JAKOBUS 5:1-20

JAKOBUS 5:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Kom nou, julle rykes, huil en weeklaag oor die rampe wat julle gaan tref! Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer. Julle het in die laaste dae skatte opgegaar. Kyk, die loon wat julle weerhou het van die arbeiders wat julle lande geoes het, roep dit uit, en die geroep van diegene wat oes, het die ore van die HERE, Heerser oor alle magte, bereik. Julle het op aarde weelderig en losbandig gelewe. Julle het julle harte vet gevoer vir die slagdag. Julle het die •regverdige veroordeel en vermoor; hy kan hom nie teen julle verweer nie. Wees geduldig, broers, tot met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag met geduld op die waardevolle opbrengs van die aarde, tot die vroeë en laatreëns geval het. Wees dan geduldig, staal julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie geoordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding en geduld, broers, die profete wat in die Naam van die Here gepraat het. Kyk, ons beskou hulle wat volhard, as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is. Bo alles, my broers, moenie sweer nie – nie by die hemel nie, en nie by die aarde nie – en moet ook geen ander eed aflê nie. Maar laat julle “ja” 'n “ja” wees, en julle “nee” 'n “nee”, sodat die oordeel julle nie tref nie. As iemand van julle swaarkry, moet hy bid. As iemand opgeruimd is, moet hy psalms sing. As iemand van julle siek is, moet hy die ouderlinge van die •gemeente roep, sodat hulle vir hom kan bid, nadat hulle hom in die Naam van die Here met olyfolie gesalf het. Die gelowige gebed sal die sieke gesond laat word, en die Here sal hom weer oprig. En as hy sonde gedoen het, sal hy vergewe word. Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n •regverdige is baie kragtig in sy uitwerking. Elia was 'n mens net soos ons, en hy het vurig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie op die aarde gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrug opgelewer. My broers, as enigeen van julle afdwaal van die waarheid, en iemand hom laat terugdraai, moet hy weet dat wie 'n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, sy siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.

JAKOBUS 5:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Ryk mense, julle moet luister, julle moet huil en skree oor die slegte dinge wat met julle sal gebeur. Julle het baie goed bymekaargemaak, maar dit het vrot geword, en die motte het julle klere gevreet. Julle goud en silwer het geroes, en die roes sal wys watter slegte dinge julle gedoen het. Roes vreet goud en silwer, en die vuur van die Here se straf sal ook vir julle brand, want julle het mooi en duur goed bymekaargemaak in hierdie laaste dae voordat die Here kom. Kyk wat het julle gedoen! Julle het nie die mense betaal wat koring afgesny het op julle lande nie. Die geld wat húlle moes gekry het, beskuldig nou vir júlle. Ja, die Here wat oor alles regeer, hoor altyd wanneer die mense wat die koring afgesny het, skree en vra dat Hy hulle moet help. Hier op die aarde het julle duur goed gekoop en julle het die lewe geniet. Julle het vet geword toe die tyd al naby was, die tyd wanneer die Here almal sal straf wat verkeerd gedoen het. Julle het gesê onskuldige mense is skuldig. Hulle kon julle nie keer nie en hulle kon hulleself nie verdedig nie, maar julle het hulle vermoor. Vriende, julle moet geduldig wag totdat die Here kom. Julle weet dat 'n boer geduldig wag om al die koring op die land af te sny. Hy moet geduldig wag totdat die vroeë reën en die laat reën geval het. Dit is dieselfde vir julle: Julle moet ook geduldig wees, julle moet aanhou hoop, want dit sal nie meer lank wees nie, dan sal die Here kom. Vriende, julle moenie kla oor mekaar nie. As julle kla, dan sal die Here julle oordeel. Julle moet dit weet: Daardie Regter is naby, so naby soos iemand wat voor die deur staan. Vriende, die profete het gesê wat die Here vir hulle gesê het, hulle is 'n voorbeeld vir julle, hulle is mense wat baie swaar gekry het en wat geduldig gewag het. Julle moet dieselfde doen soos hulle gedoen het. Ons dink dat die mense wat geduldig wag, gelukkige mense is. Julle het gehoor dat Job geduldig was, en julle het gesien wat die Here se plan met hom was. Die Here was baie jammer vir Job en Hy was baie goed vir Job. Maar die belangrikste van alles is dit: Julle moenie iets belowe en sê die hemel is die getuie nie, julle moet ook nie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, julle moenie iets belowe en sê enige iets is die getuie nie. Sê “ja” wanneer julle “ja” wil sê, en sê “nee” wanneer julle “nee” wil sê. As julle dit nie doen nie, dan sal God julle straf. Wanneer daar iemand by julle is wat swaarkry, dan moet hy bid. Wanneer daar iemand is wat bly is, dan moet hy vir die Here sing. Wanneer daar iemand by julle is wat siek is, dan moet hy die ouderlinge van die gemeente roep om na hom toe te kom. Die ouderlinge moet die Naam van die Here sê en hulle moet olyf-olie op die persoon gooi en vir hom bid. As die ouderlinge bid en glo dat die Here die siek persoon gesond sal maak, dan sal hy gesond word. Die Here sal hom laat opstaan van sy bed, en as hy sonde gedoen het, dan sal die Here sy sonde vergewe. Daarom moet julle vir mekaar sê dat julle jammer is oor julle sondes. Julle moet ook vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Wanneer iemand doen wat die Here wil hê en hy bid, dan sal sy gebed help dat groot dinge gebeur. Elia was 'n mens soos ons. Hy het baie ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en dit het drie jaar en ses maande lank nie gereën op die aarde nie. Toe het Elia weer gebid, en die reën het uit die lug gekom, en die aarde het sy plante laat groei. My vriende, as daar iemand by julle is wat nie meer na die waarheid van die goeie boodskap wil luister nie, dan kan een van julle hom miskien help om weer na die Here te luister. Julle moet dan onthou: As so iemand 'n ander gelowige help om nie weer verkeerd te doen nie, dan red hy hom van die dood. Dan sal die Here baie sondes vergewe.

JAKOBUS 5:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

KOM nou, julle rykes, ween en huil oor die ellendes wat oor julle kom. Julle rykdom is bedorwe, en julle klere is deur die motte verniel. Julle goud en silwer is verroes, en hulle roes sal tot 'n getuienis teen julle wees en sal soos 'n vuur julle vlees verteer. Julle het skatte vergader in die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare. Julle het op die aarde 'n weelderige en losbandige lewe gelei; julle het jul harte vet gevoer soos op 'n slagdag. Veroordeel, vermoor het julle die regverdige; hy versit hom nie teen julle nie. WEES dan geduldig, broeders, tot op die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kostelike vrug van die aarde en het geduld daarmee totdat dit die vroeë en die laat reën ontvang het. Julle moet ook geduldig wees; versterk julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moenie teen mekaar sug nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie. Kyk, die Regter staan voor die deur. Neem as voorbeeld van lyding, my broeders, en van geduld die profete wat in die Naam van die Here gespreek het. Kyk, ons reken hulle geluksalig wat verdra. Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is. Maar bo alles, my broeders, moenie sweer nie: nie by die hemel nie, ook nie by die aarde nie en ook geen ander eed nie; maar laat julle ja ja wees en julle nee nee, sodat julle nie onder 'n oordeel val nie. Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing. Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van 'n regverdige het groot krag. Elía was 'n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit. Broeders, as een onder julle van die waarheid afgedwaal het en iemand hom bekeer, laat hy weet dat die een wat 'n sondaar van sy dwaalweg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal bedek.

JAKOBUS 5:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

En nou, julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom. Julle rykdom sal tot niet gaan en julle klere sal deur motte opgevreet word, julle goud en silwer sal verroes. Die roes sal teen julle getuig en aan julle vreet soos 'n vuur. Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is. Ja, julle hou die loon agter van die werkers wat julle lande afgeoes het. Dit skreeu ten hemel; die geroep van dié wat geoes het, het tot by die Here die Almagtige gekom. Hier op aarde lewe julle in weelde en oordaad; julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag reeds daar is. Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en hy bied geen teenstand nie. Wag dan geduldig, broers, totdat die Here kom. Let op hoe die boer wag vir die kosbare oes wat die land oplewer. Hy wag geduldig daarvoor totdat dit die vroeë en die laat reëns gekry het. Julle moet ook geduldig wag en moed hou, want dit is nie meer lank nie, dan kom die Here. Moenie oor mekaar kla nie, broers, sodat julle nie veroordeel word nie. Die Regter staan al voor die deur. Broers, neem die profete wat in die Naam van die Here gepraat het, as voorbeelde van lyding en geduld. Ons noem hulle geseënd omdat hulle volhard het. Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming. My broers, dit is baie belangrik dat julle nie 'n eed moet aflê nie, nie by die hemel nie, nie by die aarde nie en ook nie enige ander eed nie. As julle “ja” sê, moet dit “ja” wees; as julle “nee” sê, moet dit “nee” wees. Dan sal julle nie veroordeel word nie. As daar iemand onder julle is wat swaar kry, moet hy bid. As daar iemand is wat opgeruimd is, moet hy lofliedere sing. As daar iemand van julle is wat siek is, moet hy die ouderlinge van die gemeente laat kom, en hulle moet vir hom bid en hom met olie salf onder aanroeping van die Naam van die Here. En as hulle gelowig bid, sal dit vir die sieke genesing bring: die Here sal hom gesond maak. As hy gesondig het, sal dit hom vergewe word. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking. Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer. My broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat 'n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom uit die dood red en maak dat 'n menigte sondes vergewe word.

JAKOBUS 5:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Gaan nou, julle rykes, huil en huil oor julle ellende wat oor julle sal kom. Jou rykdom is bedorwe, en jou klere is verhard. Jou goud en silwer is vergaan; en hulle roes sal 'n getuie teen jou wees en jou vlees soos vuur eet. Julle het skatte bymekaargemaak vir die laaste dae. Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgemaai het, wat van julle teruggehou word deur bedrog, roep; Julle het in plesier gelewe op die aarde, en julle was losbandig; julle het julle harte gevoed soos op 'n dag van slagting. Julle het die regverdiges veroordeel en gedood; en Hy weerstaan jou nie. Wees dan geduldig, broeders, met die wederkoms van die Here. Kyk, die landbouer wag op die kosbare vrugte van die aarde, en hy is lankmoedig daarvoor, totdat hy die vroeë en laat reëns ontvang het. Wees ook geduldig; bevestig julle harte, want die wederkoms van die Here is naby. Moet julle nie teen mekaar haat nie, broeders, sodat julle nie veroordeel word nie; kyk, die regter staan voor die deur. Neem, my broeders, die profete wat in die Naam van die Here gespreek het, as 'n voorbeeld van lyding van verdrukking en van geduld. Kyk, ons ag die gelukkige wat volhard. Julle het gehoor van die lankmoedigheid van Job en die einde van die Here gesien; dat die Here baie barmhartig en barmhartig is. Maar bo alles, my broers, sweer nie, ook nie by die hemel of by die aarde of by enige ander eed nie; maar laat julle ja ja wees; en jou nee, nee; dat julle nie in die veroordeling val nie. Is daar iemand onder julle wat benoud is? laat hom bid. Is enige vrolik? laat hom psalms sing. Is daar iemand onder julle wat siek is? laat hy die ouderlinge van die kerk roep; en laat hulle oor hom bid en hom in die Naam van die Here met olie salf. En die gebed van die geloof sal die sieke red, en die Here sal hom oprig; en as hy sondes gedoen het, sal dit hom vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die kragtige vurige gebed van 'n regverdige het baie baat. Elía was 'n man onderworpe aan soortgelyke hartstogte soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie; en dit het nie op die aarde gereën oor die verloop van drie jaar en ses maande nie. En hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee, en die aarde het sy vrugte voortgebring. Broeders, as iemand van julle van die waarheid afdwaal en iemand hom bekeer; Laat hom weet dat hy wat die sondaar van die dwaling van sy weg bekeer, 'n siel uit die dood sal red en 'n menigte sondes sal verberg.

JAKOBUS 5:1-20 Die Boodskap (DB)

Staan ’n bietjie nader en luister hierna, julle wat dink geld maak julle so belangrik. Vreeslike dinge wat julle baie seer gaan maak, wag vir julle. Dan sal julle net met julle kop in julle hande kan sit en huil. Die baie geld en status wat julle so belangrik laat voel, is besig om voor julle oë te vergaan. Die motte vreet julle klere op en julle geld verloor waarde. Dinge wat vir julle soveel werd is, word oud en gaan stukkend. Soos al die dinge wat julle so belangrik laat voel, stukkend gaan en opgeëet word, so word die sin van julle lewe weggevreet. Dit is soos ’n veldbrand wat julle lewe stukkie vir stukkie wegbrand. Geld is al waarmee julle julle besig hou en waaroor julle gesels; intussen is die wederkoms van die Here naby. Onthou julle die werksmense wat op julle lande gewerk het? Onthou julle hoe julle hulle nie gegee het wat hulle eintlik verdien het nie? En hulle kon niks daaraan doen nie, want hulle was magteloos. Sulke dinge kan ’n mens nie stil hou nie. Dit is of dié geld wat julle vir julleself gehou het, self aan die skree gaan omdat julle so oneerlik is. Die Here, wat sterker as almal is, hoor duidelik hoe daardie werkers magteloos kla. Julle wat ryk is, het meer as wat julle nodig het. Julle het so baie dat julle eintlik daarmee mors. Julle koop goed wat julle glad nie nodig het nie. Terwyl ander mense doodgaan van die honger is julle besig om julleself vet te voer. Julle behandel mense wat julle niks gedoen het nie en wat onskuldig is, asof hulle vuilgoed is en maak hulle baie seer. Hou moed, my vriende, tot die Here terugkom. Soos ’n goeie boer moet julle nie dinge wil aanjaag nie. ’n Boer wag geduldig tot die oes vol op die lande staan. Hy wag maar vir die reën om te kom, vandat dit aan die begin van die seisoen begin val, totdat die laaste druppel klaar geval het aan die einde van die seisoen. Julle moet die geduld van daardie boer hê. Moenie dat iets julle van stryk bring nie. Die Here is op pad na ons toe. Liewe mede-Christene, moenie oor mekaar kla en stories oor mekaar aandra nie. Dit kan in God se oë tot julle nadeel wees. Die Here, wat uiteindelik ’n goeie of slegte oordeel oor julle lewe sal moet uitspreek, kan enige oomblik kom. Liewe broers en susters, die manne wat in die ou dae so getrou die woord van die Here aan almal vertel het, is vir ons ’n voorbeeld van mense wat nie moed verloor het nie. Hulle het soms baie swaargekry, maar hulle het aangehou. Julle weet dat ons almal dink dat hulle regtig iets bereik het omdat hulle hulle nie van die Here se koers laat afbring het nie. Julle het mos gehoor van Job en wat die Here uiteindelik vir hom gedoen het. Dit is ’n verhaal van hoe goed en vol liefde die Here regtig is. Liewe vriende, daar is nog iets wat ek vir julle moet sê en dit is belangrik. Moenie sweer of enigiets anders doen om so te wil bewys dat julle die waarheid praat nie. Praat altyd die waarheid. As julle “ja” moet sê, sê dan “ja”, en as julle “nee” moet sê, sê dit. Dan sal julle nie by God in die moeilikheid kom nie. Is een van julle dalk in die moeilikheid? Laat hy dan met God gaan praat. As iemand goed of gelukkig voel, moet hy liedere sing wat vertel hoe goed God vir hom is. Is een van julle siek? Hy moet die leiers in die gemeente roep om vir hom te bid. Hulle moet olie op hom sit as bewys van die teenwoordigheid en krag van God. As ’n mens God so vra en Hom vertrou, sal die Here dié persoon help. Hy sal hom nie alleen gesond maak nie, maar as hy dinge gedoen het waarvan God nie hou nie, sal God hom ook oorsien. Erken dit openlik as julle dinge gedoen het wat God nie wou gehad het nie. Bid vir mekaar sodat julle gesond kan word. God luister graag na mense wie se saak met Hom reg is. Elia is ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy was maar ’n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ’n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly. Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was. Liewe Christene, sê nou een van julle raak die koers byster en iemand sou hom reghelp, wat dan? Wel, iemand wat so ’n persoon weer op die regte pad help, help hom om nie sy lewe weg te gooi nie. As hy hom nie gehelp het nie, sou daardie persoon totaal van God af weggedwaal en sonder God gesterf het. Hy sal daardie persoon help om weg te draai van al die verkeerde dinge wat hy gedoen het, asof dit nooit deel van sy lewe was nie.

JAKOBUS 5:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kom nou, julle ryk mense, huil en treur oor al die swaar wat vir julle voorlê. Julle rykdom sal definitief vergaan en julle klere deur motte gevreet word. Julle goud en silwer sal beslis oproes. Hierdie einste roes sal soos vuur julle vleis wegvreet. Só sal die goud en silwer wat julle opgegaar het, op die oordeelsdag teen julle getuig. Kyk, die betaling van die arbeiders wat julle lande afgeoes het en wat julle van hulle teruggehou het, skree teen julle. En die krete van dié wat geoes het, het die ore van die Here die Almagtige bereik. Hier op aarde het julle luuks en in weelde geleef, en na hartelus elke behoefte bevredig. Julle harte is mooi vetgemaak, net reg vir die slagdag. Julle het goeie mense veroordeel en vermoor, en hulle kon hulle nie teen julle verdedig nie. Wees dan geduldig, broers en susters, totdat die Here weer hier is. Dink net hoe ’n boer uitkyk vir die herfs- en lentereën. Hy wag geduldig vir die kosbare oes wat die land oplewer. Net so moet julle geduldig wees. En skep moed, want die koms van die Here is naby. Moenie oor mekaar kla nie, broers en susters, anders sal God oor julle oordeel. Kyk, die Groot Regter kom. Hy staan al voor die deur! Broers en susters, neem die profete wat namens die Here gepraat het as ’n voorbeeld van geduld in swaarkry. Ons gee met reg eer aan dié wat in swaarkry uithou. Job is ’n voorbeeld van iemand wat geduldig volhard het. Uit wat uiteindelik met hom gebeur het, sien ons dat God se einddoel goed is. Die Here is mos vol innige meelewing en Hy gee onverdiend sy liefde. My broers en susters, die belangrikste is dat julle nie moet sweer nie – nie by die hemel nie, nie by die aarde nie, nie by enigiets anders nie. Sê net “ja” of “nee”, en bedoel dit. Dan sal julle nie veroordeel word nie. Is daar van julle wat swaarkry? Dan moet julle aanhou bid daaroor. En dié wat opgeruimd is, moenie ophou lofliedere sing nie. Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ’n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan. En watter sondes die sieke ook al gedoen het, dit sal hom vergewe word. Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het ’n kragtige werking. Elia was ’n mens net soos ons. Nogtans, toe hy ernstig gebid het dat dit nie moes reën nie, het daar drie jaar en ses maande lank nie ’n druppel op die aarde geval nie! Toe hy vir reën gebid het, het God reën gegee. Die plante het weer gegroei. My broers en susters, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom laat terugdraai, weet dan dat hy wat ’n sondaar van sy dwaalweg laat terugdraai, hom uit die dood verlos en maak dat ’n klomp sondes bedek word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid