Hosea 10:9-15

Hosea 10:9-15 AFR20

“ Sedert die dae van Gibea het jy gesondig, Israel. Hulle het daarmee volgehou. Sal die oorlog teen die kwaadwilliges hulle dan nie in Gibea tref nie? Omdat Ek so besluit het, gaan Ek hulle 'n les leer: Nasies sal teen hulle saamtrek omdat hulle verbind bly aan hulle twee sondes. “ Efraim was 'n geleerde vers wat daarvan gehou het om koring uit te trap. Maar Ek het oor haar mooi nek gestreel en besluit: Ek gaan Efraim inspan; Juda moet ploeg; Jakob moet vir homself die grond eg. Ek het gesê, ‘Saai vir julleself geregtigheid, oes troue liefde in oorvloed; breek vir julle nuwe grond oop. Dit is die aangewese tyd om die HERE te soek, totdat Hy kom en geregtigheid vir julle laat neerreën.’ Julle het goddeloosheid ingeploeg; onreg is wat julle geoes het; julle het die vrug van leuens geëet. “Omdat jy op jou beleid vertrou, op jou baie krygshelde, sal oorlogsrumoer teen jou volk opklink, en al jou versterkte stede sal verwoes word. Soos Salman Bet-Arbel verwoes het op die dag van oorlog – ma's is saam met kinders te pletter geslaan – net so gaan hy met julle maak in Bet-El, oor julle verskriklike boosheid. Teen dagbreek sal die koning van Israel al heeltemal vernietig wees.”