HABAKUK 2:1-6
HABAKUK 2:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. Die HERE het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe. Buitendien, wyn is verraderlik. Die sterke is vermetel, maar hy sal nie sy doel bereik nie, hy wat sy keel so wyd oopsper soos die •doderyk, hy wat soos die dood is, wat nie versadig word nie, wat al die nasies by hom versamel het, en al die volke om hom bymekaargemaak het. “ Sal juis hulle nie almal saam oor hom 'n spotlied laat opklink nie, ja, 'n spreuk, raaisels oor hom? Daar sal gesê word, ‘Wee hom wat dít vermeerder wat nie aan hom behoort nie – hoe lank nog? – wat homself met bruikleen belas.
HABAKUK 2:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Ek sal bo-op die muur gaan staan sodat ek ver kan sien. Miskien sien ek wat die Here vir my wil sê. Miskien antwoord Hy my vrae. Die Here het geantwoord. Hy het vir Habakuk gesê: “Ek sal vir jou iets wys, en jy moet dit groot skryf op plat klippe, sodat almal wat daar verby hardloop, dit kan lees. Ek sal vir jou iets wys. Dit sal kom op die regte tyd. Dit sal gebeur, dit is seker. As dit nie gou gebeur nie, dan moet jy wag, want dit sál gebeur. Hoogmoedige mense sal nie kry wat hulle wil hê nie, maar mense wat reg lewe, sal aanhou lewe omdat hulle gehoorsaam is aan My.” Wanneer mense te veel wyn drink, dan is hulle nooit tevrede nie. Hulle dink hulle kan doen wat hulle wil. Die Galdeërs is ook so. Hulle is soos die doderyk. Hulle maak mense dood, maar hulle is nooit tevrede nie, hulle hou aan om mense dood te maak. Hulle maak al die volke vir hulleself bymekaar soos die dood dooie mense bymekaarmaak. Maar die volke sal eendag spot met die Galdeërs. Die volke sal vir mekaar sê: “Dit sal sleg gaan met mense wat hulleself ryk maak en wat goed vat wat aan ander mense behoort.” Dit sal nie meer lank wees nie
HABAKUK 2:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OP my wagtoring wil ek gaan staan en op 'n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord. Toe antwoord die HERE my en sê: Skryf die gesig op en graveer dit op tafels, sodat hulle dit in die verbygaan kan lees. Want die gesig sal nog duur tot op die vasgestelde tyd; maar dit spoed na die einde en sal nie teleurstel nie. As dit mag vertoef, wag daarop; want alte seker sal dit kom en nie versuim nie: Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. En bowendien, die wyn is 'n bedrieër, 'n trotse man is onbestendig: hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk, en soos die dood is hy, so onversadelik — hy vergader vir homself al die nasies en maak vir hom al die volke bymekaar. Sal hulle nie almal oor hom 'n spreuk, 'n spotlied aanhef nie, raaisels oor hom maak nie, en sê: Wee die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie — hoe lank? — en hom beswaar met verpande goed.
HABAKUK 2:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek wil op my uitkyktoring gaan staan, my plek op die vestingmuur gaan inneem, ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt. Die Here het toe vir my gesê: Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees. Die openbaring geld vir 'n bepaalde tyd; dit sal gou kom want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. Dit is die boodskap: Wie nie reg gesind is nie, sal sy verdiende loon kry, maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly. 'n Hooghartige mens wat hom deur sy rykdom laat mislei, sal nie in sy doel slaag nie, al is hy so gulsig soos die doderyk, so onversadigbaar soos die dood, al versamel hy al die nasies rondom hom, al maak hy gevangenes van al die volke. Dieselfde volke sal spotliedjies oor hom sing en met minagting na hom verwys. Hulle sal sê: Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie, wat vir hom al meer goed inpalm wat verpand is. Hoe lank sal dit nog voortduur?
HABAKUK 2:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sal op my wag staan en my op die toring sit, en ek sal waak om te sien wat hy vir my sal sê en wat ek sal antwoord as ek teregwys word. En die HERE het my geantwoord en gesê: Skryf die gesig op en maak dit duidelik op tafels, dat hy kan hardloop wat dit lees. Want die gesig is nog vir 'n vasgestelde tyd, maar aan die einde sal dit spreek en nie lieg nie; al vertoef dit, wag daarop; want dit sal sekerlik kom, dit sal nie uitbly nie. Kyk, sy siel wat verhewe is, is nie reg in hom nie, maar die regverdige sal uit sy geloof lewe. Ja ook, omdat hy deur wyn oortree, is hy 'n trotse man, en bly nie by die huis nie, wat sy begeerte vergroot soos die hel, en is soos die dood, en kan nie versadig word nie, maar al die nasies vir hom versamel en al die volke vir hom versamel. Sal hulle nie almal 'n gelykenis teen hom en 'n spottende spreekwoord teen hom aanhef nie en sê: Wee hom wat vermeerder wat nie syne is nie! hoe lank? en aan hom wat hom met dik klei laai!
HABAKUK 2:1-6 Die Boodskap (DB)
Soos ’n wag op sy wagpos sal ek regstaan om te hoor wat die Here vir my te sê het en wat Hy met my klagte gaan maak. So het die Here my geantwoord: Skryf versigtig en duidelik op kleitablette neer wat Ek jou gaan wys sodat enige mens wat dit lees, nie kan wag om dit aan ander mense te vertel nie. Die dinge wat Ek vir jou gewys het en wat jy opgeskryf het, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Maar binnekort gaan dit vir seker gebeur. Dit voel dalk vir jou of dinge sloer en of niks aan die gebeur is nie, maar wees geduldig. Jy sal sien, kom sal dit kom en niks en niemand sal dit kan terughou nie. Die vyand is vol van homself, maar sal nie oorleef nie. Maar mense wat die Here met ’n opregte hart dien, sal lewe as hulle aan Hom getrou bly. Maar kyk maar, mense wat baie van hulleself dink, word maklik deur ’n honger na mag verlei. Hulle kry nooit genoeg nie en is nooit tevrede met wat hulle het nie. ’n Mens kry altyd die gevoel dat hulle gulsig is. Hulle hou net altyd aan om ander volke te probeer oorwin en te oorheers. Maar die dag sal kom wanneer hierdie volke wat nou ly, spotliedjies oor die Babiloniërs sal begin sing en hulle belaglik sal maak met spotgedigte. Hulle sal sê: Dit sal nog beroerd met julle gaan, julle diewe! Hoe lank dink julle kan julle nog aanhou om mense te verplig om sogenaamde skuld te betaal sodat julle nog ryker kan word?
HABAKUK 2:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek gaan in my uitkyktoring staan, my plek inneem op my wagpos in die muur. Ek wag om te sien wat die HERE vir my gaan sê, wat sy antwoord op my klagte sal wees. HERE Toe het die HERE geantwoord: “Skryf my antwoord, die visioen, in groot, duidelike letters op kleitablette sodat iemand wat verbyhardloop dit kan lees. Die dinge wat Ek beplan, gaan nie nou dadelik gebeur nie. Stadig maar seker breek die tyd aan wanneer die visioen waar sal word. Wag geduldig, al voel dit of dit stadig gaan. Wees seker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie. “Kyk na die hoogmoediges! Hulle vertrou op hulleself en hulle lewe is boos. Die regverdiges, daarenteen, sal deur hulle geloof lewe. Voorspoed verlei mense, en hoogmoedige mense kom nooit tot rus nie. Hulle is magshonger met monde wat groot oop is soos die dood. Tog stel niks hulle ooit tevrede nie. In hulle gulsigheid versamel hulle baie nasies en volke as gevangenes. “Die tyd kom wanneer hulle krygsgevangenes hulle sal koggel en verneder deur te sê: ‘Diewe! Einde ten laaste het die gereg julle ingehaal! Nou sal julle kry wat julle verdien vir julle verdrukking en uitbuiting!’