Genesis 37:3-11

Genesis 37:3-11 AFR20

Israel was lief vir Josef, meer as vir al sy ander seuns, want hy was vir hom die seun van sy ouderdom. Hy het vir Josef 'n lang rok met moue gemaak. Sy broers het opgemerk dat hulle vader lief was vir hom, meer as vir al sy broers. Hulle het 'n weersin in hom gekry, en kon nie vriendelik met hom praat nie. Josef het 'n droom gehad, en hy het dit vir sy broers vertel. Hulle het toe 'n nog groter weersin in hom gekry. Hy het vir hulle gesê: “Luister asseblief na hierdie droom wat ek gehad het! Kyk, ons was besig om gerwe te bind in 'n stuk land, toe my gerf skielik regop kom en ook bly staan. En kyk, julle gerwe kom toe daar rondom myne saam en buig diep voor my gerf!” Sy broers het vir hom gesê: “Gaan jy regtig oor ons koning wees? Gaan jy regtig oor ons heers?” Hulle het toe 'n nog groter weersin in hom gekry weens sy drome en sy woorde. Hy het nog 'n ander droom gehad, en het dit vir sy broers vertel. Hy het gesê: “Ek het sowaar weer 'n droom gehad! Kyk, die son en die maan en elf sterre het diep voor my gebuig!” Toe hy dit vir sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom tereggewys en vir hom gesê: “Wat is hierdie droom wat jy gehad het? Moet ons, ek en jou ma en jou broers, regtig kom en teen die grond diep voor jou neerbuig?” Sy broers was afgunstig op hom, maar sy vader het die saak in gedagte gehou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid