GENESIS 37:3-11

GENESIS 37:3-11 NLV

Jakob het Josef liewer gehad as al sy ander kinders omdat hy gebore is toe Jakob reeds bejaard was. Hy gee toe vir Josef ’n besondere kleed. Maar sy broers het Josef gehaat omdat hulle pa vir Josef voorgetrek het. Hulle het geen vriendelike woord vir hom gehad nie. Een nag het Josef ’n droom gehad. Hy het dit vir sy broers vertel, waarna hulle hom nog meer gehaat het. “Kom luister na hierdie droom van my,” het hy gesê. “Ons was besig op die land om gerwe graan vas te bind. My gerf het regop gestaan, maar julle gerwe het rondom kom staan en laag voor myne gebuig!” “Gaan jy dan ons koning word, gaan jy nogal oor ons regeer?” spot sy broers. Ná die vertelling oor die droom het hulle hom nog meer gehaat. Daarna het Josef nog ’n droom gehad en hy vertel dit weer aan sy broers. “Luister na hierdie droom,” sê hy. “Die son, maan en elf sterre het voor my kom neerbuig!” Hierdie keer het hy dit vir sy pa en sy broers vertel. Sy pa het hom vermaan. “Watse soort goed droom jy?” het sy pa gevra. “Sal jou ma, jou broers en ek sowaar voor jou kom neerbuig?” Maar terwyl sy broers jaloers was op Josef, het sy pa tog daaroor nagedink en gewonder wat dit alles sou beteken.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid