“Troos, troos my volk!”
sê julle God.
“Praat mooi met Jerusalem!
Roep haar toe dat haar
gedwonge arbeid voltooi is,
dat haar skuld afbetaal is!
Ja, sy het uit die hand van die HERE
'n dubbele straf ontvang
vir al haar sondes. ”
'n Stem roep:
“Maak in die woestyn
die pad van die HERE gereed;
maak in die Araba
'n grootpad vir ons God gelyk.
Elke dal moet opgevul word,
en elke berg en heuwel
moet wegsak.
Hobbelrige plekke
moet gelyke grond word,
en rotsagtige terrein
moet 'n vallei word.
Die heerlikheid van die HERE
sal geopenbaar word;
alle mense sal dit gelyktydig sien,
want die mond van die HERE
het gespreek.”
'n Stem sê toe: “Roep uit!”
En ek vra: “Wat moet ek uitroep?
Alle mense is immers gras;
en al hulle trou is soos 'n veldblom.
Gras verdor, 'n blom verwelk
wanneer die asem van die HERE
daarop blaas.
Waarlik, die volk is maar net gras!”
“ Ja, gras verdor,
'n blom verwelk,
maar die woord van ons God
hou stand vir altyd. ”
Klim op 'n hoë berg, Sion,
boodskapper van vreugde!
Verhef jou stem met krag, Jerusalem,
boodskapper van vreugde!
Verhef dit, moenie bang wees nie!
Sê vir die dorpe van Juda:
“Hier is julle God!”
Kyk, my Heer, die HERE –
met krag kom Hy,
en sy arm oefen vir Hom
heerskappy uit.
Kyk, sy vergoeding is by Hom,
sy beloning is voor Hom.
Soos 'n herder
laat Hy sy kudde wei;
in sy arms maak Hy
lammers bymekaar;
teen sy bors dra Hy hulle;
die lammerooie lei Hy.
Wie kan die waters in die holte
van sy hand afmeet,
die hemel met sy handspan peil,
met 'n derde van 'n efa
die stof van die aarde opvang,
met 'n handskaal die berge weeg,
die heuwels met 'n weegskaal?
Wie kan die Gees
van die HERE peil,
wie is die mens wat aan Hom
sy raadsbesluit bekend maak?
Met wie beraadslaag Hy,
en wie hou Hom op hoogte,
wie onderrig Hom oor die verloop
van 'n regsaak?
Wie dra aan Hom kennis oor,
en die pad van wyse beskikking,
wie maak dit aan Hom bekend?
Kyk, nasies is soos 'n druppel
uit 'n leersak;
hulle word beskou as net
'n lagie stof op 'n weegskaal.
Kyk, eilande weeg Hy
asof dit fyn stof is.
Die Libanonbos se hout
is nie genoeg
om 'n vuur te maak,
en sy wilde diere nie genoeg
vir 'n •brandoffer nie.
Al die nasies is soos niks
voor Hom;
deur Hom word hulle beskou as
minder as iets niksseggends,
minder as 'n nietigheid.