GENESIS 50:1-20

GENESIS 50:1-20 Bybel vir almal (ABA)

Nadat Jakob gesterf het, het Josef oor hom gehuil. Hy het oor sy pa se lyk gebuk en hom gesoen. Josef het vir die dokters gesê hulle moet sy pa se lyk balsem. Die dokters het Jakob se lyk gebalsem. Hulle het 40 dae gewerk om iemand te balsem. Ná die 40 dae het die hele Egipte 70 dae lank oor Jakob gerou. Toe die routyd verby was, het Josef vir die mense in die farao se paleis gesê: “Help my asseblief. Gaan praat met die farao en sê vir hom ek het vir my pa belowe dat wanneer hy dood is, dan sal ek hom gaan begrawe in sy graf wat hy in Kanaän gereedgemaak het. Ek wil nou asseblief my pa gaan begrawe. Daarna sal ek terugkom.” Die farao het vir Josef gesê: “Gaan begrawe jou pa soos jy vir hom belowe het.” Josef het na Kanaän gegaan om sy pa te begrawe. Al die amptenare van die farao het saam met hom gegaan, die raadgewers in sy paleis en die leiers van Egipte. Josef se hele familie en sy broers en sy pa se familie het ook saamgegaan. Net die kinders en die skape en bokke en beeste het in Gosen agtergebly. Daar het ook baie oorlogkarre en soldate op perde saamgegaan. Naby die Jordaan-rivier het hulle by die dorsvloer van Atad gekom. Hulle het daar sewe dae lank oor hulle pa gehuil en getreur. Toe die mense van Kanaän sien hoe Josef-hulle treur, het hulle gesê die Egiptenaars treur en rou baie. Daarom het hulle die plek Abel-Misrajim genoem. Die plek was oos van die Jordaan-rivier. Jakob se seuns het gedoen wat hy vir hulle gevra het, hulle het hulle pa begrawe. Sy seuns het sy lyk na Kanaän geneem en hulle het hom begrawe in die grot op die Makpela-grond. Dit is die grond wat Abraham van Efron die Hetiet gekoop het sodat hy 'n graf kon hê. Dit was naby Mamre. Nadat Josef sy pa begrawe het, het hy teruggegaan na Egipte, hy en sy broers en almal wat saam met hom gegaan het om sy pa te begrawe. Nadat Jakob gesterf het, het Josef se broers bekommerd geword en hulle het vir mekaar gesê: “Nou sal Josef dink aan die slegte dinge wat ons aan hom gedoen het, en hy sal ons terugbetaal. Hy sal ook aan óns slegte dinge doen. Hy sal ons vyand word.” Hulle stuur toe 'n boodskap vir Josef en sê vir hom: “Pa het voor sy dood gesê ons moet jou vra om ons te vergewe. Ons het 'n baie verkeerde ding gedoen teen jou. Ons het groot sonde gedoen. Daarom, Josef, vergewe asseblief die verkeerde ding wat ons gedoen het. Ons is ook dienaars van jou pa se God.” Josef het gehuil toe hulle dit vir hom sê. Sy broers kom toe self en buig voor Josef en hulle sê: “Hier is ons. Ons is jou slawe.” Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, ek is nie God nie. Julle het slegte planne gemaak teen my, maar God het dit verander en Hy het dit 'n goeie plan gemaak. Hy het julle plan gebruik om baie mense se lewens te red, tot vandag toe.

GENESIS 50:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE val Josef op sy vader se aangesig, en hy het oor hom geween en hom gesoen. En Josef het aan sy dienaars, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te balsem. En die geneeshere het Israel gebalsem. En veertig dae het daarvoor verbygegaan; want so lank duur die dae van balseming. En die Egiptenaars het hom sewentig dae lank beween. En toe die dae van geween oor hom verby was, het Josef met die huis van Farao gespreek en gesê: As ek dan guns in julle oë gevind het, spreek tog dit voor die ore van Farao: My vader het my laat sweer en gesê: Kyk, ek gaan sterwe; in my graf wat ek vir my in die land Kanaän uitgekap het, daar moet jy my begrawe. Laat my dan nou tog optrek en my vader begrawe. Daarna sal ek terugkom. En Farao sê: Trek op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het. Toe het Josef opgetrek om sy vader te begrawe, en al die dienaars van Farao, die oudstes van sy huis, het saam met hom opgetrek, en al die oudstes van Egipteland; ook die hele huis van Josef en sy broers en die huis van sy vader. Net hulle kinders en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen laat agterbly. En saam met hom het opgetrek strydwaens sowel as ruiters, sodat dit 'n baie groot trek was. En toe hulle by die Steekdoring-dorsvloer kom, wat oos van die Jordaan lê, het hulle daar 'n groot en baie swaar rouklag gehou. En hy het oor sy vader rou laat bedrywe sewe dae lank. Toe die inwoners van die land, die Kanaäniete, die roubedryf by die Steekdoring-dorsvloer sien, sê hulle: Dit is 'n swaar rou vir die Egiptenaars. Daarom het hulle dit Abel-Misráim genoem, wat oos van die Jordaan lê. En sy seuns het met hom gedoen net soos hy hulle beveel het: sy seuns het hom weggebring na die land Kanaän en hom begrawe in die spelonk van die stuk grond van Magpéla, die stuk grond wat Abraham as eiendomsgraf gekoop het van Efron, die Hetiet, oos van Mamre. Daarna het Josef na Egipte teruggegaan, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het. Toe die broers van Josef sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Sê nou Josef gaan ons as vyande behandel en hy gaan ons werklik vergelde al die kwaad wat ons hom aangedoen het! Daarom het hulle hierdie boodskap na Josef gestuur: U vader het voor sy dood bevel gegee met hierdie woorde: So moet julle vir Josef sê: Ag, vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde, want hulle het jou kwaad aangedoen. Maar nou, vergewe tog die oortreding van ons wat die God van u vader dien. En Josef het geween toe hulle met hom spreek. En sy broers het ook self gegaan en voor hom neergeval en gesê: Kyk, ons is u slawe. Maar Josef het hulle geantwoord: Moenie bevrees wees nie; want is ek in die plek van God? Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om 'n groot volk in die lewe te hou.

GENESIS 50:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josef het toe oor sy pa gebuk en hom al huilende gesoen. Daarna het Josef die dokters in sy diens beveel om die lyk van sy pa te balsem. Hulle het toe vir Israel gebalsem. Dit het veertig dae gevat om 'n lyk te balsem, en Egipte het sewentig dae lank oor Jakob gerou. Toe hierdie routyd verby was, het Josef vir die amptenare van die farao gesê: “As julle my goedgesind is, praat dan tog met die farao en sê vir hom my vader het my 'n eed laat aflê dat ek hom, wanneer hy eendag sterf, sal gaan begrawe in die graf wat hy vir hom in Kanaän reggemaak het. Ek wil hom nou gaan begrawe en dan sal ek terugkom.” Die farao het geantwoord: “Gaan, en begrawe jou vader soos hy jou met 'n eed laat beloof het.” Josef is toe weg om sy pa te gaan begrawe. Al die amptenare van die farao, die raadgewers van die paleis en die leiers van Egipte is met hom saam, die hele familie van Josef en sy broers en die familie van sy pa is ook saam. Net die kinders, die kleinvee en die grootvee het in die Gosenstreek agtergebly. Waens en perde is met Josef saam. Dit was 'n baie groot stoet. Toe hulle by die dorsvloer van Atad oos van die Jordaan kom, het hulle sewe dae lank daar getreur en gerou oor hulle pa. Hulle het baie getreur oor hom. Die mense van Kanaän het hulle daar by die dorsvloer van Atad sien rou en gesê: Egipte is swaar in rou. Daarom noem hulle hierdie plek aan die oostekant van die Jordaan Abel-Misrajim . Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa gesê het. Hulle het hom Kanaän toe gevat en gaan begrawe in die Makpelagrot op die grond wat deur Abraham by die Hetiet Efron as 'n begraafplek gekoop is. Die grond lê oos van Mamre. Na die begrafnis is Josef en sy broers en almal wat met hom saam is om sy pa te gaan begrawe, terug Egipte toe. Na hulle pa se dood het Josef se broers gevra: “En as Josef nog steeds 'n grief teen ons het en ons nou gaan terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het?” Daarom het hulle 'n boodskap na hom toe gestuur: “Voor sy dood het u vader beveel: ‘Julle moet vir Josef vra om tog die groot misdaad teen hom, die onreg wat julle hom aangedoen het, te vergewe.’ Vergeef ons tog nou die misdaad. Ons dien ook die God van u vader.” Josef het gehuil oor wat hulle vir hom laat weet het. Daarna het die broers na Josef toe gegaan en voor hom op hulle knieë geval en gesê: “Hier is ons voor u. Ons is u slawe.” Maar Josef het hulle geantwoord: “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

GENESIS 50:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josef het op sy vader neergeval, by hom gehuil en hom gesoen. Josef het sy dienaars, die genesers, beveel om sy vader te balsem. Die genesers het Israel toe gebalsem. Daarvoor was 'n volle veertig dae nodig, want soveel dae neem dit om te balsem. Die Egiptenare het sewentig dae lank oor hom gerou. Toe die dae van rou oor hom verby was, het Josef met die huis van die farao gepraat en gesê: “As ek guns geniet in julle oë, gaan praat asseblief direk met die farao en sê, ‘My vader het my laat sweer deur te sê: “Kyk, ek gaan sterf. In my graf wat ek vir my uitgekap het in die land Kanaän, daar moet jy my begrawe.” Laat ek dan nou asseblief optrek, sodat ek my vader kan gaan begrawe en terugkeer.’ ” Die farao het gesê: “Trek op en gaan begrawe jou vader, soos hy jou laat sweer het.” Josef het toe opgetrek om sy vader te gaan begrawe. Al die dienaars van die farao, die oudstes van sy paleis en al die oudstes van Egipteland het saam met hom opgetrek, ook Josef se hele huis, sy broers en sy familie. Net hulle kinders, hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die Gosenstreek agtergelaat. Saam met hom het sowel strydwaens as spanne perde opgetrek. Dit was 'n besonder plegtige stoet. Toe hulle by Goren-Haätad oorkant die Jordaan aankom, het hulle daar 'n groot en besonder plegtige roubeklag gehou. Hy het sewe dae lank 'n rouseremonie gehou vir sy vader. Die bewoners van die gebied, die Kanaäniete, het die gerou by Goren-Haätad gesien en gesê: “Dit is 'n plegtige rouseremonie vir die Egiptenare.” Daarom het hulle die plek wat oorkant die Jordaan is, Abel-Misrajim genoem. Sy seuns het met hom gemaak presies soos hy hulle beveel het: Sy seuns het hom na die land Kanaän geneem en hom begrawe in die grot op die stuk grond van Magpela, oos van Mamre, die stuk grond wat Abraham vir 'n begraafplek as eiendom gekoop het by Efron, die Hetiet. Josef het na Egipte teruggekeer nadat hy sy vader begrawe het – hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te gaan begrawe. Toe Josef se broers besef dat hulle vader nou dood is, sê hulle: “As Josef 'n wrok teenoor ons koester, gaan hy ons beslis terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het.” Hulle het toe vir Josef laat weet: “U vader het voor sy dood opdrag gegee, ‘So moet julle vir Josef sê: “Vergewe tog asseblief die oortreding van jou broers en hulle misstap – dat hulle jou soveel kwaad aangedoen het.” ’ Dus, vergewe dan asseblief die oortreding van die dienaars van die God van u vader.” Josef het gehuil toe hulle met hom praat. Sy broers het ook self gegaan, voor hom neergeval en gesê: “Kyk, ons is u slawe.” Maar Josef het vir hulle gesê: “Moenie bang wees nie, want is ek in God se plek? Julle het kwaad teen my beplan, maar God het dit vir iets goeds in gedagte gehad, met die doel om te doen wat vandag gebeur – om 'n groot volk aan die lewe te hou.

GENESIS 50:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Josef het op sy vader se aangesig geval en oor hom geween en hom gesoen. En Josef het sy dienaars, die geneesHERE, bevel gegee om sy vader te balsem, en die geneesHERE het Israel gebalsem. En veertig dae het vir hom vervul; want so is die dae van die gebalsemdes vervul, en die Egiptenaars het oor hom getreur en sewentig dae lank. En toe die dae van sy rou verby was, het Josef met die huis van Farao gespreek en gesê: As ek nou genade in julle oë gevind het, spreek tog voor die ore van Farao en sê: My vader het my laat sweer en gesê: Kyk, ek sterf; in my graf wat ek vir my in die land Kanaän gegrawe het, daar moet jy my begrawe. Laat my dan nou tog optrek en my vader begrawe, en ek sal terugkom. Toe sê Farao: Trek op en begrawe jou vader soos hy jou laat sweer het. En Josef het opgetrek om sy vader te begrawe, en saam met hom het al die dienaars van Farao, die oudstes van sy huis en al die oudstes van Egipteland, opgetrek, En die hele huis van Josef en sy broers en sy vader se huis: net hulle kindertjies en hulle kleinvee en hulle beeste het hulle in die land Gosen agtergelaat. En strydwaens en ruiters het saam met hom opgetrek, en dit was 'n baie groot menigte. En hulle het by die dorsvloer van Atad gekom wat anderkant die Jordaan is, en daar het hulle getreur met 'n groot en baie hewige klaaglied; en hy het sewe dae lank oor sy vader gerou. En toe die inwoners van die land, die Kanaäniete, die rou op die vloer van Atad sien, sê hulle: Dit is 'n ernstige rou vir die Egiptenaars; daarom is die naam daarvan Abel-Misraim genoem, wat anderkant die Jordaan is. En sy seuns het met hom gedoen soos hy hulle beveel het: Want sy seuns het hom na die land Kanaän ingebring en hom begrawe in die spelonk van die veld van Magpela, wat Abraham saam met die land gekoop het as 'n besitting van 'n graf van Efron, die Hetiet, voor Mamre. En Josef het na Egipte teruggekeer, hy en sy broers en almal wat saam met hom opgetrek het om sy vader te begrawe, nadat hy sy vader begrawe het. En toe Josef se broers sien dat hulle vader dood was, het hulle gesê: Josef sal ons dalk haat en ons beslis vergelde vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het. En hulle het 'n boodskapper na Josef gestuur om te sê: Jou vader het voor sy dood bevel gegee en gesê: So moet julle vir Josef sê: Vergewe tog die oortreding van jou broers en hulle sonde; want hulle het jou kwaad aangedoen; en vergeef ons tog nou die oortreding van die dienaars van die God van jou vader. En Josef het gehuil toe hulle met hom gespreek het. En sy broers het ook gegaan en voor sy aangesig neergeval; en hulle sê: Kyk, ons is U dienaars. En Josef sê vir hulle: Moenie vrees nie, want is ek in die plek van God? Maar julle, julle het kwaad teen My gedink; maar God het dit ten goede bedoel om te doen, soos dit vandag is, om baie mense in die lewe te hou.

GENESIS 50:1-20 Die Boodskap (DB)

Josef het op sy pa gaan lê en terwyl hy huil, het hy Jakob se gesig gesoen. Josef het toe beveel dat sy pa se liggaam gebalsem moet word. Dit het 40 dae geduur. Dit was maar die normale tyd wat dit in Egipte geduur het om ’n liggaam te balsem. Al die Egiptenaars het 70 dae oor Jakob gerou. Na die routyd het Josef vir die koning se amptenare gesê: “As julle van my hou, gaan sê vir die koning my pa het voor sy dood my laat belowe dat ek hom in die familiegraf in Kanaän moet gaan begrawe. Ek vra die koning se toestemming om my pa in Kanaän te begrawe. Ek sal dadelik ná die begrafnis terugkom.” Die koning het geantwoord: “Gaan begrawe jou pa, want jy het hom jou woord gegee.” So is Josef daar weg. Al die koning se amptenare, al die senior persone in sy diens en al die leiers in Egipte is saam met Josef Kanaän toe. Josef se eie familie, sy broers en al sy pa se mense het saamgegaan. Slegs die klein kindertjies en die ou mense, asook die skape en bokke, het in die land Gosen agtergebly. Baie ruiters op oorlogswaens en perde het saam met Josef-hulle gegaan. Dit was ’n groot en ’n indrukwekkende groep mense. Toe hulle by Atad aan die oostekant van die Jordaan kom, het hulle eers gestop. Almal het bymekaargekom en weer lank oor Jakob gehuil en gerou. Hulle het sewe dae lank daar gebly en oor Jakob se lewe nagedink en oor hom gerou. Toe die mense van Kanaän sien wat by Atad gebeur, het hulle gesê: “Hoe aangrypend het die Egiptenaars tog nie sewe dae lank oor Jakob gerou nie!” Toe het die mense besluit om die plek se naam na Abel-Misrajim te verander. Jakob se seuns het gedoen wat hulle pa hulle gevra het: hulle het sy liggaam Kanaän toe gebring en dit neergelê in die grot van Magpela, oos van Mamre, op die stuk grond wat Abraham nog van Efron, die Hetiet, as grafgrond gekoop het. Na die begrafnis is Josef, sy broers en almal wat saam met hom vir die begrafnis Kanaän toe is, weer terug Egipte toe. Na Jakob se dood het die lewe weer sy gewone gang gegaan. Josef se broers was egter onrustig en het vir mekaar gesê: “Sê nou Josef haat ons en hy wil ons terugkry vir alles wat ons aan hom gedoen het?” Hulle besluit toe om ’n boodskap vir Josef te stuur. “Voor sy dood,” so het die boodskap begin, “het Pa gesê ons moet die saak met jou regmaak. Soos jy weet, staan ons voor jou en Pa se God skuldig. Maar nou, Josef, vra ons jou mooi om ons daardie dag se verskriklike daad te vergewe.” Josef het begin huil toe hy die boodskap hoor. Die broers is self na Josef toe en het laag voor hom gebuig en vir hom gesê: “Hier is ons. Ons sal jou slawe wees.” Josef het gesê: “Moet tog nie bang wees nie. Ek is mos nie God nie. Julle het ’n vreeslike ding gedoen, maar God het die slegte ding in iets goeds verander. Baie mense leef vandag en het kos omdat julle my daardie dag verkoop het.

GENESIS 50:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josef het op sy pa geval en gehuil terwyl hy hom soen. Daarna sê Josef vir sy dokters om die lyk te balsem. Hierdie proses het 40 dae geneem en was deel van die 70 dae waartydens die hele Egipte oor Jakob gerou het. Ná die routyd praat Josef met die farao se raadgewers en vra dat hulle namens hom met die farao sal praat. Hy sê vir hulle: “Sê vir die farao my pa het my ’n eed laat aflê. Hy het gesê: ‘Ek is op die punt om te sterf. Neem my liggaam terug na die land Kanaän toe en begrawe my in ons gesin se familiegraf.’ Ek wil nou opgaan soontoe en my pa gaan begrawe. Daarna sal ek terugkom.” Die farao het ingestem: “Gaan en begrawe jou pa soos jy belowe het.” Josef het toe gegaan en saam met hom al die amptenare van die farao, die raadgewers van sy paleis en al die senior beamptes van Egipte. Josef het ook sy broers en Jakob se hele huishouding saamgeneem. Hulle kinders, kleinvee en grootvee het hulle egter in die Gosenstreek agtergelaat. ’n Groot stoet van waens en perderuiters het Josef vergesel. Toe hulle by die dorsvloer van Atad, oos van die Jordaan aankom, het hulle sewe dae lank daar oor hulle pa gerou en getreur. Die plaaslike Kanaäniete het gesien hoe hulle rou en het die plek toe Abel-Misrajim genoem, want hulle het gesê: “Dit is ’n plek van swaar rou vir hierdie Egiptenaars.” Jakob se seuns het dus gedoen soos hy hulle beveel het. Hulle het sy liggaam Kanaän toe geneem en dit in die grot van Makpela neergelê. Dit is die grot wat Abraham as ’n permanente begraafplek gekoop het op die grond van Efron die Hetiet, naby Mamre. Josef het saam met sy broers en almal wat hom na sy pa se begrafnis vergesel het, na Egipte toe teruggekeer. Ná hulle pa se dood het Josef se broers bang geword. “Nou gaan Josef ons terugbetaal vir al die kwaad wat ons hom aangedoen het,” het hulle gesê. Daarom stuur hulle die volgende boodskap vir Josef: “Voordat jou pa gesterf het, het hy ons beveel om vir jou te sê: ‘Vergewe jou broers tog vir die groot onreg wat hulle jou aangedoen het.’ Vergeef ons tog nou, want ons dien ook die God van jou pa.” Toe Josef hierdie boodskap kry, het hy in trane uitgebars. Sy broers kom toe self en val voor hom neer. “Ons sal u slawe wees,” het hulle gesê. Maar Josef sê vir hulle: “Moenie vir my bang wees nie. Ek is nie in God se skoene om julle te straf nie. Julle het my wel kwaad aangedoen, maar God het die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het deur my gesorg dat ’n groot volk oorleef.