GENESIS 46:1-34

GENESIS 46:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Jakob het weggegaan uit Kanaän saam met al sy mense. Hy het by die stad Berseba gekom en hy het offers gebring vir die God van sy pa Isak. Jakob het in die nag gedroom dat God hom roep en sê: “Jakob!” En Jakob het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa Isak. Gaan na die land Egipte en moenie bang wees nie. Ek sal jou nageslag in Egipte baie maak. Hulle sal 'n groot volk word. Ek sal saam met jou gaan na Egipte en Ek sal jou ook later weer laat terugkom hiernatoe. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toemaak.” Jakob het toe weggegaan uit Berseba. Sy seuns het hulle pa en hulle kinders en hulle vroue op die waens laat ry wat die farao vir hulle gestuur het. Hulle het hulle diere saamgeneem en al die goed wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. Jakob en sy hele nageslag saam met hom het na Egipte gegaan en hulle het daar aangekom. Jakob het sy hele familie saamgeneem na Egipte: sy seuns, sy kleinseuns, sy dogters en sy kleindogters. Hier is die name van die Israeliete, Jakob se seuns, wat na Egipte gegaan het: Jakob se oudste seun was Ruben. Ruben se seuns was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Simeon se seuns was Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul. Saul se ma was 'n vrou van die land Kanaän. Levi se seuns was Gerson, Kehat en Merari. Juda se seuns was Er, Onan, Selag, Peres en Serag. Er en Onan het in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Issaskar se seuns was Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Sebulon se seuns was Sered, Elon en Jagleël. Dit was die seuns van Lea wat sy vir Jakob in Paddan-Aram gekry het. Sy het ook 'n dogter gehad, haar naam was Dina. Hulle almal saam was 33 mense. Gad se seuns was Sifjon, Gaggai, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli. Aser se seuns was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria. Hulle suster se naam was Serag. Beria se seuns was Geber en Malkiël. Dit was die seuns van Silpa, die slavin wat Laban vir sy dogter Lea gegee het. Hulle almal saam was 16 mense. Jakob se vrou Ragel het twee seuns gehad. Hulle was Josef en Benjamin. Josef het getrou met Asenat. Sy was die dogter van Poti-Fera, die priester van die stad On. Sy het in Egipte twee seuns gekry vir Josef. Hulle was Manasse en Efraim. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit was die seuns wat Ragel vir Jakob gekry het. Hulle almal saam was 14 mense. Dan het een seun gehad. Sy naam was Gussim. Naftali se seuns was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit was die seuns van Bilha, die slavin wat Laban vir sy dogter Ragel gegee het. Hulle was almal saam sewe mense. Die kinders en kleinkinders van Jakob wat saam na Egipte gegaan het, was almal saam 66. Die vroue van Jakob se seuns het ook saamgegaan, maar hulle het nie getel hoeveel vroue daar was nie. Josef het ook nog twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. Daar was 70 mense in Jakob se familie wat na Egipte gegaan het. Jakob het vir Juda gestuur om voor hom na Josef toe te gaan om vir hom te sê dat hulle na die land Gosen kom. Hulle het in Gosen aangekom, en Josef het gesê sy slawe moet sy oorlogkar bring. Hy het daarop gery om sy pa Jakob te gaan ontmoet. Toe hy sy pa sien, het hy sy arms om hom gesit en hy het lank by sy pa gestaan en huil. Toe sê Jakob vir Josef: “Nou is ek tevrede, nou kan ek sterf. Ek het jou weer gesien, ek het gesien jy lewe nog.” Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek sal nou vir die farao vertel dat my broers en my familie van Kanaän gekom het en dat hulle hier aangekom het. Ek sal vir hom sê julle is veeboere, julle boer met beeste, skape en bokke, en julle het alles saamgebring wat julle het. Wanneer die farao julle roep en vir julle vra watter werk julle doen, dan moet julle sê: ‘Ons is nog altyd veeboere, vandat ons klein was. Ons oupas en pa's was ook veeboere.’ Julle moet sê julle is veeboere, dan sal die farao sê julle mag in Gosen woon. Die Egiptenaars hou niks van veeboere nie en hulle wil nie naby veeboere woon nie.”

GENESIS 46:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Berséba gekom; en hy het offerandes gebring aan die God van sy vader Isak. En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak. Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou oë toedruk. Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer. En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom: sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring. En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het — Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben. En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi. En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou. En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári. En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul. En die seuns van Íssaskar: Tola en Puwa en Job en Simron. En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël. Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie-en-dertig. En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Aródi en Areëli. En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Bería en Serag, hulle suster; en die seuns van Bería: Heber en Málkiël. Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het vir Jakob hierdie sestien siele gebaar. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin. En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het. En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard. Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele. En die seuns van Dan: Husim. En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem. Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele. Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses-en-sestig siele. En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig. En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom. Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween. En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef! Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat in die land Kanaän was, het na my gekom. En die manne is herders van kleinvee — want hulle was veeboere — en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring. En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering? dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders — sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars 'n gruwel.

GENESIS 46:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

Israel en almal by hom het vertrek. Hy het by Berseba gekom en daar 'n offer gebring aan die God van sy pa Isak. God het dié nag met Israel gepraat in 'n visioen en geroep: “Jakob, Jakob!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om na Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, en Ek sal jou beslis weer hierheen laat terugkom. Wanneer jy sterf, sal Josef jou oë toedruk.” Toe Jakob uit Berseba wou vertrek, het die seuns van Israel hulle pa Jakob en hulle kinders en vrouens op die waens laat klim wat deur die farao gestuur is om op te ry. Hulle het hulle vee saamgevat en ook die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het. So is Jakob en sy hele nageslag weg Egipte toe: sy seuns en kleinseuns was by hom, ook sy dogters en kleindogters. Hy het sy hele familie saamgevat Egipte toe. Hier volg die name van die Israeliete wat Egipte toe is: Jakob en sy oudste seun Ruben en dié se seuns Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, seun van 'n Kanaänitiese vrou. Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari. Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël. Dit is die seuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook 'n dogter Dina gehad. Hulle almal saam was drie en dertig. Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli. Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria en hulle suster Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit is die seuns wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het haar vir sy dogter Lea gegee. Hulle almal saam was sestien. Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel. In Egipte is daar twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, het hulle vir hom in die wêreld gebring. Hulle was Manasse en Efraim. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit is die seuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Hulle almal saam was veertien. Dan en sy seun Sugam. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit is die seuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het haar vir sy dogter Ragel gegee. Hulle almal saam was sewe. Afgesien van die vrouens van Jakob se seuns was daar ses en sestig afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is. In Egipte was daar reeds twee seuns vir Josef gebore. Jakob se afstammelinge was dus altesaam sewentig, en hulle was in Egipte. Jakob het vir Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet dat hy op pad is na Gosen toe. Nadat Jakob-hulle in Gosen aangekom het, het Josef sy wa laat inspan om sy pa Israel in Gosen te gaan ontmoet. Toe Josef hom sien, het hy hom omhels en lank so gestaan en huil. Toe sê Israel vir Josef: “Nou kan ek maar sterf. Ek het jou gesien. Jy lewe nog!” Josef het vir sy broers en vir sy hele familie gesê: “Ek wil vir die farao gaan sê my broers en my familie het uit Kanaän hier aangekom. Die manne is kleinveeboere, mense met vee, en hulle het hulle kleinvee en grootvee en alles wat hulle besit, saamgebring. As die farao julle nou laat roep en vir julle vra wat is julle nering, moet julle vir hom sê: ‘Van kleins af tot nou toe was ons veeboere, ons en ons voorvaders.’ Dan sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars het 'n afkeer van kleinveeboere.”

GENESIS 46:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Israel en almal wat by hom hoort, het kamp opgebreek. Toe hulle by Berseba kom, het hy offers geslag vir die God van sy vader Isak. God het met Israel in naggesigte gepraat; Hy het gesê: “Jakob! Jakob!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” Toe sê God: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om af te trek na Egipte nie, want Ek sal daar van jou 'n groot nasie maak. Ek self sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek self sal jou beslis ook weer laat optrek. En Josef, hy sal jou oë toedruk.” Jakob het gereedgemaak en vertrek uit Berseba. Die seuns van Israel het hulle vader Jakob, hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat die farao gestuur het om hom te vervoer. Hulle het ook hulle vee en hulle goedere wat hulle in die land Kanaän bekom het, geneem, en in Egipte aangekom, Jakob en sy hele nageslag saam met hom. Sy seuns en sy kleinseuns was saam met hom; sy dogters en sy kleindogters, sy hele nageslag het hy saam met hom na Egipte gebring. Hier volg die name van die nageslag van Israel wat in Egipte aangekom het; dit is Jakob en sy nakomelinge: Die eersgeborene van Jakob was Ruben. Die seuns van Ruben was Ganog, Pallu, Gesron en Karmi. Die seuns van Simeon was Jemuel, Jamin, Ohad, Jagin, Sogar en Saul, seun van 'n Kanaänitiese vrou. Die seuns van Levi was Gerson, Kehat en Merari. Die seuns van Juda was Er, Onan, Sela, Peres en Serag. Er en Onan het in die land Kanaän gesterf; en Peres se seuns was Gesron en Gamul. Die seuns van Issaskar was Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Die seuns van Sebulon was Sered, Elon en Jagleël. Dit was die seuns van Lea wat sy in Paddan-Aram vir Jakob in die wêreld gebring het, en ook sy dogter Dina – altesaam, seuns en dogters, drie-en-dertig persone. Die seuns van Gad was Sifjon en Gaggi, Suni en Esbon, Eri, Arodi en Areli. Die seuns van Aser was Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en Serag was hulle suster. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit was die seuns van Silpa, wat Laban vir sy dogter Lea gegee het. Sy het hierdie nageslag vir Jakob in die wêreld gebring – sestien persone. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob, was Josef en Benjamin. Vir Josef is Manasse en Efraim in Egipte gebore, hulle wat Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On, vir hom in die wêreld gebring het. Die seuns van Benjamin was Bela, Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit was die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is – altesaam veertien persone. Die seun van Dan was Gusim. Die seuns van Naftali was Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit was die seuns van Bilha, wat Laban vir sy dogter Ragel gegee het. Sy het hulle vir Jakob in die wêreld gebring – altesaam sewe persone. Al die mense van Jakob wat na Egipte gekom het, al sy direkte afstammelinge, met die uitsondering van die vroue van Jakob se seuns, was altesaam ses-en-sestig persone. Die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was net twee. Al die persone van die huis van Jakob wat na Egipte gekom het, was sewentig. Juda het hy voor hom uit gestuur na Josef om vir hom die pad na Gosen te wys. Toe hulle in die Gosenstreek aankom, het Josef sy strydwa ingespan en opgetrek om sy vader Israel in Gosen te ontmoet. Toe hy by hom opdaag, val hy hom om die nek en huil lank op sy skouer. Israel sê toe vir Josef: “Ek kan nou maar sterf, noudat ek jou gesig gesien het, gesien het dat jy nog leef.” Josef het vir sy broers en sy familie gesê: “Ek wil optrek en die farao gaan inlig en vir hom sê, ‘My broers en my familie wat in die land Kanaän was, het na my toe gekom. Die manne is herders van kleinvee, ja, hulle was altyd veeboere. Hulle kleinvee en beeste en alles wat hulle besit, het hulle saamgebring.’ As die farao julle ontbied en vra, ‘Wat is julle daaglikse werk?’ moet julle sê, ‘U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe – ons sowel as ons voorvaders’, sodat julle in die Gosenstreek kan woon, want alle herders van kleinvee is vir die Egiptenare afstootlik.”

GENESIS 46:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Israel het weggetrek met alles wat hy gehad het, en in Berséba gekom en offers gebring aan die God van sy vader Isak. En God het met Israel gespreek in die naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy sê: Hier is ek. En hy sê: Ek is God, die God van jou vader; vrees nie om na Egipte af te trek nie; want Ek sal jou daar 'n groot nasie maak. Ek sal saam met jou aftrek na Egipte; en Ek sal jou ook gewis weer laat opkom, en Josef sal sy hand op jou oë lê. En Jakob het opgestaan van Berséba, en die kinders van Israel het hulle vader Jakob en hulle kinders en hulle vroue gedra op die waens wat Farao gestuur het om hom te vervoer. En hulle het hulle vee en hulle goed wat hulle in die land Kanaän gekry het, geneem en in Egipte gekom, Jakob en al sy nageslag saam met hom. Sy seuns en sy seuns se seuns saam met hom, sy dogters en sy seuns se dogters en al sy nageslag het hy saam met hom na Egipte gebring. En dit is die name van die kinders van Israel wat in Egipte gekom het, Jakob en sy seuns: Ruben, Jakob se eersgeborene. En die seuns van Ruben; Hanog en Phallu en Hesron en Karmi. En die seuns van Símeon; Jemuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van 'n Kanaänitiese vrou. En die seuns van Levi; Gerson, Kehat en Merari. En die seuns van Juda; Er en Onan en Sela en Peres en Serag; maar Er en Onan het in die land Kanaän gesterf. En die seuns van Peres was Hesron en Hamul. En die seuns van Issaskar; Tola en Puva en Job en Simron. En die seuns van Sébulon; Sered en Elon en Jahleël. Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina: al die siele van sy seuns en sy dogters was drie en dertig. En die seuns van Gad; Sifion en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Arodi en Areli. En die seuns van Aser; Jimna en Jisua en Isui en Bería en Serag, hulle suster; en die seuns van Bería; Heber en Malchiël. Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het, en dit het sy vir Jakob gebaar, sestien siele. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob; Josef en Benjamin. En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim, wat Asenat, die dogter van Potifera, die priester van On, vir hom gebaar het. En die seuns van Benjamin was Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Ehi en Ros, Muppim en Huppim en Ard. Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is: al die siele was veertien. En die seuns van Dan; Hushim. En die seuns van Náftali; Jagseël en Guni en Jeser en Sillem. Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het, en sy het dit vir Jakob gebaar: al die siele was sewe. Al die siele wat saam met Jakob na Egipte gekom het, wat uit sy lendene gekom het, buiten die vroue van Jakob se seuns, al die siele was ses en sestig; En die seuns van Josef, wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele: al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was tien en sestig. En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef om sy aangesig na Gosen te rig; en hulle het in die land Gosen gekom. En Josef het sy strydwa gereedgemaak en opgegaan om sy vader Israel te ontmoet, na Gosen, en hom voor hom gestel; en hy het om sy nek geval en 'n lang tyd om sy nek geween. Toe sê Israel vir Josef: Laat my nou sterwe, aangesien ek jou aangesig gesien het, omdat jy nog lewe. Toe sê Josef aan sy broers en aan sy vader se huis: Ek sal optrek en Farao wys en vir hom sê: My broers en my vader se huis wat in die land Kanaän was, het na my gekom; En die manne is herders, want hulle ambag was om vee op te pas; en hulle het hulle kleinvee en hulle beeste en alles wat hulle het, gebring. En dit sal gebeur as Farao jou roep en sê: Wat is jou werk? dat julle moet sê: Die handel van U dienaars was van ons jeug af tot nou toe met vee, ons sowel as ons vaders, sodat julle in die land Gosen kan woon; want elke herder is vir die Egiptenaars 'n gruwel.

GENESIS 46:1-34 Die Boodskap (DB)

So het dit dan gebeur dat Israel en al sy mense met hulle besittings Kanaän verlaat en Egipte toe getrek het. Op pad het hy by Berseba verbygetrek, waar hy eers stilgehou en geoffer het. Hy het ’n offer gebring vir dieselfde God wat sy pa, Isak, aanbid het. Daardie nag by Berseba het God in ’n visioen met Israel gepraat. Hy het hom geroep: “Jakob, Jakob,” en Israel het geantwoord: “Hier is ek, Here.” God sê toe vir hom: “Ek is God, die God van jou pa, Isak. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek trek saam met jou Egipte toe en eendag sal Ek jou weer laat terugkom. Josef sal vir jou sorg en wanneer jy die dag doodgaan, sal hy jou oë toedruk.” Jakob-hulle is ’n dag of wat later uit Berseba weg. Die seuns het Jakob, asook al die vroue en kinders, in die mooi Egiptiese waens van die farao gelaai. Hulle het ook die veekuddes en al die besittings saamgevat wat hulle oor die jare in Kanaän bymekaargemaak het. Na ’n lang ruk het Jakob en al sy mense in Egipte aangekom. Saam met hom was nie net sy seuns nie, maar ook sy kleinseuns. So ook al sy dogters en kleindogters. Ja, Jakob het al sy kinders en sy hele familie Egipte toe geneem. Hier is die name van al Israel se kinders wat destyds saam met hom Egipte toe is. Daar was Jakob en sy oudste seun, Ruben, asook Ruben se seuns Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, seun van ’n Kanaänitiese vrou. Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari. Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het lank vantevore al in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Jasub en Simron. Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël. Dit is die seuns wat Lea destyds nog vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter, Dina, gehad. Hulle was altesaam 33. Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli. Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria en hulle suster, Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit is die seuns wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea gegee. Hulle was altesaam sestien. Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel. In Egipte is daar twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Potifera, priester van On, het hulle vir Josef in die wêreld gebring. Hulle was Manasse en Efraim. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit is die seuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Hulle was altesaam veertien. Dan en sy seun Sugam. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit is die seuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel gegee. Hulle was altesaam sewe. Afgesien van die vroue van Jakob se seuns was daar 66 afstammelinge van Jakob wat na Egipte toe is. In Egipte is daar reeds twee seuns vir Josef gebore. Jakob se afstammelinge was dus altesaam 70, en hulle was in Egipte. Toe hulle naby Gosen was, het Jakob Juda gestuur om vir Josef te sê hulle is op pad. Josef het dadelik sy wa ingespan en na sy pa toe gery. Josef was oorstelp van vreugde. Tussen die baie gesigte het hy sy pa s’n gesoek. Toe hy hom kry, het hy die ou man se lyf teen hom vasgedruk en hom gesoen. Josef het begin huil en lank met sy kop op Jakob se skouer gestaan. Vir Jakob was die ontmoeting amper te oorweldigend. Toe hy uiteindelik kon praat, het hy net gesê: “Nou kan ek maar sterf, want ek weet Josef leef - ek het hom gesien.” Josef het vir sy broers en sy hele familie gesê: “Ek gaan nou reguit na die farao toe om vir hom te vertel dat my familie uit Kanaän hier aangekom het. Ek wil vir hom sê my broers boer met kleinvee en hulle het al hulle vee en hulle besittings saamgebring. Wanneer die farao julle dan inroep en vra wat julle doen, moet julle vir hom sê: ‘Ons is veeboere. Van die vroegste tye af tot vandag toe was ons en ons voorouers veeboere.’ As die farao dit hoor, sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars hou niks van kleinveeboere nie.”

GENESIS 46:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jakob het met al sy besittings die reis na Egipte aangepak. Toe hy Berseba bereik, bring hy offers aan die God van Isak, sy pa. In die nag het God in ’n visioen met hom gepraat. “Jakob! Jakob!” het Hy geroep. “Ek luister,” antwoord Jakob. Toe sê God: “Ek is God, die God van jou pa. Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar tot ’n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, maar Ek sal julle weer terugbring. Wanneer jy sterf, sal Josef by jou wees om jou oë toe te druk.” Jakob het gereedgemaak om vanaf Berseba te vertrek, en sy seuns het hom na Egipte toe gebring. Hulle het hulle pa, hulle kinders en hulle vroue op die waens laat klim wat die farao saamgestuur het. Hulle het ook hulle lewende hawe en al die ander besittings wat hulle in Kanaän bymekaargemaak het, saamgeneem. So het Jakob en sy hele nageslag in Egipte aangekom: sy seuns en kleinseuns, sy dogters en kleindogters – sy hele familie. Dit is die name van die Israeliete, die nageslag van Jakob, wat saam met hom na Egipte toe gegaan het: Ruben, Jakob se oudste seun. Die seuns van Ruben was Ganok, Pallu, Gesron en Karmi. Simeon en sy seuns Jemuel, Jamin, Ohad, Jakin, Sogar en Saul, die seun van ’n Kanaänitiese vrou. Levi en sy seuns Gerson, Kehat en Merari. Juda en sy seuns Sela, Peres en Serag. Juda se ander seuns, Er en Onan, het al vroeër in Kanaän gesterf. Peres se seuns was Gesron en Gamul. Issaskar en sy seuns Tola, Puwwa, Job en Simron. Sebulon en sy seuns Sered, Elon en Jagleël. Dit is die 33 seuns en kleinseuns wat Lea vir Jakob in Paddan-Aram in die wêreld gebring het. Sy het ook ’n dogter Dina gehad. Gad en sy seuns Sifjon, Gaggi, Suni, Esbon, Eri, Arod en Areli. Aser en sy seuns Jimna, Jiswa, Jiswi en Beria, en hulle suster Serag. Die seuns van Beria was Geber en Malkiël. Dit is die sestien afstammelinge wat Silpa vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Silpa vir sy dogter Lea as slavin gegee. Josef en Benjamin was die seuns van Jakob se vrou Ragel. In Egipte is twee seuns vir Josef gebore. Asenat, dogter van Poti-Fera, priester van On, het aan hulle geboorte gegee. Hulle was Manasse en Efraim. Benjamin se seuns was Bela, Beker, Asbel, Gera, Naäman, Egi, Ros, Muppim, Guppim en Ard. Dit is die veertien seuns en kleinseuns wat Ragel vir Jakob in die wêreld gebring het. Dan en sy seun Sugam. Naftali en sy seuns Jagseël, Guni, Jeser en Sillem. Dit is die sewe seuns en kleinseuns wat Bilha vir Jakob in die wêreld gebring het. Laban het Bilha vir sy dogter Ragel as slavin gegee. Die getal direkte afstammelinge van Jakob wat saam met hom Egipte toe gegaan het, was 66, die vroue van die seuns uitgesluit. Josef het ook twee seuns gehad wat in Egipte gebore is. In totaal was daar dus 70 lede van Jakob se familie in Egipte. Jakob het Juda vooruit gestuur na Josef toe om hom te laat weet hy is op pad na Gosen toe. Nadat hulle daar aangekom het, het Josef sy wa laat inspan om sy pa in Gosen te gaan ontmoet. Toe hy by hom kom, het hy sy pa omhels en lank so op sy skouer gestaan en huil. Toe sê Jakob vir Josef: “Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe.” Josef sê vir sy broers en sy hele familie: “Ek gaan om vir Farao te vertel dat julle almal uit die land Kanaän aangekom het om saam met my te wees. Ek sal ook vir hom sê: ‘Hierdie mense boer met klein- en grootvee. Hulle het al hulle diere saamgebring en ook alles wat hulle besit.’ Wanneer Farao dan met julle praat en navraag doen na julle beroep, moet julle vir hom sê: ‘Ons was ons lewe lank veeboere, soos ons voorouers.’ As julle dit vir hom sê, sal hy julle hier in Gosen laat woon, want kleinveeboere word in Egipte verafsku.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid