hom: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Maar hy het die boogsnare uitmekaar geruk soos vlasdraadjies breek wanneer dit vuur ruik, en dit het nie bekend geword waarin sy krag lê nie. Toe sê Delila vir Simson: “Kyk, jy het my vir die gek gehou; jy het vir my leuens vertel. Vertel nou asseblief vir my waarmee jy vasgebind kan word.” Hy het haar geantwoord: “As hulle my stewig vasbind met nuwe toue waarmee nog geen werk gedoen is nie, sal ek swak word en soos enige ander mens wees.” Delila het toe nuwe toue geneem en hom daarmee vasgebind. Terwyl dié wat wegkruip in die binnekamer wag, sê sy vir hom: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Maar hy het die toue van sy voorarms af gebreek soos 'n garingdraad. Delila sê toe vir Simson: “Tot nou toe het jy my vir die gek gehou en vir my leuens vertel. Vertel my waarmee jy vasgebind kan word.” Hy het vir haar gesê: “As jy die sewe vlegsels op my kop in die skering van die weefraam inweef.” Sy het dit met die pen vasgeslaan en vir hom gesê: “Die Filistyne is op jou, Simson!” Hy het uit sy slaap wakker geskrik en die pen van die weefspoel saam met die skering uitgeruk. Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê, ‘Ek het jou lief,’ maar jou hart is nie by my nie? Dit is die derde keer dat jy my vir die gek gehou het en nie vir my vertel het waarin jou groot krag lê nie.” En omdat sy die hele tyd met haar versoeke by hom geneul het en hom lastig geval het, het hy so ongeduldig geraak dat hy kon sterf. Hy het toe sy hele hart vir haar oopgemaak. Hy het vir haar gesê: “'n Skeermes het nog nooit naby my kop gekom nie, want ek is van die moederskoot af 'n •nasireër van God. As ek geskeer word, sal my krag van my wyk. Ek sal swak word en soos enige ander mens wees.” Delila het gesien dat hy sy hele hart vir haar oopgemaak het. Sy het die regeerders van die Filistyne laat roep en gesê: “Kom hierdie keer hierheen op, want hy het vir my sy hele hart oopgemaak.” Die regeerders van die Filistyne het na haar opgegaan met die silwer by hulle. Sy het hom op haar skoot aan die slaap gemaak, iemand geroep en die sewe vlegsels op sy kop afgeskeer. So het sy begin om hom weerloos te maak. Sy krag het van hom gewyk. Toe sy sê, “Die Filistyne is op jou, Simson!” het hy uit sy slaap wakker geskrik en gedink: “Ek sal uitkom soos elke vorige keer. Ek sal myself losruk.” Hy het egter nie besef dat die HERE van hom gewyk het nie. Toe gryp die Filistyne hom en steek sy oë uit. Hulle het hom na Gasa afgeneem en hom met bronskettings geboei. Hy moes toe maalwerk doen in die gevangenis.