Jesaja 32:1-8

Jesaja 32:1-8 AFR20

Kyk, met regverdigheid sal 'n koning regeer, en in geregtigheid sal •hoë amptenare heers. Elkeen van hulle sal daar wees, as 'n skuiling teen die wind, 'n beskutting teen stortbuie, as waterstrome in 'n dor streek, as die skadu van 'n swaar rots in 'n vermoeide land. Die oë van hulle wat sien, sal nie meer wegkyk nie, en die ore van hulle wat hoor, sal aandagtig luister. Die harte van oorhaastiges sal op kennis ag slaan, en die tonge van stamelaars sal vinnig en duidelik praat. 'n Sot sal nie meer “edel” genoem word nie, en 'n skurk sal nie as “hoogheid” aangespreek word nie. Want 'n sot raak sothede kwyt, en sy hart hou hom besig met onreg: deur goddeloosheid te bedryf, deur onwaarhede oor die HERE kwyt te raak, deur die kele van hongeriges leeg te laat en deur iets te drinke te weerhou van wie dors is. En 'n skurk – sy werktuie is sleg; hy is die een wat skanddade beplan om magteloses deur bedrieglike woorde uit te roei, ook wanneer 'n behoeftige 'n eis voorlê. Die edele beraam egter edel planne, hy is die een wat staan by wat edel is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid