JESAJA 32:1-8
JESAJA 32:1-8 Bybel vir almal (ABA)
'n Koning sal reg regeer en regverdig wees, hy en sy amptenare. Elkeen van hulle sal wees soos 'n afdak teen die wind en harde reën. Hulle sal wees soos strome water in 'n droë land, soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n land waar dit baie warm is. Dan sal die oë van almal wat kan sien, nie meer toe wees nie, en almal wat kan hoor, sal dan luister. Die mense wat ongeduldig was en wat nie goed wou luister nie, sal dan luister en verstaan, en die mense wat gehakkel het, sal goed kan praat. Niemand sal dan sê 'n dwaas is 'n goeie mens of 'n skurk is 'n belangrike mens nie. Want dwase mense praat nonsens en hulle dink net aan sonde. Hulle doen slegte dinge en hulle praat leuens oor die Here. Hulle gee nie kos vir honger mense nie, hulle gee nie water vir mense wat dors is nie. Skurke is altyd besig om slegte dinge te doen. Hulle maak skelm planne en hulle lieg om probleme te gee vir mense wat hulleself nie kan help nie, vir arm mense wat niks verkeerd gedoen het nie. Maar 'n goeie mens dink watter goeie dinge hy kan doen en hy beskerm die goeie mense.
JESAJA 32:1-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
KYK, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg. En elkeen sal wees soos 'n toevlug teen die wind en 'n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in 'n dor streek, soos die skaduwee van 'n swaar rots in 'n land wat versmag. Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister; en die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan, en die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek; die dwaas sal nie meer 'n edele genoem word nie, en van die skelm sal nie gesê word dat hy vernaam is nie. Want 'n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek oor die HERE, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek. En die skelm — sy middele is sleg, hý beraam skandelike dade om die ellendiges te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftige spreek wat reg is. Maar die edele beraam edele dade, en hý hou stand in wat edel is.
JESAJA 32:1-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar sal 'n koning kom wat reg sal regeer en amptenare wat reg sal laat geskied. Hulle sal elkeen soos 'n skerm teen die wind, soos 'n skuiling teen die stortreën wees, soos strome water in 'n dor land, soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n kaal wêreld. Dan sal die oë van dié wat moet sien, nie meer toe wees nie en sal die ore van dié wat moet hoor, weer kan hoor. Die verstand van onbesonne mense sal kennis kan verwerk en die hakkelaars sal vlot kan praat. 'n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie en 'n skurk nie meer as edel beskryf word nie. 'n Dwaas laster teen God, sy gedagtes is net met sonde besig; wat hy doen, wys dat hy ver van die Here af leef, wat hy vir die Here sê, is vals. So iemand laat 'n honger mens honger bly en weier om 'n dors mens water te gee. 'n Skurk se motiewe is kwaadwillig, hy smee boosaardige planne om met leuens die ondergang van eenvoudige, arm mense te bewerk, ook al beroep hulle hulle op die reg. 'n Eerbare mens het eerbare bedoelings en hy kom op vir wat eerbaar is.
JESAJA 32:1-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk, met regverdigheid sal 'n koning regeer, en in geregtigheid sal •hoë amptenare heers. Elkeen van hulle sal daar wees, as 'n skuiling teen die wind, 'n beskutting teen stortbuie, as waterstrome in 'n dor streek, as die skadu van 'n swaar rots in 'n vermoeide land. Die oë van hulle wat sien, sal nie meer wegkyk nie, en die ore van hulle wat hoor, sal aandagtig luister. Die harte van oorhaastiges sal op kennis ag slaan, en die tonge van stamelaars sal vinnig en duidelik praat. 'n Sot sal nie meer “edel” genoem word nie, en 'n skurk sal nie as “hoogheid” aangespreek word nie. Want 'n sot raak sothede kwyt, en sy hart hou hom besig met onreg: deur goddeloosheid te bedryf, deur onwaarhede oor die HERE kwyt te raak, deur die kele van hongeriges leeg te laat en deur iets te drinke te weerhou van wie dors is. En 'n skurk – sy werktuie is sleg; hy is die een wat skanddade beplan om magteloses deur bedrieglike woorde uit te roei, ook wanneer 'n behoeftige 'n eis voorlê. Die edele beraam egter edel planne, hy is die een wat staan by wat edel is.
JESAJA 32:1-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Kyk, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en vorste sal regeer in reg. En 'n mens sal wees soos 'n skuilplek teen die wind en 'n skuilplek teen die storm; soos waterstrome op 'n droë plek, soos die skaduwee van 'n groot rots in 'n moeë land. En die oë van die wat sien, sal nie dof wees nie, en die ore van die wat hoor, sal luister. Ook die hart van die oorhaaste sal kennis verstaan, en die tong van die hakkelaars sal gereed wees om reguit te spreek. Die gemene mens sal nie meer liberaal genoem word nie, en ook nie die onmenslik sal gesê word dat hy oorvloedig is nie. Want die gemene mens sal kwaad spreek, en sy hart sal ongeregtigheid doen, om huigelary te beoefen en dwaling teen die HERE uit te spreek, om die siel van die hongeriges leeg te maak, en hy sal die drank van die dorstiges laat ophou. Ook die werktuie van die karring is sleg: hy bedink slegte planne om die armes met leuentaal te vernietig, ook as die behoeftige reg praat. Maar die liberale bedink liberale dinge; en by vrygewige dinge sal hy standhou.
JESAJA 32:1-8 Die Boodskap (DB)
Kyk, daar kom ’n koning wat met absolute regverdigheid regeer. Ook sy amptenare se administrasie sal eerlik wees. Net soos ’n sterk skuilplek iemand teen die wind en die storms beskerm, sal hulle die volk beskerm. Hulle sal vir die volk soos ’n stroom koue water in ’n droë land wees en soos die koel skaduwee van ’n groot rots in ’n kaal, onherbergsame land. Dan sal hulle oë en hulle ore oop wees om te sien wat die Here vir hulle wil wys, en te hoor wat Hy vir hulle wil sê. Selfs dié wat ongeduldig en oorhaastig was, sal rustig oor ’n saak dink en gesonde oordeel aan die dag lê. Dié wat onseker was van hulleself en stamelend hulle saak probeer stel het, sal vol vertroue praat en hulle punt maak. Dan sal niemand meer dink dat ’n dwaas iemand is op wie jy kan peil trek, of dat ’n skurk goeie motiewe het nie. Almal sal die goddelose dwase herken vir wat hulle is en aan die gek goed wat hulle doen. Hulle beledig die Here en gee nie om dat mense honger ly en dors is nie. Die skelmstreke van die skurk sal aan die lig kom. Hy is altyd met iets onderduims aan die gang en maak planne om deur leuens en bedrog die arm mense aan die kortste ent te laat trek. ’n Eerbare mens het suiwer motiewe en hy kom op vir wat reg is.
JESAJA 32:1-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kyk, daar kom ’n koning wat regverdig sal wees! En leiers sal eerlik oor die volk regeer. Hy sal Israel beskerm teen die wind en die storm. Hy sal hulle verfris soos ’n rivier in die woestyn en soos die koel skaduwee van ’n groot rots in ’n verlate land. Dan sal almal wat kan sien, God raaksien. En almal wat kan hoor, sal na sy stem luister. Selfs die heethoofdiges onder hulle sal kalm raak en verstaan. Die mense wat onseker hakkel, sal gemaklik kan praat. ’n Dwaas sal nie meer as eerbaar beskou word nie, en ’n skurk sal nie meer gerespekteer word nie. Almal sal dwase raaksien vir wat hulle is. Hulle versprei liegstories oor die HERE. Hulle steel honger mense se kos. Hulle gee nie water vir mense wat dors is nie. Die skelmstreke van skurke sal onthul word. So ook al die liegstories wat hulle vertel het om arm mense in die howe te verdruk. Maar eerbare mense het eerbare planne. Hulle sal eerbaar behandel word.