Hosea 8:1-14

Hosea 8:1-14 AFR20

“Bring die •ramshoring na jou mond! Daar sirkel 'n arend bo die huis van die HERE, omdat hulle my verbond oortree het, en teen my wet in opstand is. Na My roep hulle om hulp, ‘My God, ons, Israel, ken U!’ Israel het die goeie verwerp, 'n vyand sal hom agtervolg. Daardie manne het konings aangestel, maar sonder my goedkeuring. Hulle het leiers aangewys, maar Ek ken hulle nie. Met hulle silwer en hulle goud het hulle vir hulle afgode gemaak – net sodat dit vernietig kan word.” Hy het jou kalf verwerp, Samaria! “My toorn het teen hulle ontbrand. Hoe lank nog sal hulle nie rein kan wees nie – as hulle dan deel is van Israel. En daardie ding, 'n ambagsman het dit gemaak; dit is nie 'n god nie. Ja, die kalf van Samaria sal houtspaanders word. “ As mense wind saai, sal hulle 'n storm oes. As daar geen are aan 'n koringhalm is nie, lewer dit geen koringkorrels nie. As dit dalk iets lewer, sal vreemdes dit insluk. Israel is ingesluk; nou het hulle onder die nasies geword soos 'n stuk gereedskap wat geen waarde meer het nie; want hulle het opgetrek na Assirië. Efraim is 'n eensame wildedonkie: Hulle het ywerig vriende gewerf. Selfs al werf hulle vriende onder die nasies – Ek gaan hulle nou bymekaar jaag, en hulle sal begin wegkwyn onder die las van die koning van vorste. “ Toe Efraim meer altare gebou het, was dit om te sondig; dit het vir hom altare geword om mee te sondig! Al skryf Ek vir hom my wet tienduisend maal neer, dit word as iets vreemds gereken.” Hulle slag offers vir die genot – vleis, sodat hulle kan eet. Die HERE, Hy aanvaar hulle nie. Nou gaan Hy hulle sondeskuld in herinnering roep, en Hy gaan rekenskap eis oor hulle sondes. Wat hulle betref, na Egipte sal hulle terugkeer. “Toe Israel sy Maker vergeet het, het hy paleise gebou; en Juda het die versterkte stede meer gemaak. Maar Ek gaan vuur slinger teen sy stede, en dit sal sy vestings verteer. ”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid