Habakuk 2:1-6

Habakuk 2:1-6 AFR20

Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. Die HERE het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe. Buitendien, wyn is verraderlik. Die sterke is vermetel, maar hy sal nie sy doel bereik nie, hy wat sy keel so wyd oopsper soos die •doderyk, hy wat soos die dood is, wat nie versadig word nie, wat al die nasies by hom versamel het, en al die volke om hom bymekaargemaak het. “ Sal juis hulle nie almal saam oor hom 'n spotlied laat opklink nie, ja, 'n spreuk, raaisels oor hom? Daar sal gesê word, ‘Wee hom wat dít vermeerder wat nie aan hom behoort nie – hoe lank nog? – wat homself met bruikleen belas.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid