Deur geloof het Abel 'n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf.
Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”.
Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.
Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, 'n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en 'n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof.
Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan.
Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is.
Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, 'n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see.
Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na 'n beter een, 'n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad voorberei.
Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied, en was hy op die punt om sy enigste te offer – hy wat die beloftes ontvang het, aan wie gesê is, “Deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag wees” – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het.
Deur geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met betrekking tot toekomstige dinge.
Deur geloof het Jakob, terwyl hy sterwend was, elkeen van die seuns van Josef geseën, en “het hy in aanbidding gebuig oor die bopunt van sy staf”.
Deur geloof het Josef, toe hy op sy einde was, van die uittog van die kinders van Israel melding gemaak, en het hy opdrag gegee in verband met sy beendere.
Deur geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande lank deur sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat die kindjie mooi was, en hulle nie vir die koning se bevel bang was nie.
Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van die farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die •Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.
Deur geloof het hy Egipte verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien.
Deur geloof het hy die Pasga ingestel en die bloed laat aansmeer, sodat die doodsengel nie aan hulle •eersgeborenes sou raak nie.
Deur geloof het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë land, terwyl die Egiptenare, toe hulle dit probeer doen het, verdrink het.
Deur geloof het die mure van Jerigo geval, nadat daar vir sewe dae rondom die stad getrek is.
Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.
En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – hulle wat deur geloof koninkryke verower het, wat gedoen het wat reg is, wat beloftes verkry het, wat die bekke van leeus toegestop het, wat die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug het, wat krag ontvang het in hulle swakheid, wat magtig geword het in oorlogvoering, wat slagordes van vreemdes afgeweer het. Vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang; ander weer is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle 'n beter opstanding kon verkry; nog ander het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap. Hulle is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf, in skaapvelle het hulle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel – die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond.
En hoewel daar oor al hierdie mense vanweë hulle geloof met lof getuig is, het hulle nie die belofte ontvang nie, aangesien God iets beters vir ons voorsien het, sodat hulle nie sonder ons volmaak gemaak sou word nie.