Jakobus 5:1-20

Jakobus 5:1-20 AFR20

Kom nou, julle rykes, huil en weeklaag oor die rampe wat julle gaan tref! Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer. Julle het in die laaste dae skatte opgegaar. Kyk, die loon wat julle weerhou het van die arbeiders wat julle lande geoes het, roep dit uit, en die geroep van diegene wat oes, het die ore van die HERE, Heerser oor alle magte, bereik. Julle het op aarde weelderig en losbandig gelewe. Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag. Julle het die •regverdige veroordeel en vermoor; hy kan hom nie teen julle verweer nie. Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het. Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het. Kyk, ons beskou hulle wat volhard, as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is. Bo alles, my broers, moenie sweer nie – nie by die hemel nie, en nie by die aarde nie – en moet ook geen ander eed aflê nie. Maar laat julle “ja” 'n “ja” wees, en julle “nee” 'n “nee”, sodat die oordeel julle nie tref nie. As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die •gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. Elia was 'n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer. My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid, en iemand hom laat terugdraai, moet hy weet dat wie 'n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Jakobus 5:1-20

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid