Jesaja 26:1-11

Jesaja 26:1-11 AFR20

Op daardie dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: “Ons het 'n sterk stad; God se redding is die stadsmure en verdedigingswal. Maak oop die poorte, sodat 'n regverdige nasie kan ingaan, hulle wat getrou bly! 'n Standvastige gesindheid sal U in volkome vrede bewaar, omdat daar op U vertrou word. Vertrou te alle tye op die HERE, want die HERE, die HERE is 'n ewige rots. Ja, dié wat hoog woon, die ontoeganklike stad, laat Hy tuimel. Hy haal haar neer, Hy haal haar tot die grond toe neer – Hy gooi haar neer tot in die stof. Voete vertrap haar, die voete van magteloses, die treë van armes.” Die paaie van regverdiges is gelyk; reguit is die weë van regverdiges wat U vir hulle skoonmaak. Selfs op die pad van u oordele, HERE, het ons op U gewag. U Naam, u gevierde Naam, was ons hartsverlange. Met my hele wese smag ek na U in die nag, ja, my gees in my binneste soek na U. Want wanneer u oordele die aarde tref, leer die bewoners van die wêreld wat reg is. Wanneer genade aan goddeloses bewys word, leer hulle nie wat reg is nie. In 'n land waar opregtheid heers, pleeg hulle onreg; die verhewenheid van die HERE sien hulle nie raak nie. HERE, dat u hand opgehef is, merk hulle nie op nie. Die ywer vir u volk – laat hulle dit opmerk en beskaamd staan. Laat ook die vuur, bestem vir u vyande, hulle verteer.