Jesaja 59:1-13

Jesaja 59:1-13 AFR20

Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te verlos nie, sy oor is nie hardhorend, sodat Hy nie kan hoor nie. Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie; want julle handpalms is deur bloed besoedel, en julle vingers deur sondeskuld. Julle lippe praat leuens, julle tonge prewel ongeregtigheid. Niemand beroep hom op geregtigheid nie, en niemand bepleit sy saak met die waarheid nie. Hulle vertrou op nietighede, en maak valse uitsprake. Hulle raak swanger van moeilikheid, en gee geboorte aan onheil. Hulle broei die eiers van kobras uit, en weef spinnerakke. Wie van daardie eiers eet, sterf; en as dit stukkend gedruk word, peul daar adders uit. Hulle spinnerakdrade deug nie vir klere nie – met hulle handewerk kan mense hulleself nie bedek nie. Hulle handewerk is onheilswerk – dade van geweld is in hulle hande. Hulle voete hardloop na die kwaad; hulle haas hulle om onskuldige bloed te vergiet. Hulle planne is planne van onheil; daar is verwoesting en vernietiging op hulle hoofpaaie. Die pad van vrede ken hulle nie. Daar is geen regverdige optrede op hulle roetes nie. Hulle maak self hulle paaie vol kinkels; niemand wat daarop loop, ervaar vrede nie. Daarom is regverdigheid ver van ons, geregtigheid bereik ons nie. Ons wag op die lig, maar kyk, daar is duisternis – op 'n ligskynsel, maar ons dwaal in die donker. Ons tas soos blindes aan 'n muur, asof sonder oë tas ons rond. Ons slaan helder oordag neer, asof dit skemeraand is; ons slaan tussen gesondes neer, asof ons dooies is. Soos bere grom ons almal, soos duiwe kla ons aanhoudend. Ons wag op regverdigheid, maar daar is niks nie – op verlossing, maar dit bly ver van ons. Want ons oortredings voor U is baie, ons sonde getuig teen ons. Ja, ons oortredings is met ons, en ons sondeskuld – ons ken dit: Ons oortree teenoor, en verloën die HERE; ons draai weg van ons God af deur te praat oor afpersing en wat vals is. Ons het swanger geraak van leuentaal, en prewel dit uit die hart.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid