Genesis 46:1-34

Genesis 46:1-34 AFR20

Israel en almal wat by hom hoort, het kamp opgebreek. Toe hulle by Berseba kom, het hy offers geslag vir die God van sy vader Isak. God het met Israel in naggesigte gepraat; Hy het gesê: “Jakob! Jakob!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om af te trek na Egipte nie, want Ek sal daar van jou 'n groot nasie maak. Ek self sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek self sal jou beslis ook weer laat optrek. En Josef, hy sal jou oë toedruk.” Jakob het gereedgemaak en vertrek uit Berseba. Die seuns van Israel het hulle vader Jakob, hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat die farao gestuur het om hom te vervoer. Hulle het ook hulle vee en hulle goedere wat hulle in die land Kanaän bekom het, geneem, en in Egipte aangekom, Jakob en sy hele nageslag saam met hom. Sy seuns en sy kleinseuns was saam met hom; sy dogters en sy kleindogters, sy hele nageslag het hy saam met hom na Egipte gebring. Hier volg die name van die nageslag van Israel wat in Egipte aangekom het; dit is Jakob en sy nakomelinge: Die eersgeborene van Jakob was Ruben. Die seuns van Ruben was Ganog, Pallu, Gesron en Karmi. Die seuns van Simeon was Jemuel, Jamin, Ohad, Jagin, Sogar en Saul, seun van 'n Kanaänitiese vrou. Die seuns van Levi was Gerson, Kehat en Merari. Die seuns van Juda was Er, Onan, Sela, Peres en Serag. Er en Onan het in die land Kanaän gesterf; en Peres se seuns was Gesron en Gamul. Die seuns van Issaskar was Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Die seuns van Sebulon was Sered, Elon en Jagleël. Dit was die seuns van Lea wat sy in Paddan-Aram vir Jakob in die wêreld gebring het, en ook sy dogter Dina – altesaam, seuns en dogters, drie-en-dertig persone. Die seuns van Gad was Sifjon en Gaggi, Suni en Esbon, Eri, Arodi en Areli. Die seuns van Aser was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en Serag was hulle suster. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit was die seuns van Silpa, wat Laban vir sy dogter Lea gegee het. Sy het hierdie nageslag vir Jakob in die wêreld gebring – sestien persone. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob, was Josef en Benjamin. Vir Josef is Manasse en Efraim in Egipte gebore, hulle wat Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Die seuns van Benjamin was Bela, Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit was die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is – altesaam veertien persone. Die seun van Dan was Gusim. Die seuns van Naftali was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit was die seuns van Bilha, wat Laban vir sy dogter Ragel gegee het. Sy het hulle vir Jakob in die wêreld gebring – altesaam sewe persone. Al die mense van Jakob wat na Egipte gekom het, al sy direkte afstammelinge, met die uitsondering van die vroue van Jakob se seuns, was altesaam ses-en-sestig persone. Die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was net twee. Al die persone van die huis van Jakob wat na Egipte gekom het, was sewentig. Juda het hy voor hom uit gestuur na Josef om vir hom die pad na Gosen te wys. Toe hulle in die Gosenstreek aankom, het Josef sy strydwa ingespan en opgetrek om sy vader Israel in Gosen te ontmoet. Toe hy by hom opdaag, val hy hom om die nek en huil lank op sy skouer. Israel sê toe vir Josef: “Ek kan nou maar sterf, noudat ek jou gesig gesien het, gesien het dat jy nog leef.” Josef het vir sy broers en sy familie gesê: “Ek wil optrek en die farao gaan inlig en vir hom sê, ‘My broers en my familie wat in die land Kanaän was, het na my toe gekom. Die manne is herders van kleinvee, ja, hulle was altyd veeboere. Hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het hulle saamgebring.’ As die farao julle ontbied en vra, ‘Wat is julle daaglikse werk?’ moet julle sê, ‘U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe – ons sowel as ons voorvaders’, sodat julle in die Gosenstreek kan woon, want alle herders van kleinvee is vir die Egiptenare afstootlik.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid