GENESIS 45:16-28

GENESIS 45:16-28 Die Boodskap (DB)

Gou het die goeie nuus van Josef se broers versprei en die farao het dit ook gehoor. Hy en al sy mense was baie bly daaroor. Die farao het Josef toe laat kom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou broers sê hulle moet die diere pak en reguit Kanaän toe gaan. Hulle moet jou pa en hulle families vat en sonder versuim na Egipte toe terugkom. Ek sal hulle die beste deel van die land gee. Daar kan hulle lekker bly en daar sal altyd volop kos vir almal wees.” Die farao het voortgegaan: “Jou broers moet ook van ons Egiptiese waens saamneem sodat hulle die vroue en kinders daarop kan laai. Jou pa moet hulle ook op ’n wa sit en dan gou terugkom. Al hulle besittings kan hulle maar daar los, want die beste van Egipte wag hier vir hulle.” Die broers het toe gemaak soos die farao gesê het. Josef het hulle die Egiptiese waens gegee asook genoeg kos vir die pad. Vir elke broer het Josef ook nuwe klere gegee. Benjamin het meer gekry. Josef het vir hom 300 stukke silwer gegee asook vyf pakke nuwe klere. En vir sy pa het Josef sommer ’n klomp goed gestuur: tien swaargelaaide donkies met die allermooiste goed uit Egipte. Op tien donkiemerries was daar genoeg graan, brood en ander kos vir sy pa se reis na Egipte. Josef het sy broers gegroet en vir hulle gesê: “Gaan nou reguit Kanaän toe en moenie op pad aan’t stry raak nie!” Die broers is daar weg en het die kortste pad Kanaän toe gevat. Hulle wou so gou moontlik by hulle pa, Jakob, uitkom. By die huis aangekom, het hulle dadelik vir Jakob gaan sê: “Pa, Josef leef nog! En hy is die man wat oor die hele Egipte regeer.” Jakob was stomgeslaan en wou hulle eers nie glo nie. Hulle moes hom toe alles oor en oor vertel. Toe hy al die waens sien wat Josef saamgestuur het om hom te kom haal, het hy hulle begin glo. En dit was of hy ’n nuwe mens geword het. Tot dié mate dat hy gesê het: “Ons het nou genoeg gepraat. My seun leef en ek wil hom nog sien voor ek sterf. Kom, laat ons onmiddellik Egipte toe gaan.”

GENESIS 45:16-28 Bybel vir almal (ABA)

Die mense in die farao se huis het hiervan gehoor en gesê: “Josef se broers het hiernatoe gekom.” Die farao en sy amptenare was bly daaroor. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers hulle moet in Egipte kom woon. Hulle moet hulle goed op hulle donkies laai. Hulle moet kos saamneem en eers teruggaan na Kanaän. Hulle moet hulle pa en hulle families gaan haal en dan na my toe kom. Ek sal vir hulle die beste plek in Egipte gee, en hulle sal hier lekker kan lewe. Jou broers moet waens uit Egipte saamneem vir hulle kinders en vroue. Hulle pa moet ook daarop ry en hiernatoe kom. Hulle moenie hartseer wees oor hulle goed wat daar sal agterbly nie, want hier sal hulle die beste kry wat hier in Egipte is.” Die seuns van Jakob het toe gedoen wat die farao gesê het. Josef het vir hulle waens gegee soos die farao gesê het, en ook padkos. Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy 300 stukke silwer en vyf maal meer klere gegee. Josef het tien donkies vir sy pa gestuur waarop hulle die beste goed van Egipte gelaai het, en ook tien donkie-merries met koring en brood en kos. Dit was padkos vir sy pa. Josef het sy broers teruggestuur na Kanaän en hy het vir hulle gesê: “Moenie vir mekaar kwaad word en stry op die pad nie.” Hulle het weggegaan uit Egipte en hulle het in Kanaän aangekom by hulle pa Jakob. Hulle het vir hom vertel dat Josef nog lewe en dat hy die hoof is oor die hele Egipte. Jakob het groot geskrik en hy was baie ontsteld. Hy het hulle nie geglo nie. Jakob se seuns het vir hulle pa alles vertel wat Josef gesê het. Toe Jakob die waens sien wat Josef vir hom gestuur het om op te ry, het hy opgewonde geword en gesê: “Ek is tevrede. My seun Josef lewe nog. Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”

GENESIS 45:16-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe die gerug in die huis van Farao gehoor word dat Josef se broers gekom het, was dit goed in die oë van Farao en van sy dienaars. En Farao het met Josef gespreek: Sê aan jou broers: Doen dit, laai julle diere en trek weg na die land Kanaän. En gaan haal julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe, dan sal ek julle die beste van Egipteland gee; en eet die vettigheid van die land. Jý kry dan bevel — doen dit: Neem vir julle uit Egipteland waens vir julle kinders en julle vroue, en vervoer julle vader en kom. En julle hoef geen spyt te hê oor julle huisraad nie, want die beste van die hele Egipteland is julle s'n. Die seuns van Israel het toe so gedoen; en Josef het vir hulle waens verskaf volgens die bevel van Farao en hulle padkos gegee vir die reis. Hy het aan hulle almal, man vir man, 'n stel nuwe klere gegee; maar aan Benjamin het hy driehonderd sikkels silwer en vyf stel nuwe klere gegee. En net so het hy ook aan sy vader gestuur tien esels, gelaai met die beste goed van Egipte, en tien eselinne, gelaai met koring en brood en voedsel vir sy vader op die reis. Daarop het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek; en hy het aan hulle gesê: Moenie vir mekaar kwaad word op die pad nie. En hulle het opgetrek uit Egipte en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob. Toe hulle hom vertel: Josef lewe nog — en dat hy regeerder is in die hele Egipteland — het sy hart beswyk, want hy het hulle nie geglo nie. Maar toe hulle hom al die woorde van Josef te kenne gee wat hy met hulle gespreek het, en hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van Jakob, hulle vader, lewendig geword. En Israel het gesê: Dit is genoeg! My seun Josef lewe nog! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterwe.

GENESIS 45:16-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die mense het dit in die farao se paleis gehoor en gesê: “Josef se broers het gekom.” Die farao en sy amptenare het dit goedgevind, en hy het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers: So moet julle nou optree: saal julle rydiere op en gaan na Kanaän toe. Kry julle vader en julle gesinne en kom hier na my toe. Ek sal julle die beste deel van Egipte gee en julle sal die room van die land geniet. Jy moet hulle beveel: So moet julle optree: vat vir julle uit Egipte waens saam vir julle kinders en vrouens en laat julle vader op 'n wa ry en kom hierheen. Moenie sleg voel oor wat julle nie kan saambring nie, want julle sal hier die beste kry van wat Egipte het.” Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het waens vir hulle saamgegee soos die farao beveel het. Josef het ook vir hulle padkos saamgegee. Hy het vir elkeen nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het hy vyf stelle nuwe klere en nog drie en 'n half kilogram silwer gegee. Vir sy pa het hy tien donkies gestuur waarop die beste ware van Egipte gelaai was en tien donkiemerries waarop die beste koring en graan en kos gelaai was. Dit moes dien as padkos vir sy pa. So het Josef sy broers teruggestuur, en by hulle vertrek het hy vir hulle gesê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.” Hulle is toe uit Egipte weg en het in Kanaän by hulle pa Jakob aangekom. Hulle het vir hom gesê: “Josef leef nog. Hy regeer oor die hele Egipte.” Jakob was stomgeslaan. Hy het hulle nie geglo nie. Toe vertel hulle vir hulle pa alles wat Josef vir hulle gesê het, en eers toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy begin belang stel. En hulle pa Israel het gesê: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.”

GENESIS 45:16-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die nuus “Josef se broers het gekom!” die farao se paleis bereik, was dit goed in die oë van die farao en sy dienaars. Die farao het vir Josef gesê: “Sê vir jou broers, ‘Doen die volgende: Laai julle pakdiere en gaan dan na die land Kanaän. Kry julle vader en julle huisgesinne en kom na my toe! Ek sal vir julle die beste deel van Egipteland gee, sodat julle die vettigheid van die land kan geniet.’ En jy self het die opdrag om vir hulle te sê, ‘Dit moet julle doen: Neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kinders en vroue, en gaan haal julle vader en kom! Moenie trane stort oor julle besittings nie, want die beste van die hele Egipteland sal daar wees vir julle.’ ” Die seuns van Israel het toe so gemaak. Josef het hulle, volgens die opdrag van die farao, van waens voorsien. Hy het ook vir hulle padkos vir die reis gegee. Hy het aan hulle almal, elkeen van hulle, 'n bykomende stel klere gegee, maar vir Benjamin het hy driehonderd silwerstukke en vyf stelle klere gegee. Net so het hy vir sy vader tien donkiehingste gestuur, gelaai met van die beste produkte uit Egipte, en ook tien donkiemerries, gelaai met graan, brood en kosvoorraad vir sy vader vir die reis. So het hy sy broers weggestuur, en hulle het vertrek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie bang wees op die pad nie.” Hulle het toe van Egipte af opgetrek en in die land Kanaän by hulle vader Jakob aangekom. Hulle het hom ingelig, “Josef leef nog!” en ook dat hy heers oor die hele Egipteland. Maar dit het hom koud gelaat, want hy het hulle nie geglo nie. Hulle dra toe aan hom al Josef se woorde oor wat hy vir hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom op te laai, het Jakob, hulle vader, se gemoed opgeflikker. Israel sê toe: “Genoeg! My seun Josef leef nog! Ek wil gaan en ek wil hom sien voordat ek sterf.”

GENESIS 45:16-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die gerug daarvan is in die huis van Farao gehoor en gesê: Josef se broers het gekom, en dit het Farao en sy dienaars goed behaag. Toe sê Farao vir Josef: Sê aan jou broers: Doen dit; laai julle vee op en gaan na die land Kanaän; En neem julle vader en julle huisgesinne en kom na My toe, en Ek sal julle die goeie van Egipteland gee, en julle sal die vet van die land eet. Nou is aan jou bevel gegee, doen dit; neem vir julle waens uit Egipteland vir julle kindertjies en vir julle vroue, en bring julle vader en kom. Ook nie ag op jou goed nie; want die goeie van die hele Egipteland behoort aan jou. En die kinders van Israel het so gedoen: en Josef het vir hulle waens gegee volgens die bevel van Farao, en vir hulle kos gegee vir die pad. Aan hulle almal het Hy aan elkeen ander klere gegee; maar aan Benjamin het hy drie honderd sikkels silwer en vyf onderklere gegee. En hy het op hierdie manier na sy vader gestuur; tien esels gelaai met die goeie dinge van Egipte, en tien esels gelaai met koring en brood en vleis vir sy vader op die pad. Hy het toe sy broers weggestuur, en hulle het weggetrek, en hy het vir hulle gesê: Pas op dat julle nie op die pad uitval nie. En hulle het uit Egipte opgetrek en in die land Kanaän aangekom by hulle vader Jakob. En hy het hom meegedeel en gesê: Josef leef nog, en hy is goewerneur oor die hele Egipteland. En Jakob se hart het beswyk, want hy het hulle nie geglo nie. En hulle het hom al die woorde van Josef vertel wat hy aan hulle gesê het; en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te vervoer, het die gees van hulle vader Jakob herleef. Toe sê Israel: Dit is genoeg; My seun Josef leef nog: Ek sal hom gaan sien voordat ek sterf.

GENESIS 45:16-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die nuus het die farao baie gou bereik: “Josef se broers het gekom!” Die farao en sy amptenare was baie bly om dit te hoor. Die farao sê vir Josef: “Sê vir jou broers om hulle donkies op te saal en terug te gaan na Kanaän toe en julle pa en hulle gesinne na my toe te bring. Sê vir hulle: ‘Farao sal die beste deel van Egipte aan julle gee. Van die room van die land sal julle geniet!’ Verder beveel ek jou dat hulle waens uit Egipte moet saamvat om daarop hulle vroue en kinders en hulle pa hierheen te bring. Julle moenie eers bekommerd wees oor die besittings wat julle agterlaat nie, want die beste van Egipte behoort aan julle.” Jakobse seuns het toe so gemaak. Josef het waens aan hulle verskaf soos die farao beveel het. Hy het ook vir hulle genoeg voorrade vir die reis gegee. Boonop het hy vir elkeen van hulle nuwe klere gegee. Benjamin het egter vyf stelle klere gekry en ook 300 stukke silwer. Vir sy pa stuur hy tien donkies saam, gelaai met die beste ware uit Egipte, en tien donkiemerries wat met graan en allerlei kos gelaai was as padkos vir sy pa. Hy het sy broers afgesien, en toe hulle vertrek, sê hy vir hulle: “Moenie langs die pad begin stry nie!” Hulle is daar weg en het by hulle pa, Jakob, in die land Kanaän aangekom. “Josef lewe nog!” sê hulle vir hom. “Hy is die heerser van die hele land Egipte!” Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie. Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom. Toe sê Jakob: “Dit moet waar wees! My seun Josef lewe regtig! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterf.”