Genesis 37:28-36

Genesis 37:28-36 AFR20

Toe die Midianitiese manne, die handelaars, daar verbykom, het hulle Josef opgetrek, hom uit die opgaarput gehaal en hom vir twintig silwerstukke aan die Ismaeliete verkoop, en dié het Josef na Egipte geneem. Toe Ruben terugkeer na die opgaarput, kyk, toe is Josef nie meer in die opgaarput nie. Hy het sy klere geskeur en na sy broers teruggegaan. Hy sê toe: “Die seun is nie daar nie! En ek, wat gaan ek nou doen? ” Hulle het Josef se rok geneem, 'n bokram geslag en die rok in die bloed gedoop. Toe stuur hulle die lang rok met moue vooruit en laat dit na hulle vader neem. Hulle het gesê: “Dit is wat ons gevind het. Stel tog vas: Is dit u seun se rok of nie?” Hy het dit herken en gesê: “Dit is my seun se rok! 'n Roofdier het hom opgevreet! Josef is sonder twyfel verskeur!” Jakob het sy klere geskeur en 'n roukleed om sy heupe gebind. Hy het baie lank oor sy seun gerou. Al sy seuns en dogters het opgestaan om hom te troos, maar hy het geweier om hom te laat troos en gesê: “Nee, al treurend sal ek na my seun in die •doderyk afgaan.” So het sy vader oor hom gehuil. Die Midianiete het hom in Egipte verkoop aan Potifar, 'n paleisamptenaar van die farao, en hoof van die lyfwag.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid