Josef het op sy vader neergeval, by hom gehuil en hom gesoen. Josef het sy dienaars, die genesers, beveel om sy vader te balsem. Die genesers het Israel toe gebalsem. Daarvoor was 'n volle veertig dae nodig, want soveel dae neem dit om te balsem. Die Egiptenare het sewentig dae lank oor hom gerou. Toe die dae van rou oor hom verby was, het Josef met die huis van die farao gepraat en gesê: “As ek guns geniet in julle oë, gaan praat asseblief direk met die farao en sê, ‘My vader het my laat sweer deur te sê: “Kyk, ek gaan sterf. In my graf wat ek vir my uitgekap het in die land Kanaän, daar moet jy my begrawe.” Laat ek dan nou asseblief optrek, sodat ek my vader kan gaan begrawe en terugkeer.’ ” Die farao het gesê: “Trek op en gaan begrawe jou vader, soos hy jou laat sweer het.”
Josef het toe opgetrek om sy vader te gaan begrawe. Al die dienaars van die farao, die oudstes van sy paleis en al die oudstes van Egipteland het saam met hom opgetrek, ook Josef se hele huis, sy broers en sy familie. Net hulle kinders, hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die Gosenstreek agtergelaat. Saam met hom het sowel strydwaens as spanne perde opgetrek. Dit was 'n besonder plegtige stoet. Toe hulle by Goren-Haätad oorkant die Jordaan aankom, het hulle daar 'n groot en besonder plegtige roubeklag gehou. Hy het sewe dae lank 'n rouseremonie gehou vir sy vader. Die bewoners van die gebied, die Kanaäniete, het die gerou by Goren-Haätad gesien en gesê: “Dit is 'n plegtige rouseremonie vir die Egiptenare.” Daarom het hulle die plek wat oorkant die Jordaan is, Abel-Misrajim genoem.
Sy seuns het met hom gemaak presies soos hy hulle beveel het: Sy seuns het hom na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot op die stuk grond van Magpela, oos van Mamre, die stuk grond wat Abraham vir 'n begraafplek as eiendom gekoop het by Efron, die Hetiet. Josef het na Egipte teruggekeer nadat hy sy vader begrawe het – hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te gaan begrawe.
Toe Josef se broers besef dat hulle vader nou dood is, sê hulle: “As Josef 'n wrok teenoor ons koester, gaan hy ons beslis terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het.” Hulle het toe vir Josef laat weet: “U vader het voor sy dood opdrag gegee, ‘So moet julle vir Josef sê: “Vergewe tog asseblief die oortreding van jou broers en hulle misstap – dat hulle jou soveel kwaad aangedoen het.” ’ Dus, vergewe dan asseblief die oortreding van die dienaars van die God van u vader.” Josef het gehuil toe hulle met hom praat.
Sy broers het ook self gegaan, voor hom neergeval en gesê: “Kyk, ons is u slawe.” Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om 'n groot volk aan die lewe te hou.