GENESIS 37:28-36

GENESIS 37:28-36 NLV

Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe. Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en gaan terug na sy broers toe en roep uit: “Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?” Josef se broers slag toe ’n bokkie en druk die kleed in sy bloed. Daarna stuur hulle die bloedbesmeerde kleed na hulle pa toe. “Ons het dit in die veld gekry,” sê hulle. “Is dit nie dalk Josef s’n nie?” Hulle pa het dit dadelik herken. “Ja,” sê hy. “Dit is my seun se kleed. Dis seker ’n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!” Toe skeur Jakob sy klere en trek rouklere aan. Hy het baie dae lank oor sy seun getreur. Sy gesin het hom probeer troos, maar dit het niks gehelp nie. “Ek sal al treurende oor my seun graf toe gaan!” het hy gesê. Hy was diep bedroef. Intussen het die handelaars Josef in Egipte aan Potifar verkoop, ’n beampte van die farao, die koning van Egipte. Potifar was die hoof van die farao se lyfwag.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid