GENESIS 46:1-34

GENESIS 46:1-34 NLV

Jakob het met al sy besittings die reis na Egipte aangepak. Toe hy Berseba bereik, bring hy offers aan die God van Isak, sy pa. In die nag het God in ’n visioen met hom gepraat. “Jakob! Jakob!” het Hy geroep. “Ek luister,” antwoord Jakob. Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar tot ’n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, maar Ek sal julle weer terugbring. Wanneer jy sterf, sal Josef by jou wees om jou oë toe te druk.” Jakob het gereedgemaak om vanaf Berseba te vertrek, en sy seuns het hom na Egipte toe gebring. Hulle het hulle pa, hulle kinders en hulle vroue op die waens laat klim wat die farao saamgestuur het. Hulle het ook hulle lewende hawe en al die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het, saamgeneem. So het Jakob en sy hele nageslag in Egipte aangekom: sy seuns en kleinseuns, sy dogters en kleindogters – sy hele familie. Dit is die name van die Israeliete, die nageslag van Jakob, wat saam met hom na Egipte toe gegaan het: Ruben, Jakob se oudste seun. Die seuns van Ruben was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, die seun van ’n Kanaänitiese vrou. Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari. Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al vroeër in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Job en Simron. Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël. Dit is die 33 seuns en kleinseuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter Dina gehad. Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli. Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en hulle suster Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit is die sestien afstammelinge wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea as slavin gegee. Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel. In Egipte is twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On, het aan hulle geboorte gegee. Hulle was Manasse en Efraim. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit is die veertien seuns en kleinseuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Dan en sy seun Sugam. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit is die sewe seuns en kleinseuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel as slavin gegee. Die getal direkte afstammelinge van Jakob wat saam met hom Egipte toe gegaan het, was 66, die vroue van die seuns uitgesluit. Josef het ook twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. In totaal was daar dus 70 lede van Jakob se familie in Egipte. Jakob het Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet hy is op pad na Gosen toe. Nadat hulle daar aangekom het, het Josef sy wa laat inspan om sy pa in Gosen te gaan ontmoet. Toe hy by hom kom, het hy sy pa omhels en lank so op sy skouer gestaan en huil. Toe sê Jakob vir Josef: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe.” Josef sê vir sy broers en sy hele familie: “Ek gaan om vir Farao te vertel dat julle almal uit die land Kanaän aangekom het om saam met my te wees. Ek sal ook vir hom sê: ‘Hierdie mense boer met klein- en grootvee. Hulle het al hulle diere saamgebring en ook alles wat hulle besit.’ Wanneer Farao dan met julle praat en navraag doen na julle beroep, moet julle vir hom sê: ‘Ons was ons lewe lank veeboere, soos ons voorouers.’ As julle dit vir hom sê, sal hy julle hier in Gosen laat woon, want kleinveeboere word in Egipte verafsku.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid