Genesis 28:1-16

Genesis 28:1-16 AFR20

Isak het Jakob geroep en hom geseën. Hy het hom opdrag gegee en vir hom gesê: “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie. Maak gereed, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Betuel, jou ma se pa, en bring vir jou daarvandaan 'n vrou uit die dogters van Laban, jou ma se broer. Mag God, die Almagtige, jou seën, jou vrugbaar en talryk maak, sodat jy 'n skare van volke word. Mag Hy vir jou die seën van Abraham gee, vir jou en jou nageslag saam met jou, sodat jy die land waar jy as •vreemdeling woon, in besit kan neem – die land wat God vir Abraham gegee het.” So het Isak vir Jakob weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, seun van Betuel, die Arameër, die broer van Rebekka, Jakob en Esau se moeder. Esau het besef dat Isak vir Jakob geseën en hom na Paddan-Aram gestuur het om vir hom daarvandaan 'n vrou te bring, en dat Isak, toe hy hom geseën het, hom beveel het, “Jy mag nie 'n vrou uit die Kanaänitiese vroue neem nie,” en dat Jakob na sy vader en moeder geluister en na Paddan-Aram gegaan het. So het Esau besef dat die Kanaänitiese vroue sleg was in Isak, sy vader, se oë. Esau het toe na Ismael gegaan en by die vroue wat hy reeds gehad het, ook Magalat, die dogter van Ismael, seun van Abraham, en suster van Nebajot, vir hom as vrou geneem. Jakob het uit Berseba vertrek en na Haran gegaan. Hy kom toe by 'n plek en oornag daar, want die son was al onder. Hy het een van die klippe van die plek geneem, dit as sy kopstut neergesit en op daardie plek gaan lê. Hy droom toe: Kyk, daar is trappe wat op die aarde staan, waarvan die bopunt na die hemel reik. Daar was boodskappers van God wat daarlangs op- en afgaan! En kyk, die HERE staan bo-aan die trappe en sê: “Ek is die HERE, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die HERE is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid