Genesis 3:20-24

Genesis 3:20-24 AFR20

Die mens het sy vrou “Eva” genoem, want sy is die een wat die moeder geword het van almal wat lewe. Die HERE God het daarna vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en dit vir hulle aangetrek. Toe sê die HERE God: “Kyk, die mens het soos een van Ons geword deur goed en kwaad te ken. Nou moet hy net nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en vir altyd bly lewe nie. ” Die HERE God het hom toe weggestuur uit die tuin van Eden om die grond waaruit hy geneem is, te gaan bewerk. Hy het die mens uitgedryf en aan die oostekant van die tuin van Eden gerubs laat woon, met 'n flikkerende swaard wat heen en weer beweeg, om die pad na die boom van die lewe te bewaak.

Video vir Genesis 3:20-24