HEBREËRS 11:4-40

HEBREËRS 11:4-40 Afrikaans 1983 (AFR83)

Omdat Abel geglo het, het hy 'n beter offer aan God gebring as Kain. Vanweë Abel se geloof het hy van God bevestiging ontvang dat hy 'n opregte man is, want God het sy offers aangeneem; en deur dieselfde geloof spreek hy nou nog, al is hy reeds dood. Omdat Henog geglo het, is hy weggeneem sonder dat hy gesterf het, en hy was nêrens te vind nie, omdat God hom weggeneem het. Van hom word getuig dat hy, voordat hy weggeneem is, geleef het soos God dit wou. As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon. Omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. Sy geloof was 'n veroordeling van die wêreld, maar dit het hom erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom. Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, 'n vreemdeling in 'n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is. Omdat Abraham geglo het, het hy, hoewel Sara onvrugbaar was en hy al te oud, krag ontvang om 'n kind te verwek, omdat hy God wat dit beloof het, getrou geag het. Die gevolg was dat daar van een man, 'n man wat nie meer 'n kind kon verwek nie, kinders afgestam het so talryk soos die sterre van die hemelruim en so baie soos die sand van die see. Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is. Mense wat so praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak. Omdat Abraham geglo het, het hy, toe hy op die proef gestel is, Isak as offer afgestaan. Ja, hy wat die belofte ontvang het en aan wie gesê is: “Uit Isak sal jou nageslag gebore word,” het gereed gestaan om sy enigste seun te offer. Hy was daarvan oortuig dat God by magte is om uit die dood op te wek, waaruit Abraham vir Isak ook, om dit so te stel, terug ontvang het. Omdat Isak geglo het, het hy Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. Omdat Jakob geglo het, het hy op sy sterfbed albei die seuns van Josef geseën en tot God gebid terwyl hy op die knop van sy kierie leun. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die uittog van die Israeliete en opdrag gegee in verband met sy liggaam. Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie. Omdat Moses geglo het, het hy toe hy groot geword het, geweier om die seun genoem te word van die farao se dogter. Hy het verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien. Omdat hy geglo het, het hy die pasga ingestel en die bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die engel van die dood nie die eersgeborenes van Israel sou tref nie. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars verdrink het toe hulle dit ook probeer doen het. Omdat die Israeliete geglo het, het die mure van Jerigo geval nadat hulle sewe dae daaromheen getrek het. Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie. En wat moet ek nog meer sê? Die tyd ontbreek my om te vertel van Gideon, Barak, Simson en Jefta, van Dawid, Samuel en die profete. Deur die geloof het hulle koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag. Vroue het hulle dooies teruggekry, opgewek uit die dood. Ander gelowiges wou nie die prys vir hulle eie vrylating betaal nie en is doodgemartel; hulle wou die opstanding tot 'n beter lewe deelagtig word. Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe. En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie, omdat God vir ons iets beters beoog het, sodat hulle nie sonder ons die voleinding sou bereik nie.

HEBREËRS 11:4-40 Bybel vir almal (ABA)

Abel het 'n offer gebring. Omdat Abel in God geglo het, daarom het God meer gehou van daardie offer as van Kain se offer. Abel het geglo, en daarom het God gesê dat Abel regverdig is, God het dit gesê omdat Hy tevrede was met Abel se offers. Abel het gesterf, maar hy het in God geglo, en daarom hoor ons vandag nog dat hy met ons praat oor sy geloof. Henog het in God geglo, en daarom het God hom weggeneem, Henog het nie gesterf nie. Daarom kon niemand vir Henog kry nie, want dit was Gód wat hom weggeneem het. Ja, voordat God vir Henog weggeneem het, het God gesê dat Hy tevrede is met Henog. En God sal nooit tevrede wees met 'n mens wat nie in Hom glo nie. Want 'n mens wat vir God wil dien, moet glo dat God lewe en dat God die mense beloon wat Hom wil dien. Noag het in God geglo, en daarom het God hom gewaarsku oor die dinge wat moes gebeur, maar wat mense nog nie kon sien nie. Noag het vir God gerespekteer en daarom het hy gedoen wat God gesê het. Hy het die ark gebou om sy huisgesin te red. Noag het in God geglo, en daarom het hy gewys dat die wêreld se mense skuldig is. God het vir Noag geseën sodat hy regverdig kan lewe omdat hy in God geglo het. Abraham het in God geglo, en daarom het hy geluister toe God vir hom gesê het om weg te trek na die plek wat God vir hom wou gee om aan hom te behoort. Abraham het weggetrek en hy het nie geweet waarnatoe hy gaan nie. Abraham het in God geglo, en daarom het hy soos 'n vreemdeling gaan woon in die land wat God vir hom belowe het. Hy het soos 'n vreemdeling in tente gewoon saam met Isak en Jakob. God het vir Isak en Jakob belowe dat hulle dieselfde dinge sal kry wat God vir Abraham belowe het. Want Abraham wou baie graag lewe in die stad van God, die stad wat altyd daar sal wees. God het self planne gemaak vir die stad en Hy het dit gebou. Sara kon nooit kinders kry nie en sy was baie oud. Maar Abraham het in God geglo, en daarom het God vir hom krag gegee om pa te kan word. Abraham het geglo dat God sal doen wat Hy belowe het en daarom het hierdie één man 'n groot nageslag gehad. Hy was naby die dood, maar sy nageslag was so baie soos die sterre in die lug en so baie soos die sand langs die see, 'n mens kan dit nie tel nie. Al hierdie mense wat in God geglo het, het gesterf, en hulle het nie gekry wat God vir hulle belowe het nie. Maar lank voordat hierdie dinge sou gebeur, het hulle dit gesien en hulle was bly oor hierdie dinge. Hulle was nie bang om te sê dat hulle vreemdelinge is in hierdie wêreld nie, hulle was mense wat nie altyd hier woon nie. Want mense wat sê dat hulle hier net vreemdelinge is, sê baie duidelik dat hulle nog nie 'n land het waar hulle altyd kan woon nie. Want as dit waar is dat hulle aangehou het om te dink aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, dan sou hulle kon teruggaan daarnatoe. Maar hulle het nie aangehou om te dink aan daardie land nie. Nee, hulle het verlang na 'n beter land, dit is by God in die hemel. Daarom is God nie skaam dat hulle kon sê dat Hy hulle God is nie. Daarom het Hy vir hulle 'n stad gereedgemaak om in te woon. God het vir Abraham 'n nageslag belowe, maar God wou vir Abraham toets. Hy wou kyk wat Abraham sal doen en Hy het gesê Abraham moet sy seun offer. Abraham het in God geglo. Daarom was Abraham gewillig om vir Isak te offer en het hy begin om sy enigste seun te offer. God het van Abraham se seun gesê: “ Die nageslag van Isak sal jou nageslag wees.” Abraham het gedink dat God mense wat dood is, weer kan laat lewe, en daarom het hy vir Isak teruggekry. Dit is 'n voorbeeld wat wys hoe God mense wat dood is, weer sal laat lewe. Isak het in God geglo, en daarom het Isak vir Jakob en Esau geseën, Isak het hulle geseën ook oor dinge wat nog later sal gebeur. Jakob het in God geglo, en daarom het Jakob altwee die seuns van Josef geseën en het hy God aanbid terwyl hy oor die knop van sy kierie gebuig het. Jakob het dit gedoen terwyl hy besig was om te sterf. Josef het in God geglo, en daarom het Josef daaroor gepraat dat die nageslag van Israel sal terugkom uit Egipte na hulle land. Hy het dit gesê kort voordat hy gesterf het, en hy het ook gesê wat hulle ná sy dood met sy liggaam moet doen. Moses se ouers het in God geglo, en daarom het hulle vir Moses drie maande lank weggesteek nadat hy gebore is. Hulle het dit gedoen omdat hulle gesien het die kind is baie mooi, en hulle was nie bang vir wat die koning gesê het nie. Moses het groot geword en hy het in God geglo. Daarom wou hy nie hê dat mense hom die seun van die farao se dogter moet noem nie. Nee, Moses het gekies om saam met die volk van God swaar te kry, hy het nie gekies om vir 'n kort tydjie die sonde te geniet nie. Want Moses het gedink dat wanneer mense hom beledig soos hulle later die Christus beledig het, dan is hy ryker as wanneer hy al die mooi en duur goed van Egipte sal hê, want Moses wou graag die beloning kry. Moses het in God geglo, dáárom het hy weggegaan uit Egipte, en nié omdat hy bang was vir die koning wat baie kwaad geword het nie. Moses het dit gedoen omdat hy was soos iemand wat vir God kon sien, ander mense kon nie vir God sien nie. Moses het in God geglo, en daarom het hy gesê die Israeliete moet die Paasfees vier en mense moet bloed spat teen die deure se rame sodat die engel wat mense moet doodmaak, nie die oudste seuns en die eerste kalwers en lammers van die Israeliete begin doodmaak nie. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het hulle deur die Rooi See gegaan soos wanneer mense oor droë grond trek. Toe die Egiptenaars dit probeer doen het, het hulle in die see verdrink. Die Israeliete het in God geglo, en daarom het die mure van Jerigo geval nadat die Israeliete sewe dae lank om die mure van Jerigo geloop het. Ragab, die prostituut, het in God geglo, en daarom het sy gesê dat die spioene van die Israeliete welkom is by haar, daarom het sy nie gesterf nie. Ek sal nie nog iets sê nie, dit is nie nodig nie, want dit sal baie lank neem om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid en Samuel en die profete. Hulle almal het in God geglo, en daarom het hulle die konings van ander lande oorwin. Hulle het gedoen wat reg is, hulle het gekry wat God vir hulle belowe het. Hulle het in God geglo en daarom kon leeus nie hulle bekke oopmaak om hulle te byt nie. Hulle het groot vure doodgemaak, hulle het vry weggekom toe mense hulle wou doodmaak met die swaard. Hulle was swak, maar hulle het sterk geword, hulle was baie sterk soldate en hulle het die leërs van die vyande laat vlug. Vroue het hulle mense wat gesterf het, teruggekry uit die dood omdat God hulle weer laat lewe het. Mense het gelowiges so seer gemaak dat hulle gesterf het. Hierdie gelowiges wou nie sê dat hulle opgehou het om in God te glo nie. As hulle dit gesê het, dan sou hulle vry kon weggaan. Maar hierdie mense wat so gesterf het, het geglo dat God hulle weer sal laat lewe in 'n beter lewe. Mense het ander gelowiges gespot en met 'n sweep geslaan, hulle het die gelowiges ook geboei en in die tronk gesit. Mense het hulle met klippe doodgegooi, met 'n saag in stukke gesaag, met 'n swaard doodgemaak. Ander gelowiges het rondgeloop in klere van skaapvelle en bokvelle. Hulle het nie kos en klere gehad nie, mense het hulle laat swaarkry en het hulle baie seer gemaak. Hierdie mense wat in God geglo het, was te goed vir die mense van die wêreld. Hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en in grotte en gate in die grond. Die Ou Testament sê vir ons dat God tevrede was met al hierdie voorouers van ons omdat hulle in Hom geglo het. Maar Hy het nie vir hulle die dinge gegee wat Hy belowe het nie. God het dit gedoen omdat Hy 'n beter plan gehad het vir ons wat in Christus glo. God wou hê dat hulle en ons almal saam moet wees soos Hy wil hê ons moet wees.

HEBREËRS 11:4-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy nog nadat hy dood is. Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek. Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is. Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het. Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit 'n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang. Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms. Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van sy staf. Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee aangaande sy gebeente. Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie. Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om 'n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien. Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie. Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink het. Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal, wat deur die geloof koninkryke oorweldig het, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog, leërs van vreemdes op die vlug gedryf het. Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter opstanding te kan verkry. Ander weer het die proef van bespottinge en géselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel — die wêreld was hulle nie werd nie — hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie.

HEBREËRS 11:4-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Deur geloof het Abel 'n beter offer as Kain aan God gebring, waardeur getuig is dat hy regverdig was toe God oor sy gawes getuienis gelewer het; en deur geloof praat hy nog steeds, al het hy gesterf. Deur geloof is Henog weggeneem, sodat hy nie die dood gesien het nie, en “hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het”. Want voordat hy weggeneem is, is van hom getuig “dat hy God behaag het”. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek. Deur geloof het Noag, toe hy die goddelike opdrag ontvang het oor dit wat nog glad nie gesien is nie, en omdat hy in eerbied gehoorsaam was, 'n ark voorberei vir die redding van sy huis. Daardeur het hy die wêreld veroordeel, en 'n erfgenaam geword van die regverdiging volgens geloof. Deur geloof was Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te trek na 'n plek wat hy as erfenis sou ontvang, en hy het weggetrek, sonder om te weet waarheen hy gaan. Deur geloof het hy as bywoner in die land van die belofte gaan bly, soos in 'n vreemde land, en het hy in tente gewoon saam met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die argitek en boumeester is. Deur geloof het ook Sara, alhoewel reeds onvrugbaar, en nie meer jonk nie, krag ontvang om bevrug te word, aangesien sy Hom wat dit beloof het, getrou geag het. Daarom is daar uit een man, wat so te sê dood was, 'n nageslag gebore, in getal so veel soos die sterre van die hemel, en soos die ontelbare sandkorrels op die strand langs die see. Al hierdie mense het in geloof gesterf sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en verwelkom, en bely dat hulle uitlanders en vreemdelinge op die aarde is. Want dié wat sodanige dinge sê, gee te kenne dat hulle op soek is na 'n vaderland. En as hulle nog aanhou dink het aan daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer; maar nou hunker hulle na 'n beter een, 'n hemelse een. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad voorberei. Deur geloof het Abraham, toe hy getoets is, Isak as offer aangebied, en was hy op die punt om sy enigste te offer – hy wat die beloftes ontvang het, aan wie gesê is, “Deur Isak sal daar vir jou 'n nageslag wees” – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom ook terugontvang het. Deur geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met betrekking tot toekomstige dinge. Deur geloof het Jakob, terwyl hy sterwend was, elkeen van die seuns van Josef geseën, en “het hy in aanbidding gebuig oor die bopunt van sy staf”. Deur geloof het Josef, toe hy op sy einde was, van die uittog van die kinders van Israel melding gemaak, en het hy opdrag gegee in verband met sy beendere. Deur geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande lank deur sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat die kindjie mooi was, en hulle nie vir die koning se bevel bang was nie. Deur geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van die dogter van die farao genoem te word, en het hy eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef. Hy het die smaad van die •Christus groter rykdom geag as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning. Deur geloof het hy Egipte verlaat sonder om bang te wees vir die woede van die koning, want hy het volhard soos een wat Hom, die Onsienlike, sien. Deur geloof het hy die Pasga ingestel en die bloed laat aansmeer, sodat die doodsengel nie aan hulle •eersgeborenes sou raak nie. Deur geloof het hulle deur die Rooisee getrek soos oor droë land, terwyl die Egiptenare, toe hulle dit probeer doen het, verdrink het. Deur geloof het die mure van Jerigo geval, nadat daar vir sewe dae rondom die stad getrek is. Deur geloof het Ragab, die prostituut, nie saam met die ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het. En wat moet ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek om te vertel van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, en ook van Samuel en die profete – hulle wat deur geloof koninkryke verower het, wat gedoen het wat reg is, wat beloftes verkry het, wat die bekke van leeus toegestop het, wat die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug het, wat krag ontvang het in hulle swakheid, wat magtig geword het in oorlogvoering, wat slagordes van vreemdes afgeweer het. Vroue het hulle dooies deur opstanding terugontvang; ander weer is gemartel toe hulle nie die vrylating wou aanvaar nie, sodat hulle 'n beter opstanding kon verkry; nog ander het die toets van bespotting en slae verduur, en boonop van boeie en gevangenskap. Hulle is gestenig, middeldeur gesaag; deur teregstelling met die swaard het hulle gesterf, in skaapvelle het hulle geswerf, in bokvelle, behoeftig, verdruk, mishandel – die wêreld was hulle nie werd nie – terwyl hulle in verlate plekke en oor berge rondgeswerf het, en in grotte en in gate in die grond. En hoewel daar oor al hierdie mense vanweë hulle geloof met lof getuig is, het hulle nie die belofte ontvang nie, aangesien God iets beters vir ons voorsien het, sodat hulle nie sonder ons volmaak gemaak sou word nie.

HEBREËRS 11:4-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring as Kain, waardeur hy getuienis verkry het dat hy regverdig was, terwyl God van sy gawes getuig het, en daardeur spreek hy wat nog dood is. Deur die geloof is Henog weggeneem sodat hy die dood nie sou sien nie; en is nie gevind nie, omdat God hom vertaal het; want voor sy vertaling het hy hierdie getuienis gehad dat hy God behaag het. Maar sonder geloof is dit onmoontlik om Hom te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en dat Hy 'n beloner is van die wat Hom soek. Deur die geloof het Noag, toe hy deur God gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien is nie, en hy het met vrees beweeg en 'n ark gereed gemaak om sy huis te red; waardeur Hy die wêreld veroordeel het en erfgenaam geword het van die geregtigheid wat uit die geloof is. Deur die geloof het Abraham gehoorsaam toe hy geroep is om uit te gaan na die plek wat hy as erfenis sou ontvang; en hy het uitgegaan sonder om te weet waarheen hy gegaan het. Deur geloof het hy as vreemdeling vertoef in die land van die belofte, soos in 'n vreemde land, en in hutte gewoon saam met Isak en Jakob, die erfgename saam met hom van dieselfde belofte. Want hy het gewag na 'n stad wat fondamente het, waarvan God die bouer en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om swanger te word, en sy is gebore toe sy ouer geword het, omdat sy hom getrou geoordeel het wat dit beloof het. Daarom het daar selfs uit een ontstaan, en hy so goed as dood, soveel soos die sterre van die hemel in menigte, en soos die sand wat by die seestrand is, ontelbaar. Hulle het almal in die geloof gesterwe sonder om die beloftes te ontvang, maar hulle het dit van ver af gesien en daarvan oortuig en omhels en bely dat hulle vreemdelinge en pelgrims op die aarde was. Want die wat sulke dinge sê, verklaar duidelik dat hulle 'n land soek. En waarlik, as hulle gedagtig was aan daardie land waaruit hulle uitgekom het, sou hulle dalk die geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou begeer hulle 'n beter land, dit is 'n hemelse; daarom skaam God hom nie om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei. Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; en hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggebore seun geoffer, Van wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word; Aangesien God in staat was om hom uit die dode op te wek; vanwaar Hy hom ook in gestalte ontvang het. Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën oor die toekomstige dinge. Deur geloof het Jakob, toe hy op sterwe was, albei die seuns van Josef geseën; en aanbid en op die top van sy staf geleun. Deur die geloof het Josef, toe hy gesterf het, melding gemaak van die vertrek van die kinders van Israel; en bevel gegee aangaande sy gebeente. Deur die geloof is Moses, toe hy gebore is, drie maande van sy ouers weggesteek, omdat hulle gesien het dat hy 'n behoorlike kind was; en hulle was nie bevrees vir die bevel van die koning nie. Deur geloof het Moses geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word. Deur verkies om liewer saam met die volk van God verdrukking te ly as om vir 'n tyd lank die plesier van die sonde te geniet; Hy het die smaad van Christus groter rykdom geag as die skatte in Egipte, want hy het gerespekteer op die vergelding van die beloning. Deur geloof het hy Egipte verlaat sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het volhard soos hy die Onsienlike sien. Deur geloof het Hy die pasga en die besprenkeling van bloed gehou, sodat hy wat die eersgeborenes omgebring het, hulle nie sou aanraak nie. Deur die geloof het hulle deur die Rooi See getrek soos deur droë grond; wat die Egiptenaars probeer doen het, is verdrink. Deur geloof het die mure van Jerigo geval nadat hulle omtrent sewe dae lank omsingel was. Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie omgekom saam met die ongelowiges nie, toe sy die spioene met vrede ontvang het. En wat sal ek nog sê? want die tyd sou my ontbreek om van Gedeon en van Barak en van Simson en van Jeftae te vertel; ook van Dawid en Samuel en van die profete: wat deur die geloof koninkryke onderwerp het, geregtigheid bewerk het, beloftes verkry het, die bekke van leeus gestop het, Die geweld van vuur geblus, die skerpte van die swaard ontvlug, uit swakheid sterk gemaak, dapper geword in die stryd, omgedraai om die leërs van die vreemdelinge te vlug. Vroue het hulle dooies opgewek ontvang, en ander is gemartel en het nie verlossing aanvaar nie; sodat hulle 'n beter opstanding kan verkry: En ander het tereggestaan op wrede bespottings en geselinge, ja, boeie en gevangenisstraf. Hulle is gestenig, hulle is uitmekaar gesaag, is versoek, is met die swaard gedood; hulle het rondgedwaal in skaapvelle en bokvelle; behoeftig, geteisterd, gepynig word; (Waaraan die wêreld nie waardig was nie): hulle het rondgedwaal in woestyne en in berge en in holtes en grotte van die aarde. En nadat hulle almal deur die geloof 'n goeie verslag verkry het, het hulle die belofte nie aangeneem nie. God het vir ons iets beters voorsien, sodat hulle sonder ons nie volmaak sou word nie.

HEBREËRS 11:4-40 Die Boodskap (DB)

Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood. Henog het God ook so vertrou. Daarom is hy nie soos ander dood nie, maar God het hom kom haal en hemel toe gevat. Hulle het hom oral gesoek, maar kon hom nie kry nie, want God het hom weggevat. Voor dit egter gebeur het, het almal al daaroor gepraat dat God trots was op die manier waarop Henog geleef het. Dit kan nie gebeur as ’n mens nie op God vertrou nie. En daar is ’n goeie rede voor: ’n mens sal God net soek en na Hom toe gaan as jy oortuig is en vertrou dat Hy dáár is en dat Hy mense wat na Hom toe kom met oop arms ontvang. Dink ook aan Noag. Hy het geglo wat God vir hom gesê het en het in alle erns ’n skip gebou om sy familie te red. Gelowig het hy geluister en gedoen, al was daar nog geen teken van reën of oorstromings wat sou kom nie. Sy geloof het duidelik gewys hoe ongelowig die ander mense was, en daarom kan hulle nie nou verskonings maak nie. Noag het gewys dat vertroue op God ’n mens vrymaak voor God. God het vir Abraham gesê dat hy sy goed moet vat en na ’n ver plek moet trek wat God dan vir hom as ’n blyplek sou gee. Abraham het glad nie geweet waar dit was nie, maar het gehoorsaam sy goed gevat en gegaan. En die rede: hy het God heeltemal vertrou. Juis daarom het hy sy tent gaan opslaan in daardie land wat God vir hom beloof het, al is hy eers soos ’n vreemdeling daar behandel. Isak en Jakob, vir wie God ook die land beloof het, het daar saam met hom in tente gebly. Abraham het die hele tyd uitgesien na die stad wat op fondamente gebou sou word, die stad wat God self sou ontwerp en bou. Abraham was al baie oud en hy en sy vrou Sara kon nie kinders hê nie. Tog het Abraham op die Here vertrou en pa geword. Hy het geglo dat God die belofte wat Hy gemaak het, nie sou breek nie. En kyk net na die gevolge: uit een man, wat eintlik self nie meer kinders kon hê nie, het daar ’n nageslag gekom wat ’n mens vandag nie meer kan tel nie. Hulle is so baie soos die sterre aan die hemel of die sandkorrels op die strand. Abraham, Isak en Jakob het in hulle leeftyd nog nie alles gekry wat God beloof het nie. Nogtans het hulle op God bly vertrou tot hulle dood. Soos mense wat in die toekoms kon inkyk, het hulle gesien wat God alles nog sou doen en hulle was baie bly daaroor. Hulle het besef dat hierdie wêreld eintlik nie hulle regte blyplek is nie. Hulle was maar net tydelik hier. Deur so te praat het hulle gewys dat hulle uitsien na ’n ander blyplek wat net hulle s’n sou wees. As hulle terugverlang het na die land waaruit hulle oorspronklik getrek het, kon hulle maklik omgedraai en teruggegaan het. Hulle het egter gesmag na ’n beter blyplek van hulle eie, ’n plek in die hemel by God. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie. Om die waarheid te sê, Hy het vir hulle ’n spesiale blyplek by Hom reggemaak. God wou kyk of Abraham regtig in Hom glo. Daarom het Hy gesê dat Abraham Isak moes gaan doodmaak. Abraham het na God geluister, omdat hy God vertrou het. God het immers vir hom beloof dat hy ’n nageslag sou hê en gesê: “Isak is die een deur wie Ek vir jou ’n groot nageslag sal gee.” Nou moes hy daardie seun gaan doodmaak. Dit het nie vir Abraham logies geklink nie, maar hy het God vertrou. Hy het geredeneer dat God Isak weer lewendig sou maak, want Hy kan dit doen. Eintlik kan ’n mens dus sê dat Abraham wel vir Isak doodgemaak het en dat hy sy seun weer uit die dood teruggekry het. Omdat Isak God vertrou het, kon hy sy seuns, Jakob en Esau, ’n goeie toekoms beloof. Jakob het net so op God vertrou. Toe hy op sy sterfbed gelê het, het hy ook vir sy kinders ’n mooi toekoms beloof. So, terwyl hy op sy kierie leun, het hy met God in aanbidding gepraat. Dieselfde het met Josef gebeur, want hy het ook in God geglo. Toe hy begin voel dat die dood nader kom, het hy die Israeliete vertel hoe God sal sorg dat hulle uit Egipte sal trek. Hy het selfs gereël wat hulle met sy lyk moes maak. Moses se pa en ma het ook so op God vertrou. Nadat hy gebore is, het hulle Moses drie maande lank weggesteek, want die koning het gesê dat die kinders doodgemaak moes word. Hulle het egter besef dat Moses baie spesiaal was en was nie bang vir wat die koning gesê het nie. Omdat hy op die Here vertrou het, het Moses, toe hy groter geword het, geweier dat mense hom die kleinseun van die koning van Egipte noem. Hy het sy keuse gemaak: hy sou eerder sleg behandel word saam met die mense van God as om ’n kort rukkie lekker in die sonde te baljaar. Dit was vir hom baie beter dat daar op hom getrap word ter wille van die Redder wat sou kom, as om al die skatte van Egipte te hê. Hy het besef dat God hom iewers in die toekoms dubbel en dwars sou beloon. Hy het toe sy goed gevat en is uit Egipte uit, sonder om bang te wees vir wat die koning sou sê of doen, want hy het op God vertrou. Hy het hom glad nie van koers af laat bring nie; dit was byna of hy God by hom kon sien, al is God onsigbaar. Dit is later in sy lewe weer bewys. Hy het vir die Israeliete gesê om die paasfees te vier en bloed aan hulle deure te smeer, want hy het die Here vertrou. Hy het geweet dat die oudste kinders van Israel nie daardie nag sou doodgaan wanneer al die ander oudste kinders in Egipte doodgaan nie. Dit was ook omdat die mense van God Hom vertrou het dat hulle deur die Rooisee is asof dit droë land is. Toe die Egiptenaars dit probeer het, het hulle almal verdrink. Op dieselfde manier het die mure van Jerigo inmekaargesak nadat God se mense sewe dae lank elke dag om die stad getrek het. En dan was daar nog Ragab, die straatvrou. Sy het in God geglo en die Israelitiese spioene gehelp. Daarom het God haar nie saam met al die ander ongehoorsame mense van die stad doodgemaak nie. Wat meer hoef ek nog te sê? Ek kan heeldag besig bly om nog sulke voorbeelde te gee. Dink maar net aan Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en al die ander manne wat God se boodskap moes verkondig. Omdat hulle God vertrou het, het hulle konings op hulle plek gesit, gedoen waarvan God hou en gekry wat God beloof het. Leeus kon party van hulle nie verskeur nie, vure kon ander nie brand nie en mense kon party van hulle nie met swaarde doodmaak nie. Hoewel sommige hopeloos en swak gelyk het, het God hulle sterk gemaak. Ander het weer soos tiere in oorloë geveg en die leërs van vreemde magte verwilder. Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God. Party is uitgejou en geslaan, terwyl ander geboei in die tronk gegooi is. Die lysie word langer: van hulle is met klippe doodgegooi, ander is in stukke gesaag of met swaarde doodgekap. Met party het dit so sleg gegaan dat hulle net ’n skaap- of bokvelletjie gehad het om aan te trek. Hulle het nie eens behoorlik kos gehad om te eet nie, en waar hulle ook al gekom het, het mense hulle weggejaag en sleg behandel. Hulle het in die wildernis gaan bly en in grotte en gate weggekruip. Die wêreld het nie regtig besef wie hulle is nie, want dan sou hulle geweet het dat hierdie mense baie beter as hulle was. Hoewel daar soveel mooi dinge oor hierdie mense gesê is omdat hulle so op God vertrou het, het hulle ook nog nie alles gekry wat God vir hulle beloof het nie. God het ’n ander, baie beter plan met ons almal. Hulle sal nie alleen nie, maar saam met ons alles volledig kry wat God vir ons almal wil en sal gee.

HEBREËRS 11:4-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Omdat Abel geglo het, het hy ’n beter offer as Kain aan God gebring. God het Abel se offer aanvaar en daarmee bevestig dat hy ’n regverdige mens is. En al is hy lankal dood, praat hy deur sy geloof nog steeds met ons. Omdat hy geglo het, is Henog weggeneem sonder om te sterf. Hulle kon hom nie kry nie, want God het hom weggeneem. Maar nog voordat hy weggeneem is, is van hom getuig dat hy God se goedkeuring wegdra. As jy nie glo nie, is dit onmoontlik om God tevrede te stel. Wie tot God wil nader, moet glo dat Hy werklik dáár is en dat Hy dié wat na Hom soek, beloon. Omdat hy geglo het, het Noag, toe God hom gewaarsku het oor wat nog nie gesien kon word nie, gehoorsaam die ark gebou. Daardeur is sy huisgesin gered en die wêreld veroordeel. So het hy dan ’n erfgenaam geword van die vryspraak wat ’n mens deur die geloof ontvang. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom geroep het, gehoorsaam weggetrek na die land wat God vir hom as ’n erfdeel sou gee. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou beland. Omdat hy geglo het, het hy in die Beloofde Land gaan woon – ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Hy het daar in tente gewoon. So ook Isak en Jakob aan wie God dieselfde belofte gemaak het. Abraham kon dit doen omdat hy uitgesien het na die stad met stewige fondamente wat God self ontwerp en gebou het. Omdat hy geglo het, het Abraham, saam met Sara (wat onvrugbaar was), ook krag ontvang om ’n kind te verwek, en dit nogal in sy ouderdom, omdat hy geglo het dat God sy belofte sou nakom. En so is daar uit een mens, en dit nogal een wat nie meer ’n kind kon verwek nie, mense gebore so baie soos die sterre aan die hemelruim en so ontelbaar soos die sandkorrels op die strand. Terwyl hulle nog steeds geglo het, het hulle almal gesterf sonder om die vervulling van God se belofte te beleef. Hulle het dit egter in die verte gesien en begroet, en erken dat hulle hier net vreemdelinge en bywoners is. Mense wat só praat, gee daarmee duidelik te kenne dat hulle op soek is na hulle eintlike vaderland. As hulle daardie land bedoel het waarvandaan hulle geëmigreer het, sou hulle kans kry om weer terug te trek. Maar nou hunker hulle na ’n beter vaderland, naamlik dié een in die hemel. Dit is waarom God Hom nie skaam om as hulle God bekend te staan nie. Hy het immers vir hulle ’n stad voorberei. Omdat hy geglo het, het Abraham, toe God hom wou toets, sy seun as’t ware al klaar geoffer gehad. Ja, hy wou sy enigste kind offer – dié man wat God se beloftes ontvang het, aan wie gesê is: “Isak is die seun uit wie jou nageslag gebore sal word.” Hy het daarop gereken dat God sy kind selfs uit die dood sou kon opwek. En in ’n sekere sin hét hy hom ook uit die dood terugontvang. Omdat hy geglo het, het Isak sy seuns Jakob en Esau geseën met die oog op wat God nog in die toekoms sou doen. Omdat hy geglo het, het Jakob op sy sterfbed albei seuns van Josef geseën en biddend voor God gebuig terwyl hy op sy kierie geleun het. Omdat Josef geglo het, het hy kort voor sy dood melding gemaak van die Israeliete se uittog uit Egipte en opdrag gegee dat hulle sy beendere moes saamneem. Omdat hulle geglo het, het Moses se ouers hom na sy geboorte vir drie maande weggesteek, want hulle het agtergekom dat hy ’n besondere kind was. Hulle het hulle nie deur die koning se bevel laat afskrik nie. Omdat Moses geglo het, het hy as volwasse man geweier om as die seun van Farao se dogter bekend te staan. Hy het die swaarkry saam met God se volk verkies bo die kortstondige genieting van die sonde. Vir hom was die smaad wat hy ter wille van Christus, die Messias, moes deurmaak, ’n groter rykdom as die skatte van Egipte. Hy het immers uitgesien na die beloning wat God aan hom sou gee. Omdat hy geglo het, het Moses Egipte verlaat sonder om hom deur die woede van die koning te laat afskrik. Hy het volgehou soos iemand wat sy oog op die onsienlike gevestig hou. Omdat Moses geglo het, het hy die Paasfees ingestel en bloed aan die deurkosyne laat smeer sodat die doodsengel nie die Israeliete se oudste seuns sou tref nie. Omdat hulle geglo het, het die Israeliete deur die Rooisee getrek soos op droë grond. Maar toe die Egiptenaars dit ook probeer het, het hulle verdrink. Omdat die Israeliete geglo het, het hulle vir sewe dae om Jerigo marsjeer en sy mure het ineengestort. Omdat sy geglo het, het Ragab die prostituut die spioene vriendelik ontvang en nie saam met die mense van haar stad, wat aan God ongehoorsaam was, gesterf nie. Wat meer moet ek nog sê? Dit sal veels te lank neem om nog te vertel van die geloof van Gideon, Barak, Simson, Jefta, Dawid, Samuel en die profete. Hulle het deur te glo koninkryke verower, die reg herstel, verkry wat God beloof het, leeus se bekke toegestop, die gloed van vuur geblus en aan die swaard ontkom. Hulle het krag in hulle swakheid ontvang, was magtig in die oorlog en het vreemde leërs op die vlug laat slaan. Vroue het selfs hulle geliefdes uit die dood terugontvang. Ander weer is gemartel, maar wou nie die prys vir hulle vrylating betaal nie omdat hulle die opstanding tot ’n beter lewe wou verkry. Party moes bespotting en géseling verduur, ook arrestasie en gevangenskap. Hulle is met klippe doodgegooi, in twee gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgegaan in skaapvelle en bokvelle, honger en verdruk en mishandel. Hulle was te goed vir hierdie wêreld; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge in grotte geskuil en in gate in die grond. En alhoewel daar oor hulle almal op grond van hulle geloof met soveel lof getuig is, het nie een van hulle ten volle verkry wat God beloof het nie. Die rede daarvoor is dat God met ons in gedagte iets beters beoog het sodat hulle nie sonder ons volmaaktheid sou bereik nie.