Genesis 33:4-11

Genesis 33:4-11 AFR20

Esau het hom tegemoet gehardloop en hom omhels. Hy het hom om die nek geval en hom gesoen. Hulle het gehuil. Toe Esau rondkyk en die vroue en kinders sien, vra hy: “Wie is hierdie mense by jou?” Hy het geantwoord: “Dit is die kinders wat God uit genade vir u dienaar gegee het.” Die slavinne, hulle en hulle kinders, het nader gekom en diep gebuig. Ook Lea en haar kinders het nader gekom en diep gebuig. Daarna het Josef en Ragel nader gekom en diep gebuig. Esau vra toe: “Wat is jou bedoeling met hierdie hele leërskare wat ek teëgekom het?” Jakob het geantwoord: “Dit is om guns te vind in die oë van my heer.” Daarop sê Esau: “Ek het baie, my broer; wat joune is, moet joune bly.” Jakob het egter gesê: “Nee, asseblief! As ek guns gevind het in u oë, neem dan my geskenk uit my hand. Juis daarom kon ek u gesig sien, net soos 'n mens God se gesig sien – en u het my aanvaar. Aanvaar dan asseblief my geskenk wat vir u gebring is, want God was my genadig, en ek het alles.” Hy het by hom aangedring, en hy het dit toe aanvaar.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid