GENESIS 29:14-30

GENESIS 29:14-30 Die Boodskap (DB)

Jakob het vir Laban ook weer alles oor en oor vertel. Later het Laban vir hom gesê: “Jakob, jy is deel van my bloed en van my familie. Bly hier!” Jakob het ’n maand lank by sy oom gebly. Na ’n maand het Laban vir Jakob gesê: “Al is jy deel van ons, gaan jy nie verniet vir my werk nie. Hoeveel moet ek jou ’n maand betaal? Maak jou sommetjies en sê my dan.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het baie mooi oë gehad, maar Ragel, die jongste, was baie mooi. Jakob het verlief geraak op Ragel en daarom het hy vir Laban gesê: “Oom hoef my nie te betaal nie. Ek sal vir Oom se jongste dogter, vir Ragel, werk. Sewe jaar lank sal ek vir haar werk en dan moet sy my vrou word.” “Goed dan,” het Laban gesê. “Jy bly hier by my en jy werk sewe jaar lank vir Ragel. Dit is beter dat jy haar kry as die een of ander kêrel wat nie deel van ons is nie.” So het Jakob vir Ragel gewerk. Sewe jaar lank! En dit was glad nie eens vir hom moeilik nie. Dit het soos ’n paar dae gevoel, want hy was baie lief vir Ragel. Op ’n dag het Jakob vir Laban gesê: “My sewe jaar is verby. Gee Ragel asseblief vir my sodat ek by haar kan gaan slaap.” Laban het toe ’n groot fees gehou en al die mense van die dorp genooi. Laataand het Laban vir Lea, sy oudste, gevat en haar na Jakob toe gebring. Sy het ’n sluier om haar gehad en Jakob het haar nie herken nie. Dié nag het Jakob toe by Lea geslaap. Laban het die nag sommer ook sy slavin Silpa gevat en haar vir Lea gegee. Teen dagbreek het Jakob ontdek hy is bedrieg. Langs hom was Lea en nie Ragel nie. Woedend het hy Laban toegesnou: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het sewe jaar vir jou gewerk sodat ek Ragel kon kry en toe bedrieg jy my. Hoekom het jy dit gedoen?” Kom nou, kom nou,” het Laban gesê. “Hier by ons gebeur dinge anders. Hier trou ’n mens eers met die oudste dogter en dan met die jongste. Vier tog hierdie week die huweliksfees saam met ons, dan sal ek Ragel ook vir jou gee. Ek beloof jou, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.” Jakob het ingestem. ’n Week lank het hy die huweliksfees gevier. Aan die einde van die feestyd het Laban toe Ragel vir hom as vrou gegee. Laban het toe sy slavin Bilha vir Ragel gegee. Jakob het by Ragel geslaap en hy was baie lief vir haar. Hy het haar liewer gehad as vir Lea. En hy het nog sewe jaar vir Laban gewerk.

GENESIS 29:14-30 Bybel vir almal (ABA)

Laban het vir hom gesê: “Ons is familie.” Jakob het 'n maand lank by hom gebly. Toe sê Laban vir Jakob: “Jy is familie van my, maar jy moenie vir my verniet werk nie. Sê vir my wat ek jou moet betaal.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste dogter was Lea, en die jongste was Ragel. Lea se oë was nie mooi nie, maar Ragel was 'n baie mooi vrou. Jakob het verlief geraak op Ragel. Hy sê toe vir Laban: “Ek sal sewe jaar vir jou werk om jou jongste dogter Ragel te kry.” Laban het gesê: “Goed. Dit is beter dat ek haar vir jóú gee as vir 'n ander man. Jy mag hier by my woon.” Jakob het sewe jaar lank gewerk om Ragel te kry, maar dit het vir hom so kort gevoel soos 'n paar dae, want hy was baie lief vir haar. Ná die sewe jaar sê Jakob vir Laban: “Gee nou my vrou vir my, want die sewe jaar is verby en ek wil met haar trou.” Laban het al die mense van daardie plek bymekaargemaak en hulle het 'n groot fees gehou. Maar daardie aand het Laban sy dogter Lea vir Jakob gegee. Jakob het seks gehad met Lea. Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea gegee. Die volgende oggend het Jakob gesien dit is Lea wat sy vrou geword het. Toe sê hy vir Laban: “Wat het jy aan my gedoen? Ek het by jou gewerk om vir Ragel te kry. Hoekom het jy my bedrieg?” Toe sê Laban: “Hier by ons laat ons nie die jongste dogter voor die oudste trou nie. Wanneer hierdie week verby is, dan sal ek my jongste dogter ook vir jou gee, maar dan moet jy nog sewe jaar vir my werk.” Jakob het gedoen wat Laban gevra het. Jakob het gewag totdat die week verby was. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir Jakob en sy het ook Jakob se vrou geword. Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel gegee. Jakob het ook met Ragel seks gehad, en hy was meer lief vir Ragel as vir Lea. Hy het nog sewe jaar lank vir Laban gewerk.

GENESIS 29:14-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Toe sê Laban vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het by hom 'n volle maand gebly. Daarop het Laban aan Jakob gevra: Sou jy my verniet dien, omdat jy my broer is? Sê my wat jou loon moet wees. En Laban het twee dogters gehad — die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste Ragel. En Lea het dowwe oë gehad, maar Ragel was skoon van gestalte en mooi van aansien. En Jakob het Ragel liefgehad, daarom het hy gesê: Ek sal u sewe jaar dien vir Ragel, u jongste dogter. Toe antwoord Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan 'n ander man gee. Bly by my. So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos 'n paar dae, omdat hy haar liefgehad het. Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en 'n maaltyd berei. Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. En Laban het aan haar sy slavin Silpa gegee, naamlik aan sy dogter Lea, as slavin. En die anderdagmôre — daar was dit Lea! Daarom het hy aan Laban gesê: Wat het u my nou aangedoen? Was ek nie vir Ragel by u in diens nie? Waarom het u my dan bedrieg? En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring. En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou. En Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee as slavin vir haar. En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens.

GENESIS 29:14-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Laban het geantwoord: “Dis reg. Jy is bloedfamilie!” Nadat Jakob 'n maand lank by hom gebly het, het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.” Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.” Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos 'n paar dae, want hy het haar liefgehad. Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.” Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee. Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?” Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat 'n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.” Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee. Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

GENESIS 29:14-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Laban sê toe vir hom: “Jy is beslis my vlees en bloed. ” Hy het 'n volle maand by hom gebly. Daarna sê Laban vir Jakob: “Is dit omdat jy bloedfamilie is dat jy verniet vir my moet werk? Sê vir my wat jou vergoeding moet wees.” Laban het twee dogters gehad. Die oudste se naam was Lea en die jongste se naam was Ragel. Lea se oë was dof, maar Ragel het 'n mooi voorkoms gehad; sy was beeldskoon. Jakob was verlief op Ragel; hy sê toe: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir Ragel, u jongste dogter.” Laban het geantwoord: “Dit is beter as ek haar vir jou gee as dat ek haar vir 'n ander man gee. Bly by my!” Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel. In sy oë was dit soos 'n paar dae, want hy was lief vir haar. Jakob sê toe vir Laban: “Gee my vrou, want my dienstyd is voltooi. Ek wil by haar ingaan. ” Laban het al die manne van die omgewing byeengebring en 'n feesmaal gehou. Toe dit aand word, het hy sy dogter Lea geneem en haar vir Jakob gebring. Hy het toe by haar ingegaan. (Laban het vir haar, vir sy dogter Lea, sy slavin Silpa as slavin gegee.) Toe dit oggend word, toe is dit Lea! Hy het vir Laban gesê: “Wat het u my aangedoen? Was dit nie vir Ragel wat ek vir u gewerk het nie? Waarom het u my mislei?” Laban het geantwoord: “Dit word nie hier by ons so gedoen nie – om die jongste dogter voor die eersgeborene af te gee nie. Voltooi hierdie een se week, dan gee ons vir jou ook die ander een vir die diens wat jy by my sal lewer vir 'n verdere sewe jaar.” Jakob het toe so gemaak. Hy het die week met haar voltooi. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou. Laban het sy slavin Bilha aan sy dogter Ragel as slavin vir haar gegee. Jakob het ook by Ragel ingegaan. Hy het dan ook vir Ragel meer liefgehad as vir Lea. So het hy 'n verdere sewe jaar by Laban gewerk.

GENESIS 29:14-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Laban sê vir hom: Waarlik, jy is my been en my vlees. En hy het 'n maand lank by hom gebly. Laban sê vir Jakob: Omdat jy my broer is, moet jy my dan verniet dien? sê vir my, wat sal jou loon wees? Laban het twee dogters gehad: die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste was Ragel. Lea het teer oë gehad; maar Ragel was pragtig en goed begunstig. Jakob het Ragel liefgehad; en gesê: Ek sal jou sewe jaar dien vir jou jongste dogter Ragel. Daarop sê Laban: Dit is beter dat ek haar aan jou gee as dat ek haar aan 'n ander man gee; bly by my. En Jakob het sewe jaar vir Ragel gedien; en dit het vir hom net 'n paar dae gelyk, vanweë die liefde wat hy vir haar gehad het. Toe sê Jakob vir Laban: Gee my vrou, want my dae is vervul, dat ek by haar kan ingaan. En Laban het al die manne van die plek bymekaar laat kom en 'n feesmaal berei. Teen die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan. Laban het aan sy dogter Lea, sy slavin Silpa, as slavin gegee. En dit het gebeur dat toe die môre kom, sien hy dit was Lea, en hy het vir Laban gesê: Wat het jy dit aan my gedoen? het ek nie saam met jou vir Ragel gedien nie? waarom het jy my dan bedrieg? Toe sê Laban: So moet dit nie in ons land gedoen word om die jongste voor die eersgeborene te gee nie. Voltooi haar week, en ons sal dit ook vir jou gee vir die diens wat jy nog sewe jaar saam met my moet dien. En Jakob het so gedoen en haar week volbring, en hy het sy dogter Ragel ook aan hom as vrou gegee. Laban het aan sy dogter Ragel sy slavin Bilha gegee om haar slavin te wees. Hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea, en nog sewe jaar by hom gedien.

GENESIS 29:14-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Dink net,” roep Laban uit. “Jy is my eie bloedfamilie!” Na hy ongeveer ’n maand lank by hom gebly het, sê Laban vir hom: “Jy hoef darem nie verniet vir my te werk net omdat ons familie is nie. Wat wil jy as betaling hê?” Laban het twee dogters gehad. Lea was die oudste en Ragel die jongste. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was baie aantreklik en het ’n pragtige figuur gehad. Jakob was verlief op Ragel. Daarom sê hy: “Ek sal sewe jaar werk om Ragel, die jongste dogter, as vrou te kry.” “Afgespreek!” sê Laban. “Ek sal haar eerder vir jou gee as vir iemand buite die familiekring. Bly by ons.” Jakob het toe sewe jaar gewerk om Ragel as vrou te kry. Maar hy het haar so liefgehad dat dit vir hom soos ’n paar dae was. Toe die tyd verby was, sê Jakob vir Laban: “Ek het my deel van die ooreenkoms nagekom. Gee haar nou vir my sodat ons kan trou.” Laban nooi toe almal in die omgewing uit om saam die bruilof te kom vier. Maar daardie nag, toe dit donker was, neem Laban vir Lea na Jakob toe; en hy het by haar geslaap. Laban het Silpa as persoonlike slavin vir Lea gegee. Toe Jakob die volgende oggend wakker word, sien hy met skok dis Lea! “U het my bedrieg!” sê Jakob vir Laban. “Ek het sewe jaar lank vir u gewerk om Ragel te kry! Hoekom het u my verkul?” “Dis nie ons gebruik dat ’n jonger dogter voor die oudste een trou nie,” antwoord Laban. “Wag totdat die huweliksweek verby is, dan gee ek Ragel ook vir jou op voorwaarde dat jy nog ’n verdere sewe jaar vir my werk.” Jakob het ingestem. ’n Week na die huwelik met Lea het Laban ook Ragel as vrou vir hom gegee. Laban het Bilha as persoonlike slavin vir Ragel gegee. Jakob het toe ook by Ragel gaan slaap. Hy het haar baie liewer gehad as vir Lea en nog ’n verdere sewe jaar vir Laban gewerk.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid