JESAJA 59:1-13

JESAJA 59:1-13 NLV

Die HERE is nie te swak om julle te red nie. Hy is nie te doof om julle te hoor nie. Julle probleem is dat julle sondes julle afgesny het van God. Hy het weggedraai van julle. Dit is weens julle sondes dat Hy nie meer na julle wil luister nie. Julle hande is vol bloed, julle vingers is skuldig van al die onreg. Julle monde is vol liegstories. Julle tonge fluister net onreg. Niemand stel sy saak met opregtheid nie. Geen uitspraak is betroubaar nie. Almal vertrou op leë argumente en praat leuens. Hulle verwek slegte gedagtes en gee dan geboorte aan onreg. Hulle broei slangeiers uit en weef ’n spinnekopweb. Dié wat van die eiers eet, sal sterf. En as die eiers breek, kom daar slange uit. Die spinnerakke is onbruikbaar vir klere; hulle kan hulleself nie daarmee toemaak nie. Hulle dade is vol boosheid en hulle kenteken is geweld. Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet. Hulle planne is bose planne. Hulle kenmerk is ondergang en verwoesting. Ware vrede ken hulle nie. Op hulle paaie is daar geen reg nie. Dié wat daarop loop, sal nie vrede ken nie. Daarom is redding ver van ons, geregtigheid nie te vind nie. Ons wag op lig, maar alles bly donker om ons. Ons wag vir helderheid, maar dit is nog steeds donker. Soos blindes tas ons teen die mure. Ons tas rond soos mense sonder oë. Selfs helder oordag struikel ons asof dit skemer is. Geen wonder ons is soos lyke tussen gesonde mense nie! Ons grom soos honger bere. Ons kla soos tortelduiwe. Want ons soek na reg, maar dis nêrens te kry nie. Ons soek na uitkoms, maar dit bly ver van ons af. Ons oortredings teen U is baie. Ons sondes getuig teen ons. Ons opstandigheid is altyd voor ons, ons is bewus van ons sondes: ons opstand en valsheid teen die HERE, die ontrou teen ons God, ons onreg en verdraaiing van die reg. Ons beplan en vertel leuens.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid