Jesaja 45:1-13

Jesaja 45:1-13 AFR20

“ So sê die HERE vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie, ‘Ek self sal voor jou uit gaan, die berge sal Ek gelyk maak. Deure van brons sal Ek stukkend breek, en sluitbalke van yster sal Ek stukkend kap. Ek gee aan jou skatte in die donker, rykdomme in verborge plekke, sodat jy kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat jou op jou naam roep, die God van Israel, ter wille van my dienskneg Jakob, en Israel, my uitverkorene. Ek roep jou op jou naam, Ek gee jou 'n erenaam, al het jy My nie geken nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen god nie. Ek omgord jou, al het jy My nie geken nie, sodat hulle van waar die son opkom, en van waar hy ondergaan, kan weet dat daar niks is buiten My nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie – die Een wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep. Ek, die HERE, bewerk al hierdie dinge. “ ‘ Hemele daar bo, laat dit neerstuif, en laat die wolke geregtigheid neersif! Die aarde moet oopgaan; dit moet verlossing as vrug voortbring; geregtigheid moet daarmee saam uitspruit. Ek, die HERE, het dit geskep. “ ‘ Wee hom wat 'n stryd aanknoop met die een wat hom gevorm het – hy is 'n potskerf tussen potskerwe op die grond! Vra die klei vir die een wat dit vorm: “Wat maak jy? Jou maaksel – dit het nie eers handvatsels nie!” Wee hom wat vir 'n vader sê: “Waarom verwek jy kinders?” of vir 'n vrou, “Waarom krimp jy ineen vir geboorte?” ’ ” So sê die HERE, die Heilige van Israel, wat hom gevorm het: “Die dinge wat kom – vra My daaroor! Oor my kinders en my handewerk moet julle My mos opdragte gee! Dit is Ek wat die wêreld gemaak het, en die mense daarop het Ek geskep. Ek, ja, my hande het die hemelruim oopgespan, en aan al die hemelliggame het Ek opdragte gegee. Dit is Ek wat hom opgewek het, met die oog op geregtigheid. Al sy paaie sal Ek gelyk maak. Dit is hy wat my stad sal herbou en my ballinge sal vrylaat, sonder 'n koopprys, sonder omkoopgeld,” sê die HERE, Heerser oor alle magte.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid