JESAJA 40:1-17

JESAJA 40:1-17 Bybel vir almal (ABA)

Die profeet het gesê: “Julle moet vir my volk sê dit sal nou beter gaan, julle moet sê dit sal beter gaan.” Dit sê julle God. “Julle moet die mense van Jerusalem bly maak, julle moet vir hulle sê hulle is nou nie meer slawe nie, hulle het klaar swaargekry. Ek het hulle klaar gestraf oor al hulle sondes.” Iemand het geskree: “Julle moet in die woestyn 'n pad gereedmaak vir die Here, julle moet die pad gelykmaak vir ons God! Julle moet al die valleie toegooi met grond en julle moet al die berge plat maak, julle moet die heuwels wegvat sodat die grond gelyk is. Dan sal die Here verskyn en Hy sal vir almal wys Hy is die Koning. Die Here self het gesê dat Hy dit sal doen.” Iemand het gesê: “Jy moet hard praat sodat almal jou kan hoor.” En ek het gesê: “Wat moet ek sê? Mense is soos gras, ook as hulle mooi en goed is, is hulle soos die veldblomme. Wanneer die Here die wind laat waai oor die gras en die blomme, dan word hulle droog en hulle verlep. Ja, die mense is soos gras. Gras en blomme word droog en verlep, maar die dinge wat ons God sê, sal nooit verander nie.” Mense van Jerusalem, mense van Sion, julle moet die boodskappers wees wat die goeie nuus bring. Julle moet hoog op 'n berg klim en hard skree. Julle moenie bang wees nie, julle moet vir die stede van Juda sê: “Hier kom julle God! Kyk, die Here kom, Hy is die Sterk God, Hy kan doen wat Hy wil doen. Kyk, Hy bring sy mense saam, sy volk is by Hom. Hy sal vir hulle sorg soos 'n herder vir sy skape sorg. Hy sal die skaap-lammers bymekaarmaak en teen sy bors dra, Hy sal die ooie wat lammers het, so lei dat hulle nie seerkry nie.” Wie het gesê hoeveel water daar moet wees en hoe groot die lug daarbo moet wees? Wie het gesê hoeveel grond daar moet wees en hoe hoog die berge en die heuwels moet wees? Wie mag vir die Here sê wat Hy moet dink, wie mag vir Hom sê wat die regte dinge is wat Hy moet doen? Vir wie het die Here gevra wat Hy moet doen? Wie het vir Hom geleer en vir Hom gesê wat die regte ding is om te doen? Wie het vir Hom geleer om alles te verstaan? Niemand. Al die volke beteken niks, ook die mense by die see beteken niks. Hulle is soos 'n druppel water uit 'n emmer, hulle is soos 'n bietjie stof op 'n weegskaal. Al die hout en al die wilde diere op die Libanon-berg is te min om vuur te maak en vir die Here 'n brand-offer te bring. Al die volke is soos niks voor die Here, by Hom is hulle minder as niks, hulle is nul.

JESAJA 40:1-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TROOS, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die HERE dubbel ontvang het vir al haar sondes. 'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die HERE; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek. 'n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld. Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die HERE daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras! Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid. O Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op 'n hoë berg! O Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die Here HERE sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos 'n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei. WIE het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal? Wie het die Gees van die HERE bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig? Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie! En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.

JESAJA 40:1-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. Bring vir Jerusalem die goeie tyding, sê vir hom sy swaarkry is verby, hy het geboet vir sy sonde, hy het van die Here die volle straf ontvang vir al sy sondes. Iemand roep: “Maak vir die Here 'n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld 'n grootpad vir ons God! Elke laagte moet opgevul word, elke berg en rant moet gelykgrond word. Elke bult moet 'n gelykte word en elke koppie 'n vlakte. Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien. Die Here self het dit gesê.” Iemand sê: “Roep!” En ek vra: “Wat kan ek roep? Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak, is soos 'n veldblom: gras verdor en blomme verwelk as die Here sy wind daaroor laat waai.” Dit ís so, die volk is soos gras. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig. Klim op 'n hoë berg en roep hard, Sion, jy wat die goeie tyding moet bring; roep hard, Jerusalem, jy wat die goeie tyding moet bring, moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Julle God is hier!” Die Here God kom, Hy is die Magtige, Hy regeer. Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het, dié wat aan Hom behoort, is by Hom. Soos 'n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie. Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met 'n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met 'n skaal die berge en die heuwels geweeg? Wie kan die Gees van die Here peil, wie kan sy raadgewer wees? Vir wie raadpleeg Hy dat dié Hom tot insig sou bring en Hom sou leer wat om te doen? Wie leer Hom en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree? Die nasies is vir Hom soos 'n druppel aan 'n emmer, soos 'n stoffie op 'n skaal. As Hy die eilande op 'n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. Al die hout op die Libanon is nie genoeg vir vuur op die altaar nie en al die wild nie genoeg vir 'n offer aan die Here nie. Al die nasies is soos niks teenoor Hom, hulle is vir Hom minder as niks, asof hulle nie bestaan nie.

JESAJA 40:1-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Troos, troos my volk!” sê julle God. “Praat mooi met Jerusalem! Roep haar toe dat haar gedwonge arbeid voltooi is, dat haar skuld afbetaal is! Ja, sy het uit die hand van die HERE 'n dubbele straf ontvang vir al haar sondes. ” 'n Stem roep: “Maak in die woestyn die pad van die HERE gereed; maak in die Araba 'n grootpad vir ons God gelyk. Elke dal moet opgevul word, en elke berg en heuwel moet wegsak. Hobbelrige plekke moet gelyke grond word, en rotsagtige terrein moet 'n vallei word. Die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word; alle mense sal dit gelyktydig sien, want die mond van die HERE het gespreek.” 'n Stem sê toe: “Roep uit!” En ek vra: “Wat moet ek uitroep? Alle mense is immers gras; en al hulle trou is soos 'n veldblom. Gras verdor, 'n blom verwelk wanneer die asem van die HERE daarop blaas. Waarlik, die volk is maar net gras!” “ Ja, gras verdor, 'n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd. ” Klim op 'n hoë berg, Sion, boodskapper van vreugde! Verhef jou stem met krag, Jerusalem, boodskapper van vreugde! Verhef dit, moenie bang wees nie! Sê vir die dorpe van Juda: “Hier is julle God!” Kyk, my Heer, die HERE – met krag kom Hy, en sy arm oefen vir Hom heerskappy uit. Kyk, sy vergoeding is by Hom, sy beloning is voor Hom. Soos 'n herder laat Hy sy kudde wei; in sy arms maak Hy lammers bymekaar; teen sy bors dra Hy hulle; die lammerooie lei Hy. Wie kan die waters in die holte van sy hand afmeet, die hemel met sy handspan peil, met 'n derde van 'n efa die stof van die aarde opvang, met 'n handskaal die berge weeg, die heuwels met 'n weegskaal? Wie kan die Gees van die HERE peil, wie is die mens wat aan Hom sy raadsbesluit bekend maak? Met wie beraadslaag Hy, en wie hou Hom op hoogte, wie onderrig Hom oor die verloop van 'n regsaak? Wie dra aan Hom kennis oor, en die pad van wyse beskikking, wie maak dit aan Hom bekend? Kyk, nasies is soos 'n druppel uit 'n leersak; hulle word beskou as net 'n lagie stof op 'n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is. Die Libanonbos se hout is nie genoeg om 'n vuur te maak, en sy wilde diere nie genoeg vir 'n •brandoffer nie. Al die nasies is soos niks voor Hom; deur Hom word hulle beskou as minder as iets niksseggends, minder as 'n nietigheid.

JESAJA 40:1-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Troos, troos my volk, spreek julle God. Spreek gerus met Jerusalem en roep tot haar dat haar stryd verby is, dat haar ongeregtigheid vergewe is; want sy het uit die hand van die HERE dubbel ontvang vir al haar sondes. Die stem van hom wat in die woestyn roep: Berei die weg van die HERE, maak reguit in die woestyn 'n grootpad vir onse God. Elke dal sal verhewe word, en elke berg en heuwel sal laag gemaak word; en die krom plekke sal reguit gemaak word en die ruwe plekke gelykte; En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees sal dit saam sien, want die mond van die HERE het dit gespreek. Die stem het gesê: Huil. En hy sê: Wat sal ek roep? Alle vlees is gras, en al sy goedheid is soos die blom van die veld; Die gras verdor, die blom verwelk, want die Gees van die HERE blaas daarop; waarlik, die volk is gras. Die gras verdor, die blom verwelk, maar die woord van onse God sal vir ewig bestaan. O Sion, wat goeie boodskap bring, klim op die hoë berg; O Jerusalem, wat goeie boodskap bring, verhef u stem met krag; hef dit op, wees nie bevrees nie; sê vir die stede van Juda: Hier is julle God! Kyk, die HERE HERE sal met sterk hand kom, en sy arm sal vir hom heers; kyk, sy loon is by hom, en sy werk voor hom. Hy sal sy kudde laat wei soos 'n herder; hy sal die lammers met sy arm bymekaarmaak en aan sy boesem dra en die wat kleintjies het, sagkens lei. Wie het die waters in die holte van sy hand gemeet en die hemel met 'n span afgemeet en die stof van die aarde met 'n maat ingeneem en die berge met 'n weegskaal en die heuwels op 'n weegskaal geweeg? Wie het die Gees van die HERE gerig, of het Hom geleer as hy sy raadgewer was? Met wie het hy raad gehou, en wie het hom onderrig en hom op die pad van oordeel geleer en hom kennis geleer en hom die weg van insig getoon? Kyk, die nasies is soos 'n druppel van 'n emmer en word gereken as die stof van die weegskaal; kyk, Hy neem die eilande op soos 'n klein ding. En die Líbanon is nie genoeg om te verbrand nie, en sy diere is nie genoeg vir 'n brandoffer nie. Al die nasies voor hom is soos niks; en hulle word hom minder as niks en nietigheid gereken.

JESAJA 40:1-17 Die Boodskap (DB)

Julle God sê: Gaan praat my volk moed in. Gaan troos hulle. Praat mooi met die mense van Jerusalem. Sê vir hulle: Julle gaan nie aanhou swaarkry nie. Julle straf is nou verby. Julle het heeltemal klaar betaal vir alles wat julle teen die Here verkeerd gedoen het. Luister, daar is ’n stem wat uitroep: “Bou ’n pad vir die Here deur die woestyn. Maak vir ons God ’n breë, reguit pad dwarsdeur die veld. Vul die leegtes op. Stoot die berge en die heuwels plat. Maak die draaie reguit. Maak die klipperige grond glad. Dan sal die Here kom. Almal saam sal sien hoe wonderlik die Here is. Die Here het self belowe dat Hy sal kom.” Iemand sê vir my: “Jy moet ’n boodskap gaan bring.” Ek vra: “Wat moet ek gaan sê?” “Gaan sê vir hulle dat alle mense eintlik maar soos gras is wat weer doodgaan. Hulle is soos die blomme in die veld. Binne ’n dag is hulle klaar geblom. Wanneer die Here die wind daaroor laat waai, droog die gras uit en die blomme gaan dood. Die mense is ook maar soos die gras. Gras droog uit. Blomme gaan dood. Maar wat die Here sê, hou vir altyd.” Sion, gaan klim op ’n hoë berg. Bring die goeie nuus. Jerusalem, skreeu die wonderlike boodskap uit met alles wat jy het. Moenie bang wees nie. Skreeu so hard as jy kan. Sê vir die dorpe in Juda: “Kyk, die Here gaan kom!” Die Here kom met krag. Hy sal regeer met mag. Hy kom gee sy beloning. Hy kom gee ook sy straf. Hy sal vir sy volk sorg soos ’n skaapwagter sy skape oppas. Hy dra die lammers in sy arms. Hy hou hulle teen Hom vas. Hy sorg vir elke lammer se ma. Wie kan met sy hand uitmeet hoeveel hande vol water daar in die see is? Wie kan meet hoe groot die blou lug daar bo is? Kan iemand sê hoeveel emmers vol stof daar op die aarde is? Kan iemand sê hoe swaar die berge weeg? Kan iemand sê wat die heuwels op ’n skaal sal weeg? Wie kan vir die Here vertel wat Hy moet doen? Wie is daar by wie die Here raad kan kom vra? By wie kan die Here kom kers opsteek as Hy nie verstaan nie? Wie kan vir die Here leer wat die regte pad is? Wie kan vir die Here leer hoe Hy dinge moet verstaan? Die nasies is vir die Here soos ’n druppel in ’n emmer. Hulle is so min soos ’n stoffie wat jy op ’n skaal probeer weeg. Die lande is vir Hom so lig soos ’n sandkorreltjie. Al die bome op die Libanonberg is nie eens genoeg om vir Hom een offer te bring nie. Al die diere op die Libanonberg is nie eens genoeg vir een offer vir die Here nie. Al die nasies tel niks teenoor die Here nie. Hulle is vir Hom soos lug wat leeg is.

JESAJA 40:1-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Troos, troos my volk,” sê julle God. “Praat sag met Jerusalem. Sê vir hom sy hartseerdae is verby. Sy sondes is vergewe. Die HERE het hom klaar gestraf vir al sy sondes.” Luister! Ek hoor die stem van iemand wat roep: “Bou ’n grootpad vir die HERE deur die woestyn. Maak ’n reguit pad vir ons God deur die wildernis. Vul die valleie op! Maak elke berg en heuwel gelyk, elke ruwe plek ’n gelykte, elke koppie ’n vlakte. Dan sal die heerlikheid van die HERE bekend word en alle mense sal dit sien. Die HERE self het so gesê.” ’n Stem sê: “Roep!” Ek het gevra: “Wat moet ek roep?” “Roep uit: Alle mense is soos gras. Hulle bekoorlikheid is soos blomme van die veld. Gras verdor en blomme verwelk as die HERE sy asem daaroor laat waai. So is dit ook met mense. Gras verdor, blomme verwelk, maar die woord van God bly vir altyd.” Boodskapper van goeie nuus, roep vir die tempelberg van die bergpieke af! Boodskapper van goeie tyding, roep hard vir Jerusalem! Moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Hier is jou God!” Die oppermagtige HERE kom met heerlike krag en regeer met mag. Kyk, Hy bring sy beloning saam. Dit is by Hom. Hy versorg sy kudde soos ’n herder. Die lammers maak Hy bymekaar in sy arms, en dra hulle naby sy hart. Skaapooie met lammers versorg Hy. HERE Wie anders het die oseane in sy hand gehou? Wie het die hemel afgemeet met die breedte van sy hand? Wie het die grond van die aarde met ’n maatemmer gemeet, of het die berge en die heuwels met ’n skaal geweeg? Wie kan die Gees van die HERE advies gee? Wie weet genoeg om Hom raad te gee of Hom te leer? Het die HERE al ooit raad van ander nodig gehad? Het Hy nodig dat iemand Hom vertel wat die goeie is of wat die beste is? Al die nasies van die wêreld is vir Hom soos ’n druppel in ’n emmer, soos stof op ’n skaal. Hy tel die eilande op asof hulle geen gewig het nie. Die Libanon se hout is nie genoeg vir offers, en sy diere nie voldoende vir brandoffers nie. Die nasies van die wêreld is vir Hom soos niks. In sy oë is hulle waardeloos, asof hulle nie bestaan nie.