HOSEA 8:1-14

HOSEA 8:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Bring die •ramshoring na jou mond! Daar sirkel 'n arend bo die huis van die HERE, omdat hulle my verbond oortree het, en teen my wet in opstand is. Na My roep hulle om hulp, ‘My God, ons, Israel, ken U!’ Israel het die goeie verwerp, 'n vyand sal hom agtervolg. Daardie manne het konings aangestel, maar sonder my goedkeuring. Hulle het leiers aangewys, maar Ek ken hulle nie. Met hulle silwer en hulle goud het hulle vir hulle afgode gemaak – net sodat dit vernietig kan word.” Hy het jou kalf verwerp, Samaria! “My toorn het teen hulle ontbrand. Hoe lank nog sal hulle nie rein kan wees nie – as hulle dan deel is van Israel. En daardie ding, 'n ambagsman het dit gemaak; dit is nie 'n god nie. Ja, die kalf van Samaria sal houtspaanders word. “ As mense wind saai, sal hulle 'n storm oes. As daar geen are aan 'n koringhalm is nie, lewer dit geen koringkorrels nie. As dit dalk iets lewer, sal vreemdes dit insluk. Israel is ingesluk; nou het hulle onder die nasies geword soos 'n stuk gereedskap wat geen waarde meer het nie; want hulle het opgetrek na Assirië. Efraim is 'n eensame wildedonkie: Hulle het ywerig vriende gewerf. Selfs al werf hulle vriende onder die nasies – Ek gaan hulle nou bymekaar jaag, en hulle sal begin wegkwyn onder die las van die koning van vorste. “ Toe Efraim meer altare gebou het, was dit om te sondig; dit het vir hom altare geword om mee te sondig! Al skryf Ek vir hom my wet tienduisend maal neer, dit word as iets vreemds gereken.” Hulle slag offers vir die genot – vleis, sodat hulle kan eet. Die HERE, Hy aanvaar hulle nie. Nou gaan Hy hulle sondeskuld in herinnering roep, en Hy gaan rekenskap eis oor hulle sondes. Wat hulle betref, na Egipte sal hulle terugkeer. “Toe Israel sy Maker vergeet het, het hy paleise gebou; en Juda het die versterkte stede meer gemaak. Maar Ek gaan vuur slinger teen sy stede, en dit sal sy vestings verteer. ”

HOSEA 8:1-14 Die Boodskap (DB)

Die Here sê: “Stuur ’n noodsein uit! Die vyand duik soos valke op Israel af. Israel wou nie langer aan My behoort nie. Hulle wou nie langer doen wat Ek van hulle vra nie. Hulle het my ooreenkoms met hulle verbreek.Hulle roep nou verniet: ‘My God! Israel is getrou aan U!’ Dit is nou te laat. Hulle het klaar al hulle kanse weggegooi. Die vyand is klaar besig om hulle te agtervolg. Hulle het konings aangestel wat Ek nie goedgekeur het nie. Hulle het nie aan My gedink toe hulle hulle leiers gekies het nie. Hulle het beelde van afgode gemaak met hulle silwer en hulle goud. Hierdie beelde veroorsaak dat hulle in die moeilikheid beland. Ek wil niks te doen hê met die kalf wat jy uit goud gemaak het nie, Samaria. Ek is woedend oor julle dit gemaak het. Hoeveel tyd moet verbygaan voordat julle sal leer om sonder afgode klaar te kom? Die kalf wat hulle gemaak het, is ’n ding wat Israel self uitgedink het. ’n Goudsmid het dit vir julle uit goud gemaak. Dit kan mos nie ’n god wees nie! Samaria se kalf sal nog in stukkies gebreek word. Dit gaan julle niks in die sak bring nie. Dit is soos wanneer jy wind saai en al wat jy kry, is ’n stormwind. As koringare nie ryp word nie, kan dit nie gemaal word om meel te maak nie. Selfs al word die koring miskien ryp, kan niks verseker dat dinge nie verkeerd sal loop nie. Ander mense kan jou koring kom steel, dit afoes en dit eet.” “Israel het tussen die nasies weggeraak. Hy het tussen die volke geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie. Efraim is soos ’n wildedonkie wat alleen in die veld ronddwaal. Hy soek na maats. Hy gaan na Assirië toe om iemand te kry wat saam met hom kan bly. Selfs al kry Israel iemand anders onder die nasies wat hom wil help, gaan dit op niks uitloop. Ek sal hulle in ’n hoek vasdruk. Hulle knieë sal onder hulle knak soos pakdonkies wat ’n vrag dra wat te swaar is. Hulle sal soos ’n dier wees waarop die koning en die leiers ’n vrag sit wat te swaar is om te dra. “Efraim het al meer en meer plekke gebou waarop hy offers vir sy sonde kan bring. Efraim het egter die altare wat hy gebou het, gebruik om offers vir die afgode te bring. Dit het net gemaak dat hy al meer en meer teen die Here oortree het. Al skryf Ek hoeveel keer vir Efraim neer wat Ek wil hê hy moet doen, sal hy dit nooit doen nie. Hy sal nie verstaan wat Ek wil hê nie. Hulle hou daarvan om bymekaar te kom om offers te bring en by die offerplekke saam te eet. Die Here hou niks van die manier waarop hulle dit doen nie. Hulle doen dit op presies dieselfde manier as waarop ander nasies dit vir hulle afgode doen. Die Here onthou alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy gaan hulle straf vir al hulle sondes. Hy sal hulle weer laat teruggaan Egipte toe waar hulle slawewerk gedoen het. “Israel het huise vir sy konings gebou. Juda het mure om sy stede gebou om hulle te versterk. Maar hulle het moedswillig van die Here vergeet. Hy is tog die Een wat hulle gemaak het. Daarom gaan Ek vuur laat uitbreek in hulle stede dat dit kan afbrand. Hulle koning se huis sal tot op die grond afbrand.”

HOSEA 8:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Maak alarm! Die vyand is soos ’n arend wat draai oor die huis van die HERE. Hulle het my verbond verbreek en teen my voorskrifte in opstand gekom. Nou pleit Israel by My: ‘Help ons, want ons ken U, ons God!’ Maar dit is te laat! Die volk Israel het die goeie dinge verwerp; nou sal sy vyande op hom jag maak. Hulle het konings en amptenare aangestel, maar dit was sonder my goedkeuring. Hulle het vir hulleself afgode van silwer en goud gemaak, maar dit was tot hulle eie vernietiging. “Samaria, Ek verwerp hierdie kalf, hierdie afgodsbeeld van julle. My woede het teen julle ontvlam. Hoe lank nog sal hulle onrein bly? Julle kalf kom uit Israel – ’n ambagsman het dit gemaak! Dis nie ’n god nie! Daarom sal daar net splinters van die kalf van Samaria oorbly. “Hulle het wind gesaai en sal ’n storm oes. As die koring nie are maak nie, sal daar geen meel wees nie. En as daar enigsins koring is, sal vreemdelinge dit insluk. Israel is reeds ingesluk. Onder die nasies is hulle soos ’n voorwerp wat niemand meer wil hê nie. Israel het na Assirië toe gegaan net soos ’n eensame wildedonkie wat na ’n maat soek, en het vir homself minnaars gaan koop. Maar al het hy bondgenote onder baie lande gehuur, sal Ek hulle nou bymekaarmaak. Dan sal hulle swaarkry onder die las van die magtige koning. “Israel het baie altare gebou om sonde-offers daarop te bring, maar juis hierdie altare het die plekke geword waar sonde gepleeg word! Al sou Ek ook ’n menigte van my gebooie aan hom gee, sal dit vir hom iets vreemds wees. Hulle hou daarvan om offers vir My te bring en die vleis daarvan te eet, maar Ek verwerp hulle offers. Ek sal hulle sondes onthou en hulle tot verantwoording roep: hulle sal na Egipte toe teruggaan. “Want Israel het sy Maker vergeet en paleise gebou. Juda het versterkte stede opgerig. Daarom stuur Ek ’n vuur in hulle stede wat hulle vestings sal vernietig.”

HOSEA 8:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het gesê: “Julle moet die ramshoring blaas en die mense waarsku, want die vyande kom. Hulle is soos arende wat bokant die tempel vlieg en draai. Dit gebeur omdat die mense van Israel die verbond met My breek. Hulle wil nie luister na My nie. Hulle roep en sê vir My: ‘U is ons God. Ons is u volk Israel, ons is naby U.’ Maar hulle het opgehou om goed te doen. Daarom sal die vyande hulle aanval. “Hulle het konings en amptenare gekies en aangestel, maar hulle het nie vir My gevra wie hulle moet aanstel nie. Hulle het beelde gemaak van goud en silwer. Daarom sal die vyande hulle doodmaak. Hulle het in Samaria 'n beeld gemaak van 'n bul-kalf. Ek hou nie daarvan nie, Ek is baie kwaad vir hulle. Hoe lank sal hulle onrein bly? Altyd? Daardie beeld is nie 'n god nie, want 'n Israeliet het dit met sy hande gemaak. Daarom sal die vyande die kalfbeeld van Samaria stukkend slaan. “Die mense van Samaria was soos die wind, maar die vyande sal soos 'n stormwind wees. Die vyande sal die bietjie koring wat julle afsny, alles op-eet. Die Israeliete kry swaar tussen die ander volke. Niemand hou van hulle nie, want hulle het na Assirië gegaan en vriende gesoek. Die mense van Efraim is soos wildedonkies wat alleen rondloop. Hulle het vriende gesoek by die ander volke, maar dit sal nou nog slegter met hulle gaan. Ek sal hulle nou op een plek laat bly, en hulle sal baie swaar kry. Die koning van Assirië sal hulle baie belasting laat betaal. “Ja, die mense van Efraim het baie altare gebou en hulle het sonde gedoen by al die altare. Ek het al my wette vir hulle neergeskryf, maar hulle het gemaak of hulle niks van my wette weet nie. Hulle het vir My offers gebring, maar hulle het die vleis self geëet. Ek hou nie van hulle nie. Ek sal onthou dat hulle sonde gedoen het en Ek sal hulle straf: Hulle sal moet teruggaan na Egipte. “Die mense van Israel het vergeet dat Ek hulle gemaak het. Hulle en die mense van Juda het mooi huise gebou, en ook sterk mure om die stede. Maar Ek sal vuur stuur, en die vuur sal die stede en die groot en sterk huise afbrand.”

HOSEA 8:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE basuin aan jou mond! Soos 'n arend skiet dit neer op die huis van die HERE! Omdat hulle my verbond oortree het en teen my wet gesondig het. My roep hulle toe: My God, ons, Israel, ken U. Israel het die goeie verwerp — die vyand sal hom agtervolg! Húlle het konings aangestel, maar nie uit My nie; hulle het vorste gekies, maar sonder my wete; van hul silwer en goud het hulle vir hul afgode gemaak tot hulle verderf. Jou kalf, o Samaría, is afskuwelik; my toorn is teen hulle ontvlam. Hoe lank sal hulle tot reinheid onbekwaam wees? Want dit is ook uit Israel: 'n smid het dit gemaak, en dit is geen god nie; maar tot splinters sal dit word — die kalf van Samaría. Want hulle saai wind, maar hulle sal storm maai; dit het geen halm nie; wat uitspruit, lewer geen meel op nie; selfs as dit iets oplewer, sou vreemdelinge dit verslind. Israel is verslind; alreeds is hulle onder die volke soos iets wat waardeloos is. Want húlle het opgetrek na Assur — 'n wilde-esel wat eiesinnig rondloop, is Efraim! — hulle het onwettige bondgenootskappe gewerf. Ook al werf hulle onder die volke, Ek sal hulle nou saamraap, en hulle sal begin minder word weens die laste deur die koning van die vorste opgelê. Want Efraim het die altare vermenigvuldig om te sondig — die altare het vir hom tot sonde geword. Ek het hom tienduisende leringe van my wet voorgeskrywe, maar dit word as iets vreemds geag. Slagoffers, My aangebied, offer hulle — vleis is dit, en hulle eet; die HERE het geen behae daarin nie. Nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en oor hulle sondes besoeking doen; hulle sal teruggaan na Egipte. Omdat Israel sy Maker vergeet en paleise gebou het, en Juda 'n menigte versterkte stede, daarom sal Ek 'n vuur in sy stede slinger wat sy paleise sal verteer.

HOSEA 8:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Maak alarm! Daar draai 'n roofvoël oor my huis! sê die Here. Israel het my verbond verbreek en hulle teen my wil verset. Hulle roep na My om hulp: “Ons is aan U toegewy, ons God! Ons is Israel.” Maar Israel het die goeie verwerp, daarom sal die vyand hom agtervolg. Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word. Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur 'n ambagsman gemaak, dit is nie 'n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly. As mense wind saai, sal hulle 'n storm oes. As koring nie are skiet nie, kan dit geen oes lewer nie. As dit miskien tog iets sou oplewer, gaan vreemdes dit insluk. Israel is klaar ingesluk. In die oë van die nasies het hulle nou geword soos 'n ding wat niemand wil hê nie. En tog het die leiers by Assirië gaan hulp soek. Efraim is soos 'n eensame wildedonkie; hy het vir homself vriende gaan soek. Maar al sou hy ook vriende maak onder die nasies, sou dit niks baat nie, want Ek gaan hulle nou bymekaarjaag, en binnekort sal hulle soos donkies swaar dra aan die las van die koning van Assirië. Toe Efraim meer altare gebou het om sondeoffers te bring, het dit juis vir hom altare geword om op te sondig. Al sou Ek ook self vir hom ontelbare afskrifte van my wet gee, dit bly vir hom die wet van 'n onbekende. Hulle bring offers om hulle self te bevredig, hulle bring vleis sodat hulle dit self kan eet! Sulke offers is nie vir My, die Here, aanneemlik nie. Ek gaan Efraim se sonde teen hulle hou en hulle laat boet vir hulle oortredings: Efraim sal na Egipte toe moet teruggaan. Toe Israel sy Maker vergeet het, het Israel paleise begin bou, en Juda het meer vestingstede opgerig. Maar Ek sal in hulle stede 'n vuur laat losbreek en dit sal hulle mooi huise afbrand.

HOSEA 8:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Sit die basuin na jou mond. Hy sal soos 'n arend teen die huis van die HERE kom, omdat hulle my verbond oortree en my wet oortree het. Israel sal tot My roep: My God, ons ken U. Israel het die goed verwerp; die vyand sal hom agtervolg. Hulle het konings aangestel, maar nie deur My nie; hulle het vorste gemaak, en Ek het dit nie geweet nie; van hulle silwer en hulle goud het hulle vir hulle afgode gemaak, dat hulle uitgeroei kan word. Jou kalf, o Samaria, het jou verwerp; my toorn ontvlam teen hulle; hoe lank sal dit duur voordat hulle onskuld bereik? Want dit was ook uit Israel: die werker het dit gemaak; daarom is dit nie God nie, maar die kalf van Samaría sal verpletter word. Want hulle het wind gesaai en stormwind maai: dit het geen stingel nie; die knop sal geen meel oplewer nie; as dit so is, sal die vreemdelinge dit verslind. Israel is verslind; nou sal hulle onder die heidene wees soos 'n voorwerp waarin geen behae is nie. Want hulle het opgetrek na Assirië, 'n wilde-esel alleen; Efraim het minnaars gehuur. Ja, al het hulle gehuur onder die nasies, nou sal Ek hulle versamel, en hulle sal 'n bietjie treur oor die las van die koning van die vorste. Omdat Efraim baie altare gemaak het om te sondig, sal altare vir hom wees om te sondig. Ek het die groot dinge van my wet aan hom geskrywe, maar dit is as iets vreemds gereken. Hulle offer vleis vir die slagoffers van my offers en eet dit; maar die HERE aanvaar hulle nie; nou sal Hy aan hulle ongeregtigheid dink en hulle sondes besoek; hulle sal na Egipte terugkeer. Want Israel het sy Maker vergeet en tempels gebou; en Juda het versterkte stede vermenigvuldig, maar Ek sal 'n vuur in sy stede slinger, en dit sal sy paleise verteer.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid