GENESIS 31:3-18

GENESIS 31:3-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe sê die HERE vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou herkoms en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.” Jakob het vir Ragel en Lea na die veld toe laat kom waar sy kuddes was. Hy het daar vir hulle gesê: “Ek kom agter dat julle pa my nie meer soos voorheen behandel nie. Maar die God van mý pa was by my. Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het, maar hy het my bedrieg deur telkens die ooreenkoms met my te verander. God het egter nie toegelaat dat hy my benadeel nie. Wanneer hy sê die bont diere is myne, het die hele kudde bont lammers opgelewer. Wanneer hy van plan verander en sê ek kon die gestreepte diere kry, dan was al die lammers gestreep. Op hierdie manier het God my voorspoedig gemaak ten koste van julle pa. Gedurende die paartyd het ek ’n droom gehad en gesien dat die bokramme wat die ooie dek, gestreep, bont en gevlek was. In my droom sê die engel van God vir my: ‘Jakob!’ Ek het geantwoord: ‘Ja, hier is ek!’ Die engel sê toe: ‘Let op en jy sal sien net die gestreepte, bont en gevlekte ramme dek die ooie in die trop, want Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het. Ek is die God wat jy ontmoet het by Bet-El, die plek waar jy die olie op die klippilaar uitgegooi het en ’n eed geneem het dat jy My sal dien. Maak klaar om hierdie land te verlaat en na jou geboorteland toe terug te gaan.’” Ragel en Lea sê toe: “Ons stem saam! Hier is niks meer vir ons oor nie en ons sal niks van ons pa se rykdom erf nie. Hy het ons voorregte verminder tot dié van vreemdelinge. Hy het ons verkoop, en die geld opgebruik. Dit wat God van hom af weggevat en vir jou gegee het, is wetlik ons en ons kinders s’n. Doen gerus alles wat God vir jou gesê het.” Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai. Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan.

GENESIS 31:3-18 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Jakob gesê: “Gaan terug na die land waar jy gebore is en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.” Jakob het toe vir Ragel en Lea laat roep na die veld waar hy by sy skape en bokke was. En hy het vir hulle gesê: “Ek sien julle pa is nie meer so vriendelik met my soos voorheen nie, maar die God van my pa was by my. Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa, maar julle pa het my bedrieg en hy het elke maal my betaling verander, tien maal. Maar God het my beskerm teen sy skelm planne. Toe julle pa sê dat die skape en bokke met kolle my betaling sal wees, toe kry al die skape en bokke lammers met kolle. En toe hy sê dat die skape en bokke met strepe my betaling sal wees, toe kry die skape en bokke gestreepte lammers. So het die Here julle pa se diere weggevat en vir my gegee. In die tyd toe die skape en bokke gepaar het, het ek gedroom en gesien al die bok-ramme wat die ooie dek, het strepe of kolle. Ek het gedroom die Engel van God sê vir my: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’ Toe sê Hy: ‘Jy moet goed kyk: Al die bok-ramme wat met die ooie paar, het strepe of kolle. Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het. Ek is die God wat by Bet-El aan jou verskyn het. Jy het daar olyf-olie op die gedenksteen gegooi toe jy belowe het om My te dien. Maak nou gereed en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na die land waar jy gebore is.’ ” Ragel en Lea sê toe vir Jakob: “Ons sal niks van ons pa erf nie. Hy doen met ons soos hy doen met mense van ander volke. Hy het ons lank gelede aan jou verkoop en hy het die geld opgebruik. Al die goed wat God van ons pa weggevat het, behoort aan ons en aan ons kinders. Jy moet nou doen wat God vir jou gesê het.” Jakob het toe gegaan. Hy het sy kinders en sy vroue op kamele laat klim en hy het al sy diere saamgeneem, ook al sy goed wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het. Hy het na Kanaän gegaan, na sy pa Isak toe.

GENESIS 31:3-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En die HERE het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees. Toe stuur Jakob en laat Ragel en Lea veld toe roep na sy kleinvee en sê vir hulle: Ek sien dat die aangesig van julle vader teenoor my nie meer is soos gister en eergister nie, maar die God van my vader was met my. En julle weet self dat ek met al my krag julle vader gedien het; maar julle vader het my bedrieg: hy het my loon tien maal verander. Maar God het hom nie toegelaat om my skade aan te doen nie. As hy sê: Die gestippeldes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestippeldes. En as hy sê: Die gestreeptes sal jou loon wees, dan lam al die vee gestreeptes. So het God dan die vee van julle vader weggeneem en aan my gegee. Eenkeer, in die tyd toe die kleinvee verhit was, het ek my oë opgeslaan en in 'n droom gesien dat die bokramme wat die kleinvee dek, gestreep, gestippeld en bont was. En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen. Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland. Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Het ons nog deel of erfenis in die huis van ons vader? Word ons nie deur hom as vreemdelinge beskou nie? Want hy het ons verkoop en die geld wat deur ons verkry is, geheel en al deurgebring. Want al die rykdom wat God van ons vader weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Doen dan nou alles wat God jou gesê het. Toe maak Jakob hom klaar en laai sy kinders en sy vroue op die kamele, en hy voer al sy vee weg en al sy goed wat hy versamel het, die vee wat syne was, wat hy in Paddan-Aram versamel het, om te gaan na sy vader Isak in die land Kanaän.

GENESIS 31:3-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe sê die Here vir Jakob: “Gaan terug na jou vaderland, na jou familie toe. Ek sal by jou wees.” Toe laat Jakob vir Ragel en Lea veld toe roep, na sy kleinvee toe. Hy het vir hulle gesê: “Ek merk aan julle pa dat hy nie meer soos voorheen oor my voel nie. Maar die God van my vader was by my. Julle weet dat ek baie hard gewerk het vir julle pa. Tog het hy my bedrieg en my loon kort-kort verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te benadeel nie. Wanneer julle pa sê: ‘Die gestreepte kleinvee is jou loon,’ kry die hele trop gestreepte lammers, en wanneer hy sê: ‘Die gevlektes is jou loon,’ kry die hele trop gevlekte lammers. So het God die besitting van julle pa gevat en vir my gegee. “In die paartyd van die kleinvee het ek in 'n droom gesien dat die ramme waardeur die ooie gedek word, gevlek, gestreep en gespikkel is. “Die Engel van God het my in die droom geroep: ‘Jakob!’ en ek het geantwoord: ‘Hier is ek!’ “Toe sê Hy vir my: Kyk mooi: al die bokramme waardeur die ooie gedek word, is gevlek, gestreep en gespikkel. Ek het alles gesien wat Laban jou aangedoen het. Ek is die God van Bet-El waar jy olie op 'n klippilaar uitgegiet en 'n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.” Daarop het Ragel en Lea vir Jakob gesê: “Ons het nie meer enige aandeel aan ons vaderhuis nie. Ons word deur Pa as vreemdelinge beskou. Hy het ons verkoop en die geld opgebruik. Al die besittings wat God van hom afgevat het, is ons en ons kinders s'n. Doen dus gerus maar alles wat God vir jou gesê het.” Jakob het toe klaargemaak en sy vrouens en kinders op kamele laat klim, en hy het al sy vee saamgevat en ook al sy besittings wat hy in Paddan-Aram bymekaargemaak het, en na sy pa, na Isak toe vertrek in Kanaän.

GENESIS 31:3-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE sê toe vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou voorouers en na jou familie. Ek sal met jou wees.” Jakob het Ragel en Lea ontbied na die veld toe, na sy kleinvee toe, en vir hulle gesê: “Ek sien aan julle pa se gesig dat hy nie meer teenoor my is soos gister en eergister nie. Maar die God van my vader was met my. Julle weet tog self dat ek met al my krag vir julle pa gewerk het. Maar julle pa het my vir die gek gehou en my vergoeding tien keer verander. God het hom egter nie toegelaat om my skade aan te doen nie. As hy sê, ‘Bontes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee bontes; en as hy weer sê, ‘Gestreeptes sal jou loon wees,’ dan lam al die kleinvee gestreeptes. God het julle pa se vee weggeneem en dit vir my gegee. In die tyd toe die kleinvee bronstig was, het ek in 'n droom rondgekyk en gesien: Kyk, die ramme wat die kleinvee dek, is gestreep en bont en gespikkel. Die •Engel van God het in die droom vir my gesê, ‘Jakob!’ en ek het geantwoord, ‘Hier is ek!’ Hy sê toe, ‘Kyk rond, dan sal jy sien dat al die ramme wat die kleinvee dek, gestreep, bont en gespikkel is. Ek het immers alles gesien wat Laban jou aandoen. Ek is die God van Bet-El, waar jy 'n gedenksteen gesalf het, waar jy aan My 'n gelofte afgelê het. Maak nou gereed, trek weg uit hierdie land en keer terug na die land van jou herkoms.’ ” Ragel en Lea het daarop geantwoord en vir hom gesê: “Het ons nog enige aandeel aan of erfenis in die huis van ons pa? Is ons nie deur hom as vreemdes beskou nie? Want hy het ons verkoop, en ons koopprys ook volledig opgebruik. Ja, al die rykdom wat God van ons pa weggeneem het, kom ons en ons kinders toe. Daarom, alles wat God vir jou gesê het, doen dit!” Jakob het toe gereedgemaak, sy kinders en sy vroue op kamele getel en al sy vee aangejaag – al sy besittings wat hy bekom het, sy eie veestapel wat hy bekom het in Paddan-Aram – om na Isak, sy vader, na die land Kanaän te gaan.

GENESIS 31:3-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE vir Jakob: Keer terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal by jou wees. En Jakob gestuur om Ragel en Lea na die veld na sy kleinvee geroep. En hy sê vir hulle: Ek sien julle vader se aangesig, dat dit nie teenoor my is soos voorheen nie; maar die God van my vader was met my. En julle weet dat ek julle vader met al my krag gedien het. En julle vader het my bedrieg en my loon tien maal verander; maar God het hom toegelaat om my nie seer te maak nie. As hy so sê: Die gespikkelde sal jou loon wees; dan het al die vee gespikkeld gedra; en as hy so sê: Die gestreeptes sal jou loon wees; dan het al die beeste gestreep. So het God dan die vee van julle vader weggeneem en dit aan my gegee. En in die tyd dat die vee swanger geword het, het ek my oë opgeslaan en in 'n droom gesien, en kyk, die ramme wat op die vee gespring het, was gestreep, gespikkeld en geriffel. En die engel van God het in 'n droom met my gespreek en gesê: Jakob, en ek het gesê: Hier is ek. Toe sê hy: Slaan tog jou oë op en kyk, al die ramme wat op die vee spring, is gestreep, gespikkeld en geriffel, want ek het alles gesien wat Laban aan jou doen. Ek is die God van Bet-el, waar jy die gedenksteen gesalf het en waar jy 'n gelofte aan My gedoen het; staan nou op, gaan uit hierdie land en keer terug na die land van jou familie. Toe antwoord Ragel en Lea en sê vir hom: Is daar nog 'n deel of erfdeel vir ons in die huis van ons vader? Word ons nie van hom as vreemdelinge gereken nie? want Hy het ons verkoop en ook ons geld heeltemal opgeëet. Want al die rykdom wat God van ons vader geneem het, dit is ons s'n en ons kinders; doen dan nou alles wat God vir jou gesê het. Toe het Jakob opgestaan en sy seuns en sy vroue op kamele laat sit; En hy het al sy vee en al sy besittings wat hy gekry het, die vee van sy verkryging wat hy in Paddan-Aram gekry het, weggevoer om na sy vader Isak te gaan in die land Kanaän.

GENESIS 31:3-18 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir hom gesê: “Jakob, gaan huis toe. Gaan terug na die land van jou pa waar jy gebore is. Ek sal by jou wees.” Toe Jakob op ’n keer met sy vee in die veld was, het hy Ragel en Lea na hom toe laat kom. Daar in die veld het hy vir hulle gesê: “Julle pa se houding het verander. Hy is nie meer so vriendelik teenoor my soos vroeër nie. Gelukkig is die God van my pa nog by my. Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het. En tog het hy my gekul. Oor en oor. Hy het my loon voortdurend verander. Maar God het hom nie toegelaat om my te breek nie, want elke keer as Laban gesê het: ‘Die diere met spikkels is jou loon,’ is daar net gespikkeldes gebore. En as hy gesê het: ‘Die gestreepte diere is jou loon,’ was daar net gestreeptes. So het God julle pa se diere weggeneem en dit vir my gegee.” Jakob het verder vertel: “Eendag, dit was in die paartyd, het ek ’n droom gehad. Ek het gesien hoe gespikkelde, gestreepte en gevlekte bokramme met die ooie paar. Al die lammetjies wat gebore sou word, sou ook gespikkel, gestreep en gevlek wees. “En terwyl ek nog so droom, roep die Engel van God my: ‘Jakob.’ Ek het geantwoord: ‘Hier is ek.’ “Die Engel het voortgegaan: ‘Ek het dit ook gesien. Al die ramme tydens paartyd was gespikkel, gestreep en gevlek. Alles wat Laban oor die jare aan jou gedoen het, het Ek raakgesien. Jakob, Ek is die God van Bet-El. Daar het jy lank gelede ’n klip regop gesit, olie daaroor uitgegooi en toe ’n gelofte aan My gemaak. Los nou hierdie land en sy mense en gaan terug na die plek waar jy gebore is.’” Toe Ragel en Lea alles gehoor het, het hulle gesê: “Is ons nog deel van ons pa en sy familie? Wag daar vir ons nog ’n erfporsie? Of het ons pa ons al lankal eenkant toe gestoot? Hy het ons ook besteel. Hy het ons geld gevat en ons deel van die bruidskat vir hom geneem. Al ons pa se rykdom wat God teruggeneem het, is eintlik ons en ons kinders s’n.” Ragel en Lea het toe vir Jakob gesê: “Doen wat God vir jou gesê het om te doen.” Jakob het al sy vee bymekaargemaak en die troppe begin aanjaag. Sy vroue en kinders het hy op kamele gesit en hulle saam met die vee gestuur. Alles wat Jakob oor die jare in Paddan-Aram versamel het, het hy weggestuur. En so was Jakob weer op pad, die keer na Kanaän, waar sy pa, Isak, gewoon het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid