GENESIS 31:3-18

GENESIS 31:3-18 NLV

Toe sê die HERE vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou herkoms en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.” Jakob het vir Ragel en Lea na die veld toe laat kom waar sy kuddes was. Hy het daar vir hulle gesê: “Ek kom agter dat julle pa my nie meer soos voorheen behandel nie. Maar die God van mý pa was by my. Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het, maar hy het my bedrieg deur telkens die ooreenkoms met my te verander. God het egter nie toegelaat dat hy my benadeel nie. Wanneer hy sê die bont diere is myne, het die hele kudde bont lammers opgelewer. Wanneer hy van plan verander en sê ek kon die gestreepte diere kry, dan was al die lammers gestreep. Op hierdie manier het God my voorspoedig gemaak ten koste van julle pa. Gedurende die paartyd het ek ’n droom gehad en gesien dat die bokramme wat die ooie dek, gestreep, bont en gevlek was. In my droom sê die engel van God vir my: ‘Jakob!’ Ek het geantwoord: ‘Ja, hier is ek!’ Die engel sê toe: ‘Let op en jy sal sien net die gestreepte, bont en gevlekte ramme dek die ooie in die trop, want Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het. Ek is die God wat jy ontmoet het by Bet-El, die plek waar jy die olie op die klippilaar uitgegooi het en ’n eed geneem het dat jy My sal dien. Maak klaar om hierdie land te verlaat en na jou geboorteland toe terug te gaan.’” Ragel en Lea sê toe: “Ons stem saam! Hier is niks meer vir ons oor nie en ons sal niks van ons pa se rykdom erf nie. Hy het ons voorregte verminder tot dié van vreemdelinge. Hy het ons verkoop, en die geld opgebruik. Dit wat God van hom af weggevat en vir jou gegee het, is wetlik ons en ons kinders s’n. Doen gerus alles wat God vir jou gesê het.” Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai. Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid