Toe die nuus “Josef se broers het gekom!” die farao se paleis bereik, was dit goed in die oë van die farao en sy dienaars. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers, ‘Doen die volgende: Laai julle pakdiere en gaan dan na die land Kanaän. Kry julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe! Ek sal vir julle die beste deel van Egipteland gee, sodat julle die vettigheid van die land kan geniet.’ En jy self het die opdrag om vir hulle te sê, ‘Dit moet julle doen: Neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kinders en vroue, en gaan haal julle vader en kom! Moenie trane stort oor julle besittings nie, want die beste van die hele Egipteland sal daar wees vir julle.’ ” Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het hulle, volgens die opdrag van die farao, van waens voorsien. Hy het ook vir hulle padkos vir die reis gegee. Hy het aan hulle almal, elkeen van hulle, 'n bykomende stel klere gegee, maar vir Benjamin het hy driehonderd silwerstukke en vyf stelle klere gegee. Net so het hy vir sy vader tien donkiehingste gestuur, gelaai met van die beste produkte uit Egipte, en ook tien donkiemerries, gelaai met graan, brood en kosvoorraad vir sy vader vir die reis. So het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie bang wees op die pad nie.” Hulle het toe van Egipte af opgetrek en in die land Kanaän by hulle vader Jakob aangekom. Hulle het hom ingelig, “Josef leef nog!” en ook dat hy heers oor die hele Egipteland. Maar dit het hom koud gelaat, want hy het hulle nie geglo nie. Hulle dra toe aan hom al Josef se woorde oor wat hy vir hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom op te laai, het Jakob, hulle vader, se gemoed opgeflikker. Israel sê toe: “Genoeg! My seun Josef leef nog! Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”
Lees Genesis 45
Deel
Vergelyk alle weergawes: Genesis 45:16-28
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's