Genesis 29:14-30

Genesis 29:14-30 AFR20

Laban sê toe vir hom: “Jy is beslis my vlees en bloed. ” Hy het 'n volle maand by hom gebly. Daarna sê Laban vir Jakob: “Is dit omdat jy bloedfamilie is dat jy verniet vir my moet werk? Sê vir my wat jou vergoeding moet wees.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste se naam was Lea en die jongste se naam was Ragel. Lea se oë was dof, maar Ragel het 'n mooi voorkoms gehad; sy was beeldskoon. Jakob was verlief op Ragel; hy sê toe: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir Ragel, u jongste dogter.” Laban het geantwoord: “Dit is beter as ek haar vir jou gee as dat ek haar vir 'n ander man gee. Bly by my!” Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel. In sy oë was dit soos 'n paar dae, want hy was lief vir haar. Jakob sê toe vir Laban: “Gee my vrou, want my dienstyd is voltooi. Ek wil by haar ingaan. ” Laban het al die manne van die omgewing byeengebring en 'n feesmaal gehou. Toe dit aand word, het hy sy dogter Lea geneem en haar vir Jakob gebring. Hy het toe by haar ingegaan. (Laban het vir haar, vir sy dogter Lea, sy slavin Silpa as slavin gegee.) Toe dit oggend word, toe is dit Lea! Hy het vir Laban gesê: “Wat het u my aangedoen? Was dit nie vir Ragel wat ek vir u gewerk het nie? Waarom het u my mislei?” Laban het geantwoord: “Dit word nie hier by ons so gedoen nie – om die jongste dogter voor die eersgeborene af te gee nie. Voltooi hierdie een se week, dan gee ons vir jou ook die ander een vir die diens wat jy by my sal lewer vir 'n verdere sewe jaar.” Jakob het toe so gemaak. Hy het die week met haar voltooi. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. Laban het sy slavin Bilha aan sy dogter Ragel as slavin vir haar gegee. Jakob het ook by Ragel ingegaan. Hy het dan ook vir Ragel meer liefgehad as vir Lea. So het hy 'n verdere sewe jaar by Laban gewerk.

Video for Genesis 29:14-30