JESAJA 45:1-13

JESAJA 45:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Die Here praat met Kores, die man wat Hy gesalf het. Die Here het hom gehelp om volke te oorwin. Konings het opgehou om oorlog te maak teen Kores en die poorte van stede het vir hom oopgegaan. Die Here sê vir Kores: “Ek sal jou lei en Ek sal jou pad gelyk maak. Ek sal die poorte van koper en yster breek sodat jy kan ingaan. Ek sal vir jou die goed gee wat die ander konings weggesteek het in donker plekke. Dan sal jy weet Ek is die Here wat jou geroep het en wat jou naam genoem het, Ek is die God van Israel. Ek het dit gedoen om my dienaars te help. Hulle is die nageslag van Jakob, die Israeliete, Ek het hulle gekies. Ek het jou geroep en Ek het jou naam genoem. Jy het My nie geken nie, maar Ek gee vir jou 'n spesiale naam. Ek is die Here, daar is nie nog 'n ander Here nie. Net Ek is God. Jy het My nie geken nie, maar Ek maak jou sterk om oorlog te maak. Dan sal al die volke weet dat net Ek God is. Ek is die Here, daar is nie 'n ander Here nie. Ek laat dit lig word of donker word, Ek laat dit goed gaan of sleg gaan, Ek, die Here, doen dit alles. Ek sal vrede gee soos reën uit die wolke in die lug, soos water uit die fonteine in die grond. Dit sal goed gaan, en almal sal reg doen. Ek, die Here, sal dit doen.” Dit sal sleg gaan met iemand wat wil stry met die God wat hom gemaak het en wat vir God wil sê Hy doen verkeerd. So iemand is soos 'n stuk van 'n kleipot wat gebreek het. Die klei kan nie praat met die pottebakker en sê: “Wat maak jy? Jy werk nie reg nie.” Dit sal sleg gaan met iemand wat vir sy pa en sy ma sê: “Ek is julle kind, maar hoekom lyk ek so?” Dit is die Here wat praat, die Heilige God van Israel. Hy het Israel gemaak. Hy sê: “Hoekom vra julle wat sal gebeur en wie my kinders is? Hoekom wil julle vir my sê wat Ek moet doen? Ek het die aarde gemaak en die mense daarop. My hande het die hemeldak gemaak en Ek het dit styfgetrek soos 'n tent, en Ek het gesê al die sterre moet daar wees. Ek het vir Kores gestuur om te doen wat Ek wil hê en Ek maak al sy paaie gelyk. Hy sal my stad weer bou en hy sal my mense laat terugkom, my mense wat nou in ander lande is. Niemand sal hom betaal om dit te doen nie.” Dit sê die Here wat oor alles regeer.

JESAJA 45:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

SO sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. En Ek sal jou die skatte gee wat in die donkerheid is en die verborge rykdomme, sodat jy kan weet dat Ek die HERE is wat jou by jou naam roep, die God van Israel; ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou 'n erenaam gegee, hoewel jy My nie geken het nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen. Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit. Ek, die HERE, het dit geskape. HERE WEE hom wat met sy Formeerder twis — 'n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie! Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë? So sê die HERE, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe! Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee. Ek het hom verwek in geregtigheid, en al sy weë sal Ek gelykmaak; hý sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die HERE van die leërskare.

JESAJA 45:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

So sê die Here aan sy gesalfde, aan Kores, vir wie Hy as heerser aangestel het, aan wie Hy nasies onderwerp en voor wie Hy konings hulle wapens laat neerlê, voor wie Hy deure oopmaak en poorte nie gesluit laat bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak. Ek sal bronspoorte oopbreek en sluitbalke van yster stukkend kap. Ek sal vir jou die skatte gee wat in die donker gebêre word, die rykdomme wat weggesluit is, sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel. Ter wille van my dienaar Jakob, van Israel wat Ek uitverkies het, het Ek jou op jou naam geroep, gee Ek jou 'n eretitel hoewel jy My nie ken nie. Ek is die Here, daar is geen ander nie, buiten My is daar geen God nie. Ek rus jou toe vir jou taak al ken jy My nie. Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af tot in die weste kan weet dat daar buiten My geen God is nie; Ek is die Here, daar is geen ander nie. Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge. Laat die reën uitsak, hemel, laat redding reën, wolke, breek oop, aarde, laat voorspoed ontkiem, laat trou uitspruit. Ek is die Here, Ek skep hierdie dinge. Ellende wag vir hom wat die Een verwyt wat hom gevorm het, 'n potskerf tussen potskerwe van klei. Durf die klei vir die een wat dit vorm, sê: “Wat maak jy?” Durf wat jy gemaak het, van jou sê: “Hy kan nie sy hande gebruik nie!” Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê: “Waarom verwek u 'n kind?” of vir sy ma: “Waarom bring u 'n kind in die wêreld?” So sê die Here, die Heilige van Israel, die Skepper van Israel: Durf julle van My rekenskap vra oor wat gaan gebeur? Durf julle aan My voorskryf oor my kinders en oor die werk van my hande? Ek het die aarde gemaak; die mensdom wat daarop is, het Ek geskep. Ek het met my hande die hemel oopgespan en Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee. Ek het vir Kores te voorskyn laat tree om reg te laat geskied; Ek verwyder elke hindernis op sy pad. Hy sal my stad weer opbou en my ballinge terugstuur sonder dat hy betaling of 'n geskenk daarvoor ontvang, sê die Here die Almagtige.

JESAJA 45:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ So sê die HERE vir sy gesalfde, vir Kores, wie se regterhand Ek vasgegryp het om nasies voor hom te verslaan, deur konings te ontwapen om voor hom deure oop te maak, sodat poorte nie vir hom gesluit sal bly nie, ‘Ek self sal voor jou uit gaan, die berge sal Ek gelyk maak. Deure van brons sal Ek stukkend breek, en sluitbalke van yster sal Ek stukkend kap. Ek gee aan jou skatte in die donker, rykdomme in verborge plekke, sodat jy kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat jou op jou naam roep, die God van Israel, ter wille van my dienskneg Jakob, en Israel, my uitverkorene. Ek roep jou op jou naam, Ek gee jou 'n erenaam, al het jy My nie geken nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen god nie. Ek omgord jou, al het jy My nie geken nie, sodat hulle van waar die son opkom, en van waar hy ondergaan, kan weet dat daar niks is buiten My nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie – die Een wat die lig vorm en die duisternis skep, wat voorspoed bewerk en onheil skep. Ek, die HERE, bewerk al hierdie dinge. “ ‘ Hemele daar bo, laat dit neerstuif, en laat die wolke geregtigheid neersif! Die aarde moet oopgaan; dit moet verlossing as vrug voortbring; geregtigheid moet daarmee saam uitspruit. Ek, die HERE, het dit geskep. “ ‘ Wee hom wat 'n stryd aanknoop met die een wat hom gevorm het – hy is 'n potskerf tussen potskerwe op die grond! Vra die klei vir die een wat dit vorm: “Wat maak jy? Jou maaksel – dit het nie eers handvatsels nie!” Wee hom wat vir 'n vader sê: “Waarom verwek jy kinders?” of vir 'n vrou, “Waarom krimp jy ineen vir geboorte?” ’ ” So sê die HERE, die Heilige van Israel, wat hom gevorm het: “Die dinge wat kom – vra My daaroor! Oor my kinders en my handewerk moet julle My mos opdragte gee! Dit is Ek wat die wêreld gemaak het, en die mense daarop het Ek geskep. Ek, ja, my hande het die hemelruim oopgespan, en aan al die hemelliggame het Ek opdragte gegee. Dit is Ek wat hom opgewek het, met die oog op geregtigheid. Al sy paaie sal Ek gelyk maak. Dit is hy wat my stad sal herbou en my ballinge sal vrylaat, sonder 'n koopprys, sonder omkoopgeld,” sê die HERE, Heerser oor alle magte.

JESAJA 45:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek vasgehou het, om nasies voor hom te onderwerp; en Ek sal die lendene van konings losmaak om die twee poorte voor hom oop te maak; en die poorte mag nie gesluit word nie; Ek sal voor jou uit gaan en die krom plekke reguit maak; Ek sal koperpoorte stukkend breek en ystergrendels inmekaarkap. En Ek sal jou die skatte van die duisternis gee en die verborge rykdom van skuilplekke, sodat jy kan weet dat Ek, die HERE, wat jou by jou Naam roep, die God van Israel is. Ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorenes, het Ek jou by jou naam geroep; Ek het jou bynaam gegee, al ken jy My nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander nie, daar is geen God buiten My nie; Ek het jou omgord, al ken jy My nie. Sodat hulle kan weet van die opkoms van die son en van die weste af dat daar niemand buiten My is nie. Ek is die HERE, en daar is niemand anders nie. Ek vorm die lig en skep duisternis; Ek maak vrede en skep onheil; Ek, die HERE, doen al hierdie dinge. Daal neer, o hemele, van bo af, en laat die hemele geregtigheid neerstort; Ek, die HERE, het dit geskep. Wee hom wat met sy Maker twis! Laat die potskerf met die potskerwe van die aarde stry. Sal die klei vir hom wat dit maak sê: Wat maak jy? of jou werk, Hy het geen hande nie? Wee hom wat vir sy vader sê: Wat verwek jy? of vir die vrou: Wat het jy gebaar? So sê die HERE, die Heilige van Israel, en sy Maker: Vra My oor die toekomstige dinge oor my seuns, en beveel my aangaande die werk van my hande. Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek, my hande, het die hemel uitgespan, en Ek het al hulle leërskare beveel. Ek het hom opgewek in geregtigheid, en Ek sal al sy weë gelyk maak; hy sal my stad bou en my gevangenes laat gaan, nie vir prys of beloning nie, spreek die HERE van die leërskare.

JESAJA 45:1-13 Die Boodskap (DB)

Die Here laat Kores regeer. Hy maak hom sterk. Hy gee vir hom die krag om ander nasies voor hom te laat buig. Hy laat konings hulle wapens voor hom neerlê. Geen stad kan hom uit hou nie. Hy breek hekke oop om stede binne te val. Die Here sê vir hom: Ek gaan voor jou uit. Ek maak jou pad gelyk. Ek breek koperdeure vir jou oop. Ek kap ysterslotte vir jou stukkend. Ek gee vir jou die skatte wat in donker plekke bewaar word, die rykdom wat weggesteek word. Ek doen dit vir jou sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, die God van Israel is wat jou geroep het om te regeer. Ek het spesifiek vir jou geroep. Ek doen dit ter wille van Jakob wat My dien, ter wille van Israel wat Ek gekies het om aan My te behoort. Ek het jou ’n spesiale posisie gegee, al het jy My nie geken nie. Ek is die Here. Behalwe vir My is daar nie ander gode nie. Ek het jou sterk gemaak vir jou werk, al ken jy My glad nie. Ek wil hê dat die hele wêreld moet weet dat daar niemand anders is behalwe Ek nie. Ek is die Here en daar is niemand anders naas My nie. Dit is Ek wat die lig gemaak het, maar ook die donker. Vrede, maar Ek bring ook teëspoed. Ek is die Here. Ek het al hierdie dinge gemaak. Ek sorg dat regverdigheid van bo uit die wolke neergiet soos reën. Ek laat die aarde geregtigheid indrink. Ek laat redding en geregtigheid soos ’n plant opskiet. Ek is die Here wat dit alles laat gebeur. Daar wag probleme vir iemand wat staan en stry met die een wat hom gemaak het. Hy is soos ’n kleipot wat van klei gemaak is. Die klei kan mos nie vir die pottebakker sê nie: “Wat is jy besig om te doen? Weet jy dan nie wat om met jou hande te maak nie?” Daar wag teëspoed vir iemand wat sy pa verwyt omdat hy hom gemaak het. Daar wag moeilikheid vir iemand wat vir sy ma vra hoekom sy hom in die wêreld gebring het. Die Here, die hoë God wat vir Israel ’n volk gemaak het, sê vir hulle: Wil julle My nou voor stok kry oor my kinders? Wil julle vir My kom beduie wat Ek moet doen? Dit is Ek wat die aarde gemaak het. Ek het die mense wat op die aarde woon, gemaak. Ek het met my hande die hemelruim daar bo oopgespan. Alles wat daarin is, luister wat Ek hulle beveel. Ek het Kores na vore laat kom om geregtigheid te bring. Ek maak alles wat hy doen voorspoedig. Hy sal my stad Jerusalem herbou. Hy sal uit sy eie almal wat weggevoer is, laat teruggaan. Hy sal dit doen sonder dat hy daarvoor betaal word of omkoopgeld daarvoor kry. Dit is wat die Here sê wat oor alles regeer.

JESAJA 45:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

So sê die HERE vir Kores, sy gesalfde wie se regterhand Ek gevat het om nasies aan hom te onderwerp, konings se wapens af te vat en deure voor hom oop te maak wat nie weer gesluit sal word nie: “Ek sal voor jou uitgaan en berge gelyk maak. Ek breek bronsdeure oop en slaan ystertralies stukkend. Ek gee vir jou skatte wat weggesteek is in die donker, rykdomme opgesluit in geheime plekke. Ek doen dit sodat jy kan erken dat Ek die HERE is, die God van Israel, wat jou by jou naam roep ter wille van Jakob my dienaar, van Israel wat Ek gekies het. Ek het jou op jou naam geroep en skryf jou hoog aan, alhoewel jy My nie eens ken nie. Ek is die HERE en daar is geen ander nie. Daar is geen ander God as Ek nie. Ek maak jou sterk, al erken jy My nie eens nie. Dan sal die wêreld van die ooste tot by die weste weet daar is geen ander God as Ek nie. Ek is die HERE, en daar is geen ander God nie. Ek maak die lig en skep die donkerte. Ek gee voorspoed en stuur slegte tye. Ek, die HERE, is die Een wat al hierdie dinge doen. “Laat die wolke regverdigheid reën. En laat die aarde oopgaan om dit te ontvang en die vrug van redding oplewer sodat regverdigheid daaruit kan voortspruit. Ek, die HERE, het hierdie dinge gemaak. Ellende wag vir hom wat sy Skepper verwyt, ’n potskerf tussen potskerwe. Kan die kleipot vir sy maker sê: ‘Wat maak jy?’ Kan jou handewerk vir jou sê: ‘Hy kan nie sy hande gebruik nie’? Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê: ‘Waarom het u ’n kind verwek?’ Of vir ’n vrou: ‘Hoekom het julle ’n kind in die wêreld gebring?’” Die HERE, die Heilige en die Skepper van Israel, reageer so daarop: “Betwyfel julle wat Ek doen? Sê julle vir My wat Ek moet doen? Ek het die aarde gemaak en mense geskep om daarop te lewe. Met my eie twee hande het Ek die hemel uitgestrek. Al die miljoene sterre staan onder my bevel. Ek het Kores opgeroep om reg te doen. Ek self maak ’n pad waarop hy sal loop. Hy sal my stad herstel, en my ballinge bevry. Hy sal nie beloon word vir wat hy doen nie, sê die HERE, die Almagtige.”