Genesis 31:3-18

Genesis 31:3-18 AFR20

Die HERE sê toe vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou voorouers en na jou familie. Ek sal met jou wees.” Jakob het Ragel en Lea ontbied na die veld toe, na sy kleinvee toe, en vir hulle gesê: “Ek sien aan julle pa se gesig dat hy nie meer teenoor my is soos gister en eergister nie. Maar die God van my vader was met my. Julle weet tog self dat ek met al my krag vir julle pa gewerk het. Maar julle pa het my vir die gek gehou en my vergoeding tien keer verander. God het hom egter nie toegelaat om my skade aan te doen nie. As hy sê, ‘Bontes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee bontes; en as hy weer sê, ‘Gestreeptes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee gestreeptes. God het julle pa se vee weggeneem en dit vir my gegee. In die tyd toe die kleinvee bronstig was, het ek in 'n droom rondgekyk en gesien: Kyk, die ramme wat die kleinvee dek, is gestreep en bont en gespikkel. Die •Engel van God het in die droom vir my gesê, ‘Jakob!’ en ek het geantwoord, ‘Hier is ek!’ Hy sê toe, ‘Kyk rond, dan sal jy sien dat al die ramme wat die kleinvee dek, gestreep, bont en gespikkel is. Ek het immers alles gesien wat Laban jou aandoen. Ek is die God van Bet-El, waar jy 'n gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte afgelê het. Maak nou gereed, trek weg uit hierdie land en keer terug na die land van jou herkoms.’ ” Ragel en Lea het daarop geantwoord en vir hom gesê: “Het ons nog enige aandeel aan of erfenis in die huis van ons pa? Is ons nie deur hom as vreemdes beskou nie? Want hy het ons verkoop, en ons koopprys ook volledig opgebruik. Ja, al die rykdom wat God van ons pa weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Daarom, alles wat God vir jou gesê het, doen dit!” Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid